Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Witboy in Afrika
Witboy in Afrika
Witboy in Afrika
Ebook255 pages4 hours

Witboy in Afrika

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Stadsjapie Deon Maas besluit om te vlug uit die voorstede en Afrika in te vaar. Oor ’n tydperk van 15 jaar onderneem hy reise na verskeie lande noord van die Limpopo om te ontdek wat dit beteken om ’n Afrikaan te wees.Hy beland gereeld in die moeilikheid, maar danksy sy vlymskerp humorsin omskep hy enige taai situasie gou in ’n opwindende avontuur. Soos die aand wat hy saam met olie-diewe in Nigerië deurbring en die keer toe hy tydens sy wittebrood van seerowers in Madagaskar moes vlug. Maar dit is ook vir hom belangrik om die plaaslike mense te leer ken en iets te wete te kom van ’n vreemde land se geskiedenis en veral sy musiek. Deon is allesbehalwe jou gemiddelde toeris – kleurvolle karakters en ongewone ervarings is alles deel daarvan om Afrika op die Maas-manier te beleef.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9781920323592
Witboy in Afrika
Author

Deon Maas

Deon Maas is 'n skrywer (Witboy in Afrika en nou Melk die heilige koeie), maker van dokumentêre films (Punk in Africa en Who Killed Johannes Kerkorrel?) en 'n televisievervaardiger (Jam Sandwich en Fortuinsoekers). Hy word somtyds daarvan beskuldig dat hy 'n moffie, daggaroker of kommunis is. Hy is wel skuldig aan van dié aantygings. Hy is getroud met Veda ('n vrou) en woon in Johannesburg saam met haar, Watson ('n blinde Scotty) en verskeie ander honde wat elkeen hul eie hang-ups het. Hy hang graag op Facebook uit. https://www.facebook.com/deon.maas.5

Related to Witboy in Afrika

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Witboy in Afrika

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Witboy in Afrika - Deon Maas

    cover_afr.jpg

    Deon Maas vaar Afrika in en beland in situasies wat partykeer raar, soms gevaarlik, maar meestal skreeusnaaks is. Die uitgesproke rubriekskrywer en dokumentêre filmmaker reis onder meer na Nigerië om ’n werklikheidstelevisiereeks te help vervaardig. Hier beland hy in die geselskap van ’n groep oliediewe en ’n plaaslike hoofman wat ly aan grootheidswaan. Waar ’n bedwelmde soldaat sorg vir ’n noue ontkoming in die ooste van die DRK, raak Deon in Madagskar weer met seerowers deurmekaar.

    Deon Maas is reg vir Afrika, maar is Afrika gereed vir Deon Maas? Gord jou vas en maak gereed vir ’n wilde rit.

    Oor die skrywer:

    Deon Maas, ’n voormalige algemene bestuurder by Gallo Records, het bekendheid verwerf as spitsvondige beoordelaar van die Afrikaanse Idols op kykNET en as rubriekskrywer vir die Afrikaanse dagblaaie. Hy was ook die aanbieder van die musiekprogram Maas op Maandag op radiosondergrense. Deon besit sy eie media-konsultasiemaatskappy Meerkat Media en vervaardig dokumentêre programme wanneer hy nie skryf nie.

    Vir Gerrad en Axl omdat ek nooit daar was nie

    en vir Veda omdat sy was …

    en vir die rots in my lewe, Gerrit.

    deon_scooter.jpg

    EK SIT OP die oomblik kruisbeen op die vloer van die vertreklokaal van die Murtalla Mohammed-lughawe in Lagos. Daar is twee restaurante weerskante van my.

    Links is die duur restaurant met Franse broodjies en perfek gemaakte cappuccino’s (wel, perfek vir Nigerië). Op ’n grootskermtelevisie word ’n Europese sokkerwedstryd sonder klank gespeel. Die restaurant is vol mense wat alleen by tafels sit en wag vir vlugte na ander dele van die wêreld soos Frankryk, Skotland, Libanon, die VSA …

    In die goedkoop eetplek met die plastiekstoele aan my regterkant hoor jy meer Afrikaans as in ’n Johannesburgse restaurant. Daar sit meestal wit ouens wat waarskynlik weens regstellende aksie gedwing is om hul dienste in ander Afrika-lande te gaan verkoop. Uit wat ek kan aflei, was dit vir baie van hulle hul eerste besoek aan Nigerië. Nou ruil hulle stories uit oor hul ervarings. Hulle het mekaar nog nooit ontmoet nie, maar Afrikaans is die aanknopingspunt. Onder hulle is ingenieurs, boere, olieboorduikers en dan natuurlik ek, wat daar was om ’n televisieprogram te maak.

    Almal wil altyd vir Afrika probeer help, maar dikwels kry hulle net mooi die teenoorgestelde reg. Soos die tipiese BBC-korrespondent wat ’n topverkoper skryf oor een of ander Afrikaland waarin hy netjies uiteensit wat alles verkeerd is en hoe dit beter gemaak kan word. Dít nadat hy ses maande daar gewerk het. Of Madonna wat Malawi invaar soos ’n moderne slawehandelaar, die mooiste enetjie kies en hom dan saamvat huis toe.

    Met hierdie boek probeer ek nie om in enige BBC-korrespondent se voetspore te volg of een of ander groot, nuwe insig oor Afrika te deel nie. Ná meer as ’n dekade se reise op die kontinent kon ek net nie meer mooi onthou watter stories ek al vir watter vriende vertel het nie. Ek het gedink dis dalk ’n goeie plan om al my wedervaringe in een boek saam te voeg.

    Soos ek begin skryf het, het die boek egter ’n ekstra dimensie begin aanneem wat my laat dink het miskien gaan Afrika my nog help. Ek het my aan die dink gekry oor identiteit en ras. Deur al my reise heen het ek geleer dié twee konsepte is van groot belang in Afrika, ongeag in watter land jy jou bevind of die opvoeding- of inkomstevlak van die mense wat jy ontmoet. Ek het begin wonder of ek as wit Afrikaanssprekende myself ook as ’n Afrikaan kan beskryf.

    Ek het toe ook afgekom op Elsa Joubert se boek Die Staf van Monomotapa (1964), wat handel oor haar soeke na ’n mitiese koninkryk in Mosambiek. ’n Deurlopende tema is haar ervaring as ’n wit mens in swart Afrika. Ek het besef dat ek nie die eerste persoon is wat hierdie vrae gehad het nie.

    Daar was ook ’n ander rede waarom ek die boek geskryf het. Ek het uit die bloute ’n aanbod van Kerneels Breytenbach, toe nog publikasiehoof van NB-Uitgewers, gekry en soos enige goeie Calvinis (wel, gewese in my geval) het ek baie respek vir ouer mans met baarde. Tweedens het ek uiteindelik ’n redakteur gekry in die persoon van Annie Olivier, wat verstaan wat ek probeer sê en nie my taal en my styl probeer verander nie. Ek en die oom by Rooi Rose wat my kopie in die tagtigerjare moes regmaak, het net nooit oor die weg gekom nie. Die stommerik wat my werk by Huisgenoot in die hande gekry het, het wyslik sy huisadres van my weerhou sodat ek hom nooit middernagtelik kon besoek nie.

    ’n Mens kan nie ’n land se psige verstaan as jy nie sy geskiedenis ken nie. Voordat ek op ’n reis gaan, bring ek ure deur op die internet en in boekwinkels om die nodige inligting in te samel. Dit gee my ’n idee van waarheen ek op pad is en dit beïndruk boonop die plaaslike mense as jy moeite gedoen het om hul land te leer ken.

    Ek het begin boek lees voordat ek skool toe is. Op veertien het my pa vir my ’n ou tweedehandse tikmasjien by Old Mutual gekoop. Hierop het vele rejection slips gevolg, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. My ouers het nooit in ’n vakansiehuis belê nie. Ons het elke vakansie op ’n ander avontuur gegaan. Voor die tyd het ek opgelees oor die plekke waarheen ons gegaan het, veral die geskiedkundige aspekte en dan moes my pa by elke monument of gedenkwaardigheid aftrek sodat ek daarna kon gaan kyk.

    Nou kry jy mos daardie soort mens wat vyfuur in die oggend wegtrek en dan net twee keer stop voordat hy by sy finale bestemming uitkom. Die eerste keer is om petrol in te gooi en die tweede keer is om die kinders te bliksem omdat hulle nie wil ophou raas en kla nie. Ek val nie in hierdie kategorie nie. Ek is al ’n keer of wat langs die pad laat staan omdat ek net te moeilik was. Ek is steeds moeilik, maar nou het ek minstens my eie motor en ek kan selfs rook terwyl ek ry. Partykeer is dit lekker om ’n grootmens te wees.

    Vandag laat my ma my pa by elke tweede padstalletjie stop sodat sy ietsie kan koop vir die mense by wie hulle gaan oornag. My pa moes maar sy lot aanvaar, al is hy een van daardie soort wat eintlik vyfuur in sy motor klim en net twee keer wil stilhou.

    Hoewel ek steeds voor ’n reis oplees, het dinge drasties verander sedert ek ’n stad se naglewe as ’n alternatiewe bron van kennis ontdek het, saam met bier en meisies wat van vreemde aksente hou. My gunstelingplekke in vreemde stede is daarom kroeë, klubs en koffiewinkels. Ek gebruik my plaaslike kontakte nie net as toergidse nie, maar om ’n stad se underbelly te gaan uitkyk. Vandag sorg ek steeds dat ek die historiese agtergrond ken, maar ek gebruik dit amper meer gereeld om mense te beïndruk – veral meisies wat van vreemde aksente hou. Groot dele van die boek is daarom geskryf op die agterkant van till slips in kroeë. As daar feitefoute insluip, vra ek nou reeds om verskoning. Dis die drank se skuld.

    Die boek is nie ’n reisgids wat volgeprop is met voorstelle van museums, ou geboue of natuurparke wat jy moet besoek nie. Hulle feature wel, maar iewers op die agtergrond. Hierdie boek dek nie eens ’n agtste van alle Afrikalande nie, maar fokus op die plekke wat die grootste indruk op my gemaak het. Dit probeer nie om ’n verkenning van die hele kontinent te wees soos Bill Bryson se boeke nie, want dit lyk darem na heeltemal te veel werk.

    Ek reis nie met ’n kangaroo pouch en ’n plan nie. Die meeste van my avonture gebeur gewoonlik per ongeluk. Fools rush in where angels fear to tread is waarskynlik uitgedink met my in gedagte. Die feit dat ek nog hier is, beteken dat daar iemand is wat na my kyk.

    Watter groter mag ook al die padkaart van my lewe beplan het, het ’n goeie sin vir humor gehad. Hy (of Sy) het gesorg vir genoeg avontuur saam met ’n brandende begeerte om die vreemde op ’n cowboyagtige manier te verken. Dit beteken dat ek ewe gemaklik voel in Antwerpen as in Kigali, of tussen die advertensieborde op 42nd Avenue in New York en swaar gewapende soldate by ’n padblokkade in die ooste van die Kongo. Dit beteken dat ek koelkop kan bly terwyl ek moet onderhandel met ’n soldaat in Ray-Ban Aviators wat vrot van die kokaïen is en ’n gelaaide AK47 onder my neus rondswaai.

    Sowat 90% van hierdie boek is die waarheid. Die ander tien persent is totale versinsels. ’n Mens kan nie alles glo wat jy lees nie en deur nie te sê watter 90% die waarheid is nie, hou ek hopelik ’n paar prokureurs van my rug af. Niemand se ego of reputasie is beskadig gedurende die skryf van hierdie boek nie, maar heelwat mense se name is verander om hulle (en my) te beskerm. Verder hoop ek maar net die lang arm van die gereg sal te kort wees om my te vind, aangesien die gebeure waarop die stories gegrond is buite die grense van Suid-Afrika plaasgevind het.

    Ek wil by voorbaat vir my ouers jammer sê oor ek hulle waarskynlik weer gaan embarrass. Ek weet baie van die goed wat ek sê en doen, laat hulle wonder waar hulle met my opvoeding verkeerd gegaan het. Daarop kan ek net sê: Julle het my gemaak soos ek is. In ’n era wat vir eng denke bekend was, het julle my aangemoedig om dinge te ondersoek en opinies oor sake te hê. Julle het dit reggekry en daarvoor is ek julle ewig dankbaar.

    Vir die rekord wil ek net sê dat ek goed grootgemaak is, maar dat die euwels van seks, alkohol, dwelms, popmusiek en ’n verbeelding wat vir niks terugstaan nie, my verlei het. Daaroor is ek nie jammer nie.

    Vir my kinders wil ek vra om asseblief te doen wat ek sê en nie wat ek doen nie. Dit moet erg wees om ’n pa te hê wat ’n ewige tiener is. Ek weet dat julle allerhande handgemaakte houtspeelgoed as presente gekry het terwyl julle eintlik Nintendo wou gehad het.

    Baie dankie aan Pauli, wat aan my die beweegruimte gegee het om soveel tyd af te staan aan iets wat so min geld maak en ons besigheid, Meerkat Media, onder druk geplaas het. Sy het my ook toegelaat om stories te vertel wat ander mans se vroue hulle dalk nie sou toelaat nie. Sy was ook die een wat die huis aan die gang moes hou terwyl ek oor die wêreld gekerjakker het. Sy moes cope met kinders in polisieselle, water- en elektrisiteitsrekeninge en ’n bouery aan ons huis terwyl ek soos ’n wafferse hunter-gatherer gaan inligting versamel het.

    Hulle sê elke storie het ’n begin, ’n middel en ’n einde. Wie hulle nou eintlik is, kan niemand my ook vertel nie. Dis seker maar dieselfde hulle wat gehoor het dat die polisieman se vrou ’n bietjie te lank by die mechanic gekuier het terwyl manlief uitstedig was. In dié geval is hulle seker reg. ’n Storie moet ’n begin hê. Ek is nie so seker oor waar die verhaal se middel lê nie, maar tussen die redigeerder en my uitgewer sal hulle dit seker uitsorteer.

    Die einde word nie noodwendig deur die skrywer bepaal nie. As hy gelukkig is, sal hy die leser se aandag tot op die laaste bladsy hou. Indien nie, is dit tweedehandsboekwinkel toe of word dit een van daardie laasteminuut-geskenke vir ’n verjaardagpartytjie.

    Hopelik sal ek wel daarin slaag om jou ’n rukkie te laat ophou televisie kyk. Televisie is sleg vir jou sekslewe en gee die lewe weer in kort soundbites sonder om werklik ooit by die kruks van enige saak uit te kom. Nie dat ek noodwendig altyd by die punt van ’n saak uitkom nie, maar die avontuur op pad daarheen is tog belangriker as enigiets anders.

    Ten slotte wil ek vir al die lugrederye wat ek deur die jare gebruik het, sê dat dit suig om in ekonomiese klas te vlieg. Julle is almal swak en ’n klad op die naam van goeie maniere en klantediens. Hoe verwag julle van my om ’n fliek se dialoog te volg met Chinees vervaardigde oorfone van R1,50 elk, terwyl die mense rondom my nog wawyd wakker en aan die gesels is, omdat julle hulle nie genoeg alkohol wil gee nie? Oorweeg dalk ook ’n reël dat alle kinders onder tien onmiddellik ’n Valium moet kry om op die vlug toegelaat te word. Vliegtuigfrustrasie is die werklike gevaar, nie naelknippers en sigaretaanstekers nie.

    Eendag as ek president is, gaan ek julle almal laat toesluit.

    Deon Maas[1]

    Murtalla Mohammed-lughawe

    Lagos, Nigerië

    [1] Deon Maas is Witboy, maar Witboy is nie Deon Maas nie.

    Irriterende en polities korrekte swart Amerikaanse joernalis (Joernalis): How do you see the future of African-Americans?

    Baie bekende en sarkastiese swart Suid-Afrikaanse musikant (Musikant): What is an African-American?

    Joernalis: You know, black Americans?

    Musikant: Why do you call them ‘Africans’?

    Joernalis: Because that’s where they’re from.

    Musikant: You mean blacks here call themselves ‘African’?

    Joernalis: Yes, didn’t you know?

    Musikant: My white friend here is African. Black Americans are not.

    Joernalis: Why do you say that?

    Musikant: You can only call yourself African if you can shit behind a bush and wipe your arse with leaves.

    Joernalis: I can’t write that.

    Musikant: Well, then I guess that’s the end of the interview. Hey, Deon, wanna go and irritate some more niggers?

    EK STAAN IN die middel van die internasionale vertreksaal op die Johannesburgse lughawe – omring deur ’n berg klanktoerusting. Die gesamentlike kapasiteit daarvan is genoeg om ’n hele stadion vol mense dae lank doof te laat. Ondanks die lugreëling sweet die ouens wat die toerusting aandra.

    Ek sweet ook, maar nie weens fisieke uitputting nie. Dis my eerste trip na Donker Afrika. My hele lewe lank is ek gewaarsku teen die Swart Gevaar en nou stap ek soos Daniël in die leeukuil in. Die enigste verskil is dat dit nie geloofsoortuiging is wat my in die leeukuil injaag nie, maar ’n sin vir avontuur. Ek doen dit vrywillig.

    Terwyl die ouens nóg goed aandra, is dit my werk om die arm van die oulike dametjie agter die toonbank te probeer draai, want ons sal beslis moet betaal vir die ekstra gewig. Ek het R10 000 kontant in my sak om enige probleme mee uit te sorteer, maar ons hele reis lê nog voor; dus moet ek die bybetaling so klein as moontlik hou.

    My klewerige gevoel kom nie net van die onsekerheid oor my eerste besoek noord van die Limpopo nie. Ek is ook verantwoordelik vir die welsyn van meer as ’n dosyn mense. Wel, nie mense nie, maar musikante. Musikante is ’n spesiale subspesie. Hulle verloor paspoorte, verpas vlugte, raak dronk en eindig in ander mense se beddens sonder dat hulle weet waar die beddens is. Die kontant gaan dalk nie lank hou nie.

    Dit het alles ’n paar weke vantevore begin. Ek was die ywerige seun wat soos die juffrou se witbroodjie sy arm in die lug rondgeswaai het toe Gallo se base wou weet wie daarin belangstel om Lucky Dube se bestuurder te wees vir ’n toer in Rwanda. Dit was vier jaar ná die volksmoord daar en ook vier jaar die nuwe Suid-Afrika in. In daardie stadium was Afrika nog ’n donker plek vir die deursnee-Suid-Afrikaner. Veral as jy wit was.

    Wel, het ek gedink, minstens sou niemand my met ’n Hutu of ’n Tutsi verwar as enigiets verkeerd loop nie.

    Nie een van my swart kollegas het eens oorweeg om te gaan nie. Daardie hele week op kantoor was almal vreeslik vriendelik met my. Ek het half die idee gekry hulle dink hulle gaan my nie weer sien nie. Die aand voor my vertrek was daar selfs ’n afskeidspartytjie.

    My ma was erg ontsteld. Die maar wat wil jy nou daar gaan maak, my kind?-vrae het nie opgehou nie. Ek het haar nooit eens gesê ek het aangebied om te gaan nie.

    Afrika is ’n moeilike plek om in te reis as jy wit is. Daar is geen kans dat iemand jou vir ’n local gaan aansien nie en selfs al is jy ook een, is jy steeds wit. Dit beteken dat jy die teiken is van almal wat bedel, snuisterye verkoop of op een of ander manier geld uit jou wil maak. Jy’s wit, dus het jy mos geld.

    Gaan sit alleen in ’n kroeg en binne ’n paar minute sal iemand jou komplimenteer oor jou selfoon. Weird, ja, maar dit is blykbaar die pick-up line in sulke plekke. Daar is ook baie vroue (of eerder meisies) wat by jou sal slaap in ruil vir ’n paar dollar, ’n vliegkaartjie uit die land uit of selfs net vir die kans om saam met jou gesien te word.

    Ek maak nie self van dié soort dienste gebruik nie, maar ek is die uitsondering. Een van die onaangenaamste dinge in Afrika is die prentjie van ’n vet, sweterige Skot, Sweed of ander sondaar met ’n patetiese haarstyl wat nooit in sy tuisland so gelukkig sou wees nie, maar wat nou drie mooi en slim swart vroue het wat aan sy lippe hang. Terwyl hý dronk word, skraap húlle moed bymekaar vir wat netnou in die slaapkamer gaan gebeur.

    Dit is natuurlik nog moeiliker as jy wit en boonop net ’n gewone toeris is. Dan raak jy ’n teiken vir ’n ieder en ’n elk wat uniform dra of ’n onbenullige burokratiese pos beklee. Daar word gewoonlik van jou verwag om ’n bydrae tot hul salaris, kinders se skoolfonds of hul pensioenfonds te lewer. Partykeer is hulle dors en wil net ’n Coke of sigaret hê. Maar betaal sal jy betaal.

    As jy reis saam met iemand soos Lucky Dube, wat ’n totale superster in Afrika is, verander die situasie gelukkig baie vinnig. Jy hang uit met ministers. Jou lyfwag is gewoonlik’n senior veiligheidspolisieman – daai soort ou vir wie jy baie lugtig sou gewees het as jy net ’n toeris was. Jy kry briewe geteken deur iemand hoog op in die hiërargie wat jou veiligheid verseker as jy in ’n nare situasie beland. Eintlik hang jy met die slegte ouens uit, maar omdat dit beteken jy is veilig, aanvaar jy dit maar so.

    In Afrika (soos in die res van die wêreld) gebeur dit alte gereeld dat mense net nice is totdat hulle mag of geld kry. Daarna raak hulle magsbehepte idiote wat almal deur die ore werk en hul posisie misbruik om meer mag of geld te kry. Almal kyk mooi na mekaar, insluitend heersende presidente, want almal weet hulle is in dieselfde situasie: As iemand die karretjie skud, gaan almal uitval.

    Rwanda is geen uitsondering nie en dit was al so in die tyd toe die Belge in beheer was. As mense sê Afrika is nie vir sissies nie, dan bedoel hulle eintlik Rwanda. Dié plek is hardcore. Moenie verlei word deur al die groenigheid nie, daaronder skuil ’n kru wreedheid wat deel van die psige van die land is.

    Politieke korrektheid is ’n onbekende begrip. Moslems word in hul gesig pikkewyne genoem. Hutu’s weet hulle is lelik en dom en is eintlik net veronderstel om beeste op te pas, want daar is só vir hulle gesê. As jy my nie glo nie, gaan lees die koerante van destyds. Dit staan daar en almal weet mos koerante jok nie …

    Die Belge het die etniese verdeeldheid so doelgerig aangevuur dat dit deel van die samelewing se genetika geword het. Elke koloniale mag in Afrika het hom skuldig gemaak aan menseregteskendings en diefstal van die betrokke land se hulpbronne. Die Belge verdien egter spesiale vermelding wanneer dit by wreedheid en uitbuiting kom.

    België het die Kongo in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1