Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die Beek 2012
Uit die Beek 2012
Uit die Beek 2012
Ebook760 pages7 hours

Uit die Beek 2012

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Uit die Beek bied aan lesers die geleentheid om hulle elke dag by die vars water van die Woord te verfris vir die dag wat voorlê. Vanjaar se 365 stukkies kom uit Deuteronomium, 1 en 2 Konings, 2 Kronieke, Hosea, Sagaria en Maleagi in die Ou Testament, en Handelinge, Efesiërs, Titus, Filemon en Openbaring in die Nuwe Testament. Sondae se stukkies kom uit die Psalms. Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens gebruik te word. Ontdek só dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 20, 2011
ISBN9780796315663
Uit die Beek 2012
Author

Attie van Wijk

Attie van Wijk is ’n gesaghebbende en inspirasionele teoloog. Hy was prinsipaal van die Nehemia-Instituut en die Hugenote-Bybelinstituut op Wellington, asook Hoof van Bedienings van Bybel-Media en voorsitter van die Association of Christian Theological Schools. Hy en sy vrou, Wena, het vyf kinders wat in vyf verskillende lande woon, waar hulle almal aktief in diens van die Here staan.

Read more from Attie Van Wijk

Related to Uit die Beek 2012

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die Beek 2012

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk

    Uit die Beek 2012

    Attie van Wijk

    Lux Verbi

    Voorwoord

    Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal min of meer om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. Wanneer jy vyf jaar saam met ons deur die siklus gewerk het, het jy al 66 boeke in die Bybel gelees. Dit is daarom belangrik om elke dag ook die aandgedeelte te lees.

    Die Gebedsgids in hierdie boek sal jou help om elke dag sinvol voorbidding te doen, en nie in dieselfde rympie te verval nie.

    Ds AJ van Wijk (sr) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit die Uit de Beek genoem, na aanleiding van Ps 110:7 in die Nederlandse Bybel: "Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen." ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke oggend moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie boek is die 87ste van die reeks. En jy sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

    Ons lees vanjaar in die Ou Testament uit Deuteronomium, 1 en 2 Konings, 2 Kronieke, Hosea, Sagaria en Maleagi en in die Nuwe Testament uit Handelinge, Efesiërs, Titus, Filemon en Openbaring. Sondae lees ons uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

    Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd en ook om tydens huisgodsdiens gebruik te word.

    Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is. Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

    Sake vir daaglikse voorbidding

    Sondag: Die uitdra van die evangelie

    Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    Dat die hoorders daders sal word

    Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    Maandag: Opleidingsinrigtings

    Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    Dat elke leerder kwaliteit onderrig sal kry

    Dat dissipline herstel sal word

    Dat die jeug reg gevorm sal word

    Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    Dinsdag: Die jeug

    Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    Dat kinders die regte keuses sal maak

    Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    Woensdag: Owerhede

    Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    Dat die regering die regte besluite sal neem

    Dat die parlement God sal verheerlik

    Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    Donderdag: Sending en getuienis

    Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    Vir julle sendelinge en hulle gesinne by name

    Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    Vir die nodige finansies vir die werk

    Vrydag: Diens van barmhartigheid

    Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    Vir bevryding uit die armoedespiraal

    Vir die inrigtings wat mense probeer help

    Vir die nodige finansies hiervoor

    Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    Saterdag: Herlewing

    Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Welkom by Deuteronomium

    Skrywer

    Moses (31:9, 24–25) en ander skrywers.

    Datum

    Onseker, hoewel gedeeltes uit Moses te tyd kom.

    Lesers

    Die hele volk Israel, veral nadat hulle die beloofde land ingeneem het.

    Doel

    Hierdie boek moes elke sewe jaar aan die hele volk voorgelees word om hulle in hulle aanbidding te lei. Dit vorm die brug tussen die Pentateug en die geskiedkundige boeke wat daarop volg. Dit word 90 keer in die Nuwe Testament aangehaal.

    Hooftrekke

    Moses se eerste toespraak (1:1–4:43)

    Moses se tweede toespraak (4:44–26:19)

    Moses se derde toespraak (27:1–30:20)

    Moses se laaste toespraak en dood (31:1–34:12)

    Let op na

    Die belangrikheid van die verbond met God.

    Al die gedeeltes wat deur Christus aangehaal word.

    Christus in Deuteronomium

    Christus is die vervulling van die verwagting van die Messias as Profeet (Deut 18:15), Priester (Eks 28:1; Heb 2:17), en Koning (Deut 17:15). Jesus sê Moses het van Hom geskryf (Joh 5:46).

    Sondag 1 Januarie

    Lees Psalm 32:1–7.

    Nuwejaardag

    Voorspoedige Nuwejaar!

    Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie (Psalm 32:2).

    Voorspoedige Nuwejaar! wens ons mekaar vandag hartlik toe. Sommige van ons kry reg om dit op ’n nuwe en vars manier te sê. Maar ons almal bedoel dat dit ’n goeie jaar moet wees, dat ons familie en vriende gelukkig sal wees, dat hulle alles sal ontvang wat hulle nodig het.

    Die meeste van ons dink dan seker aan gesondheid en finansiële voorspoed. Koning Dawid het in hierdie onderwysing egter vir ons neergeskryf wat regtig belangrik is. In die Ou Vertaling begin hierdie vers met welgeluksalig en die Engelse vertalings praat van blessed. Die belangrikste ding wat vanjaar met ons kan gebeur, is dat ons sondes vergewe kan wees. In hierdie jaar moet dit nie net in materiële dinge nie, maar veral ook geestelik met ons goed gaan.

    Die ergste wat met jou kan gebeur, is dat daar skeiding tussen jou en die Here sal kom. En daar is net een ding wat dit kan veroorsaak: sonde (Jes 59:2). Dit kan wees dat daar vanjaar groot uitdagings en teleurstellings vir jou voorlê, maar jy kan dit alles te bowe kom as jy doen wat hierdie psalm sê. Dawid vertel hoe hy sy oortredings aan die Here bely het, en Hy het dit vergewe (v 5).

    Ek bid jou dus ’n wonderlike jaar saam met die Here toe. Mag Hy jou oorwinning gee oor elke sonde, sodat jy geestelik sal groei soos nog nooit tevore nie.

    GEBED: Here, verander my, sodat ek vanjaar vir ander mense tot seën kan wees. Vergewe my al my sonde.

    Lees vanaand Psalm 32:8–11 en verander elke vers in ’n gebed vir vanjaar.

    Maandag 2 Januarie

    Lees Deuteronomium 1:1–8.

    Vakansiedag

    Tyd om te vorder

    Trek in en neem dit in besit (Deut 1:8).

    Deutero-wat? het iemand dalk verward uitgeroep toe hy of sy sien ons gaan die jaar met Deuteronomium begin. Dit is seker nie die Bybelboek wat die meeste van ons as ons gunsteling beskou nie. Tog was dit die Here Jesus se gunstelingboek. Hy het graag daaruit aangehaal, en selfs die duiwel moes elke keer die knie buig as die Here Jesus hom met ’n teks uit Deuteronomium troef (Matt 4:1–11). As dit dan so ’n kragtige en gesaghebbende boek is, kan ons verwag dat die Here vanjaar ook vir ons wil seën as ons hierdie besondere boek in sy teenwoordigheid lees en vir ons toe-eien.

    Die volk Israel het in hulle duisende op die vlakte van Moab kampeer. Hulle was op die grens van die beloofde land. Vir 40 jaar het hulle in die wildernis rondgetrek, en feitlik almal wat destyds met die uittog uit Egipte begin het, was reeds dood. Die nuwe geslag was nou gereed om die land Kanaän binne te gaan, wat die Here so lank tevore aan hulle voorvader Abraham belowe het. Maar vir oulaas wou Moses hulle herinner met Wie hulle te doen het, sodat hulle op Hom kon vertrou, en nie op hulleself nie.

    Ons staan ook vandag op die grens van ’n onbekende land: 2012. Ons weet nie wat hierdie jaar vir ons inhou nie. Maar ons weet Wie ons in hierdie jaar gaan begelei. Sommige mense glo vas dat 2012 die einde van die wêreld gaan wees, want dit is waar die antieke Maja-kalender ophou. Ons weet egter van beter. Hierdie wêreld is nie die einde nie. Daar is ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad. Kom ons maak gereed daarvoor.

    GEBED: Here, ons is bang vir 2012. Maar met U sal ons dit met vreugde tegemoetgaan.

    Lees vanaand in Deuteronomium 1:9–18 hoe Moses die werk van regspraak onder die volk verdeel het.

    Dinsdag 3 Januarie

    Lees Deuteronomium 1:19–30.

    Moenie bang wees nie

    Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie (Deut 1:21).

    Die bevel ‘Moenie bang wees nie’ kom 366 keer in die Bybel voor – een keer vir elke dag van ’n skrikkeljaar soos vanjaar, vertel iemand my. As dit dan nodig is om een sinsnede so baie keer te herhaal, beteken dit seker dat daar baie dinge is om voor bang te wees! Maar ook dat ons nie nodig het om bang te wees as ons saam met die Here op pad is nie.

    Moses is in hierdie gedeelte besig om die volk te herinner hoe dit gekom het dat hulle nou eers – 40 jaar later – weer op die punt is om die beloofde land binne te trek. Veertig jaar vantevore was hulle ook hier op die grens, en hulle het toe verkenners uitgestuur om te kyk hoe die land is. Dié het kom vertel watter wonderlike land dit is (v 25). Maar hulle het ook kom vertel van die reuse wat daar woon. Die reuse was vir hulle ’n groter werklikheid as wat die almagtige God was, en hulle het net daar omgedraai, ten spyte van alles wat Moses kon sê.

    Vir ons lê daar vanjaar waarskynlik ook groot uitdagings – reuse – voor. Dit kan iets by jou werk of in jou huisgesin, of die ekonomie, jou gesondheid, die misdaadvlaag, of baie ander dinge wees. Ons sal moet leer om nie na die reuse te kyk nie, maar na die almagtige God wat die jaar saam met ons ingaan. Hy is ons hemelse Vader. Hy is lief vir sy kinders. Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk (Rom 8:28). Ons hoef nie bang te wees nie.

    GEBED: Dankie dat U ons hier aan die begin van die jaar wil bemoedig. Ek wil nie meer daarvoor bang wees nie.

    Lees vanaand in Deuteronomium 1:31–46 wat die gevolg is as iemand uitdagings sonder God tegemoet gaan.

    Woensdag 4 Januarie

    Lees Deuteronomium 2:1–12.

    Doen net wat reg is

    Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing (Deut 2:4).

    Elke hond kry sy dag, en ’n brakkie kry twee, sê ons graag vir mekaar as ons dink aan die dag wanneer ons iemand gaan terugkry vir die kwaad wat hy of sy ons aangedoen het. Ons verlekker ons vooruit aan die gedagte dat ons hulle ook sal kan verneder, soos hulle met ons gedoen het, en dat ons ordentlik sal kan wraak neem.

    Maar in God se koninkryk werk dinge anders. Moses moes die volk ook leer dat gelowiges anders is. Hulle neem nie wraak nie (Rom 12:19). Dit was wel so dat die Edomiete (afstammelinge van Esau) hulle sleg behandel het toe hulle die vorige keer met hierdie pad langs getrek het (Num 20:21). Nou dat Israel sterk geword het, was die Edomiete bang vir hulle, maar hulle moes nie daarvan misbruik maak nie. Behandel hulle ordentlik, al kan jy hulle beroof; dryf eerder handel met hulle, sodat dit tot albei se voordeel is (v 6). Die beste manier om van ’n vyand ontslae te raak, is om hom jou vriend te maak, het president Abraham Lincoln glo by geleentheid gesê. En dit is iets om oor na te dink!

    Die Here gaan vanjaar meermale met ons werk oor ons verhouding met ander mense. Om soos ’n ongelowige op te tree, sal geen probleme oplos nie. Miskien is die groot probleem vandag dat Christene juis net soos die ongelowiges optree. Niemand kan sien dat Christus werklik ’n verskil in ons lewe gemaak het nie. Die Here vra van ons om sy opdragte ernstig op te neem en om Hom te gehoorsaam. Net dan kan Hy ons gebruik om ons samelewing te verander en verkeerde verhoudings reg te maak.

    GEBED: Vergewe my, Here, dat ek u Naam so skade aandoen deur my verkeerde optrede. Help my om aan U gehoorsaam te wees.

    Lees vanaand in Deuteronomium 2:13–23 hoe die Israeliete hierdie keer geleer het om die Here se opdragte te gehoorsaam.

    Donderdag 5 Januarie

    Lees Deuteronomium 2:24–37.

    Agter die skerms

    Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag (Deut 2:30).

    Elke donker wolk het ’n silwer randjie, troos ons mekaar soms. Die geheim van die silwer randjie is dat die son helder agter die donker wolk skyn. Net so moet ons onthou dat God steeds in beheer is te midde van die moeilikste omstandighede. Agter die skerms is Hy besig om dinge te reël. Hy het sy eie planne, en elkeen van ons is maar ’n baie klein onderdeeltjie daarvan. Hy kan selfs sorg dat mense verkeerde besluite neem om in sy wil in te pas.

    Moses herinner die volk daaraan dat hulle nie met koning Sihon van Hesbon skoor gesoek het nie. Hulle het met vredesvoorstelle gekom (v 27-29). Sihon het hulle egter aangeval, en hulle moes hulle verdedig (v 32–33). Die uiteinde was dat Sihon se land en besittings die eiendom van Israel geword het. Moses het vooraf geweet wat die uiteinde sou wees (v 24), maar het gesorg dat niemand agterna kon sê dat Israel die aggressor was nie.

    Dit lyk soms vir ons asof dinge buite beheer is. Mense neem verkeerde besluite. Die verkeerde wetgewing word aangeneem en afgedwing. Daar gebeur slegte dinge met goeie mense, en dit lyk asof slegte mense ongestraf wegkom. Dit kan ons maklik moedeloos maak. Ons voel: Ag, wat help dit tog? Moet ons nie maar boedel oorgee nie? Moet ons nie maar met die stroom saamgaan nie? As jy vandag so voel, wil die Here jou daaraan herinner dat jy nie die hele prentjie kan sien nie. Van sý kant af lyk dinge heeltemal anders. Ons kan Hom ten volle vertrou, ook in ’n onverstaanbare wêreld.

    GEBED: Here, dankie dat U steeds in beheer is. Ek wil graag deel wees van die uitvoer van u Goddelike wil.

    Lees vanaand in Deuteronomium 3:1–11 hoe die gevreesde reuse die een ná die ander begin val het, omdat die Here Israel gehelp het.

    Vrydag 6 Januarie

    Lees Deuteronomium 3:12–20.

    Help mekaar

    Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, ’n veilige woonplek gegee het (Deut 3:20).

    Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie, het Paulus die gemeente in Rome herinner (Rom 14:7). Hy praat oor mense in die gemeente wat mekaar veroordeel omdat hulle nie oor alle geloofsake saamstem nie. Die kerk van die Here word maklik verdeel oor dinge wat regtig nie belangrik is nie. Die eenheid van die gemeente, en die kerk as geheel, is vir die Here Jesus baie belangrik (Joh 17:21). Hy gee ons aan mekaar om mekaar oor alle grense heen te help. Al is ons van verskillende kulture of kerklike tradisies, is ons een groot familie en moet ons mekaar help.

    Moses herinner die volk hoe dit gebeur het dat die verowerde gebied oos van die Jordaan die erfgrond van die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse geword het. Die hele volk het geveg sodat hulle dit kon kry, en hulle het toe belowe om saam met die res van die volk te veg totdat al die stamme hulle eie erfdeel gekry het (20). Dit het uiteindelik ook so gebeur.

    Die naam Helpmekaar duik oral in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op, van die geskiedkundige dorpie Helpmekaar naby Dundee tot die Helpmekaar Studiefonds wat ontstaan het uit geld wat oorgebly het nadat die burgers wat in die rebellie van 1914-1915 betrokke was, uitgehelp is. Maar is dit nie ook ’n baie goeie leuse vir die Christene van vandag nie? Ons moet mekaar se laste dra, in opdrag van Christus (Gal 6:2). Ons is daar vir mekaar!

    GEBED: Here, dankie dat U ons vir mekaar gegee het om mekaar in alle omstandighede te ondersteun. Help ons om dit te doen.

    Lees vanaand in Deuteronomium 3:21–29 hoe Moses se gebed nie verhoor is nie, en hoe hy vir Josua moes bemoedig.

    Saterdag 7 Januarie

    Lees Deuteronomium 4:1–10.

    Gee dit aan

    Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp (Deut 4:9).

    Gee aan, gee aan! roep die ouers langs die kantlyn waar die kannetjies aan hulle eerste rugbywedstryd deelneem. Elkeen wil die bal vir homself hou, en dan kan dit mos nie werk nie. Spanwerk is die sleutel tot sukses. Gee aan, gee aan! roep die manne in die tou wat emmers water aangee om ’n brand te blus. Een man alleen kan nie die vuur doodkry nie, maar saam kan ons dit doen. Gee aan, gee aan! moedig Moses ook die volk aan om die kinders hulle geskiedenis te leer. Geloof is nie privaat sake nie. Jy moet dit aangee. Almal moet hierdie wonderlike God leer ken.

    Moses het geweet dat hy nie self die beloofde land sou kon betree nie. Hy sou dit net uit die verte sien – hoewel hy dit wel in Jesus se tyd kon beleef! (Matt 17:3). Hy sou nie saam met die volk trek om hulle te bemoedig nie. Hulle moes dus leer om mekaar op die pad van die Here te bemoedig. En hulle moes nie vergeet om die kinders ook op daardie pad te begelei nie.

    Die kerk is altyd net een geslag weg van uitsterf, het iemand geskryf. Hy wou die belangrikheid beklemtoon dat ons ons geloof ook aan ons kinders moet deurgee. En dit is ’n belangrike les wat ons ook vandag en môre aan ons kinders moet leer. Kinders leer nie juis uit wat ons vir hulle sê nie, maar veral deur wat ons vir hulle wys. Hulle kyk fyn hoe ons vandag langs die sportveld optree, en sien as ons môre nie op ons plek in die kerk is nie! Watter soort nageslag wil ons hê?

    GEBED: Here, help ons om die goeie nuus aan te gee.

    Lees vanaand in Deuteronomium 4:11–24 oor God se skrikwekkende openbaring toe Hy sy wet aan die volk gegee het.

    Sondag 8 Januarie

    Lees Psalm 33:1–11.

    Loof die Here!

    Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit! (Ps 33:2–3.)

    Ai, maar die jongklomp is darem rumoerig as hulle musiek maak! Ek is lus om te vlug, want dit is so oorverdowend. Maar ek verduur dit maar ter wille van hulle, sug ’n ma wat gereeld die Tekkiediens saam met haar kinders bywoon. Baie van ons het grootgeword in ’n tyd toe ons aanbidding baie rustig en stemmig was. Ons het geleer om groot respek vir God te hê, en daarom moes ons nie ons godsdiens geniet nie. Maar vergelyk dit net ’n bietjie met wat ons in hierdie psalm gelees het. Hy sê ons moet met volle oorgawe sing en speel, en nuwe liedere komponeer en sing. Is dit nie wat ons jongmense deesdae doen nie? Dan is hulle mos reg in die kol!

    Toe daardie tienduisende mense gelyktydig die Here begin loof, het my hare regop gestaan! Ek was nog nooit so bewus van God se magtige teenwoordigheid nie, vertel ’n vriend wat ’n massasaamtrek op Nuweland bygewoon het. Ja, dit is goed om die Here op jou eie te loof, maar as ons dit saam met baie ander doen, gebeur daar wonderlike dinge.

    Miskien is jy nie vandag lus om kerk toe te gaan nie. Jy is nie eens lus om vandag die Here op jou eie met sang te loof nie. Maar onthou wat die Here graag vandag van jou wou hê. Hy wil jou seën – veral as jy saam met sy ander kinders vergader. Dit sal sy hart baie bly maak. As jy dit vandag weens omstandighede nie kan doen nie, sal Hy natuurlik verstaan. Loof Hom dan net daar waar jy is!

    GEBED: Here, ek loof U vir wie U is en vir alles wat U gedoen het en steeds nog doen. Wys my hoe ek vandag u hart bly kan maak.

    Lees vanaand in Psalm 33:12–20 waarom dit so nodig is dat ons vanjaar op die Here alleen moet vertrou.

    Maandag 9 Januarie

    Lees Deuteronomium 4:25–31.

    God onthou

    Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met ’n eed aan julle voorvaders bevestig het nie (Deut 4:31).

    Die verbond met God moet nie as beperkend gesien word nie, maar as beskermend, het Russel Nelson iewers geskryf. Ons vergeet so maklik van die krag van God se verbond. So maklik raak ons in horisontale godsdiensoefeninge betrokke, wat maklik verflou. Maar die verbond is die goue lyn wat dwarsdeur die Bybel loop, van Genesis tot Openbaring.

    In vandag se Skriflesing waarsku Moses die volk dat dit maklik sou wees om met die stroom saam te gaan en die afgode van die volke om hulle te begin aanbid. Die gevolg sal onvermydelik wees dat daar verdrukking en swaarkry kom, want God gee om vir sy kinders. Hy wil nie dat hulle verlore gaan nie. Dit is deur beproewing dat die Here ons terugroep na Hom toe. Dit is gewoonlik eers as ons aan die einde van ons eie mensgemaakte planne gekom het dat ons hulp soek by die enigste Een wat ons regtig kan help. Al vergeet ons van die verbond, vergeet Hy nie. Hy het Hom aan ons verbind, en wil ons seën en ons gebede verhoor.

    Dit is vandag vir ons ook maklik om eerste te gaan hulp soek by die dokters, of die prokureur, of Die sterre voorspel, of die Lotto, in plaas van heel eerste na ons liefdevolle hemelse Vader te gaan. Ons geld word maklik ons god, en dan kan ons verwag dat die Here genoeg vir ons sal omgee om ons te leer dat geld glad nie betroubaar is nie. Mense sal ons keer op keer teleurstel. Maar God het jou nie vergeet nie. Hy onthou sy verbond met jou.

    GEBED: Dankie vir u verbond, Hemelvader, wat U gegee het om ons te beskerm.

    Lees vanaand in Deuteronomium 4:32–40 hoe ons herinner word aan die groot dade van God in die verlede, om ons geloof te versterk.

    Dinsdag 10 Januarie

    Lees Deuteronomium 4:41–5:5.

    Leer, om te lewe

    Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe (Deut 5:1).

    Dit is eenvoudig wonderlik hoe dramaties my lewe verander het sedert ek begin het om die Skrif te memoriseer, vertel ’n lidmaat. My gebedslewe het eenvoudig in ’n ander rat oorgeskakel, en ek kon versoekings al hoe beter hanteer. Die Bybel is die geestelike kos wat ek nodig het om geestelik te groei. Sy was natuurlik heeltemal reg. Die Here Jesus het vir ons die voorbeeld gestel: Toe die duiwel Hom versoek het, het Hy hom met Skrifaanhalings getroef (Matt 4:1–11). As Hy nie die Skrif gememoriseer het nie, sou Hy dit nie kon doen nie, want ’n mens dra nie die Tora saam met jou in die woestyn nie.

    Moses het ook hierdie geheim geken. Waar hy dus in hierdie hoofstuk die volk wil herinner aan wat die Wet van God sê, begin hy om die volk te beveel om alles wat hulle nou gaan hoor, te leer. Dit moet nie net by een oor in- en die ander uitgaan nie. Wat hulle nou gaan hoor, gaan hulle elke dag nodig kry, want versoekings kom elke dag in baie vorms na ons toe.

    Ek wil jou dus vandag uitdaag om God se raad te volg. Begin om elke dag minstens een belangrike vers te memoriseer. Kyk maar watter verse jy in jou Bybel onderstreep het. Jy kan dit op klein kaartjies soos visitekaartjies oorskryf, met die bewysplaas op die agterkant. As jy so ’n pakkie in jou sak hou, is dit die wonderlikste manier om daardie lang ure in die toue by staatsdepartemente of in wagkamers sinvol te gebruik. Leer dit, gehoorsaam dit en lewe daarvolgens!

    GEBED: Here, help my om u Woord in my hart te bêre. Help my dan om daarvolgens te lewe.

    Lees vanaand in Deuteronomium 5:6–15 die eerste vier van die Tien Gebooie, wat handel oor ons liefde vir God.

    Woensdag 11 Januarie

    Lees Deuteronomium 5:16–22.

    Wette wat beskerm

    Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee (Deut 5:16).

    Kan jy jou indink hoe ’n land sou lyk as hy besluit om al tien gebooie van God volledig te verwerp? het ek die gemeente uitgedaag, en toe elkeen van die Tien Gebooie omgedraai. Die skokkende is dat ons dan ’n prentjie van ons eie land sien! Gesag word verwerp, moorde en diefstal is alledaags. Jy kan feitlik niemand meer vertrou nie. Niemand knip meer ’n oog oor egbreuk nie. Alles word vir ons so begeerlik as moontlik opgedis. Die rusdag word ’n sportdag en inkopiedag. Alle godsdienste is gelyk.

    In so ’n land en wêreld moet Christene vandag hul unieke getuienis uitleef. Die vraag is: Doen ons dit so dat dit hoegenaamd ’n verskil maak? Leer ons ons kinders om Christene in ’n sekulêre wêreld te wees, of het ons handdoek ingegooi en besluit dis klaar te laat?

    Die oplossing vir die geweld in ons skole is nie metaalverklikkers nie,

    noem ’n professor een aand. Dit is eerder om die kinders se karakter te bou. Dit is ongelukkig so dat baie kinders nie meer tuis in Christelike waardes onderrig word nie. Dit is ook nie meer die beleid in staatskole (wat sekulêre instellings geword het) nie. Ons, die kerk, sal moet inspring in hierdie 4-14-Venster. Kinders is die bevatlikste vir die waarheid tussen die ouderdomme van 4 en 14. As ons hulle nie in daardie tyd met die evangelie bereik nie, is die kanse skraal dat ons hulle later weer na die Here sal kan teruglei. Kan jy sien waar die Here jou nou nodig het?

    GEBED: Here, ons bid vir elkeen wat vandag na kinders toe uitreik. Seën hulle, en seën elke kind, sodat hulle U waarlik mag ken.

    Lees vanaand in Deuteronomium 5:23–33 waarom dit nodig is om die grootste eerbied vir God te hê.

    Donderdag 12 Januarie

    Lees Deuteronomium 6:1–13.

    Die geheim van ’n sterk nasie

    Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deut 6:6–7).

    Daar was ’n bom-alarm aan boord van ’n internasionale vlug toe ’n Joodse man sy filakteries uithaal en aan sy arm en voorkop bind, lui ’n nuusberig. ’n Filakterie is ’n klein leerkissie met ’n gedeelte van die wet daarin, wat toegewyde Joodse mans om hulle linkerarm en voorkop vasbind wanneer hulle bid. Hulle neem die opdragte in vandag se Skriflesing baie letterlik op (v 8). ’n Mens sien ook soms metaalhouertjies met ’n Skrifgedeelte daarin aan die deurkosyne van Joodse huise vasgeskroef (v 9).

    ’n Mens kan hierdie opdragte moderniseer en sê dat die Skrif met ons moet praat oor wat ons doen (hand) en wat ons dink (voorhoof). Moses gaan dan ook verder en sê watter rol die Skrif in ons daaglikse lewe moet speel. Ons moet daaroor praat in ons huise en in die motor, as ons gaan slaap en as ons opstaan (7). Moet net nie probeer om vir die kinders te preek nie – hulle sal nie lank neem om hulle ore en harte vir jou preke te sluit nie. Hulle moet kan sien dat jy die Skrif self ook ernstig opneem.

    Dink net wat die gevolg sou wees as al die Christene in ons land hierdie opdragte sou gehoorsaam! Dit sal soos suurdeeg in huise werk, en kinders sal opgebou word in hulle geloof, en ’n vreugde vir hul ouers wees. Net so sal dit soos suurdeeg deur gemeenskappe werk, en ’n nuwe gees van medemenslikheid en respek skep.

    GEBED: Here, help my om die opdragte in hierdie gedeelte in my eie lewe toe te pas, sodat my kinders U ook sal ken en volg.

    Lees vanaand in Deuteronomium 6:14–25 hoe ouers hulle geloof aan die volgende geslag moet aangee.

    Vrydag 13 Januarie

    Lees Deuteronomium 7:1–11.

    Paraskevidekatriaphobia

    Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam (Deut 7:9).

    Wat op aarde is daardie onuitspreekbare naam in die opskrif? het jy dalk gewonder. Dit is eenvoudig die geleerde naam vir ’n vrees vir Vrydag die dertiende. Vanjaar val die dertiende drie maal op ’n Vrydag. Die ontstaan van die bygeloof dat Vrydag die dertiende ongelukkig is, is onbekend, hoewel verskillende teorieë op die internet gevind kan word. Dis ’n nuwe bygeloof: Die eerste verwysing daarna was in 1917. Tog is daar baie mense wat vandag verkies om by die huis te bly om ongelukke te vermy. Dit gee seker aanleiding tot die statistiek dat Vrydag die dertiende gewoonlik minder ongelukke het as enige ander Vrydag!

    Gelowige mense hoef egter nie bygelowig te wees nie. Die arme dag kan nie help dat sommige dom mense dit vrees nie. Maar, soos ons in vandag se teksvers gelees het, verander God se krag nie op Vrydag die dertiende nie. Hy is altyd betroubaar; Hy sorg altyd vir sy kinders. Daar is geen ander God soos Hy nie. Hy is die enigste. Vandaar die bevel om die afgodedienaars se aanbiddingsplekke en afgode te vernietig, sodat hulle nie vir Israel ’n versoeking sal wees nie.

    Ons word ook vandag gewaarsku om op te pas wie ons as vriende het. Is dit mense wat ons sal weglei van die Here af, of is dit mense vir wie ons na Hom toe kan lei?

    GEBED: Here, dankie dat U nooit verander nie. Seën ons gesin vandag sodat ons vir ander tot seën kan wees.

    Lees vanaand in Deuteronomium 7:12–26 van God se wonderlike beloftes en waarom ons nie afgodsbeelde in ons huis moet toelaat nie.

    Saterdag 14 Januarie

    Lees Deuteronomium 8:1–9

    Dissipline

    Jy moet diep in jou hart weet: soos ’n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer (Deut 8:5).

    Die doel van dissipline is selfdissipline, het iemand verduidelik. En dit laat die oneindige gedril op die paradegrond van die dienspligtiges en jong rekrute sin maak. As julle mooi luister en presies doen wat ek vir julle sê, sal ek julle kan terugbring na julle mammas toe, was die belofte van een korporaal. En dié van ons wat deur die weermag gegaan het, sal kan getuig dat ’n korporaal baie meer skrikwekkend is as ’n generaal!

    Die Here het dit ook so beskik dat elke kind in ’n huis moet grootword waar hy deur dissipline geleer word om selfdissipline te kan toepas. Waar ’n kind sonder dissipline grootword, kan hy of sy ook nie aanpas in die grootmenslewe nie. Mamma doen haar kind ’n ongelooflike onreg aan as sy altyd maar toegee. Elke kind het grense nodig om gelukkig te wees, en toets gedurig daardie grense om seker te maak dat hulle stewig is. ’n Gedissiplineerde kind word ’n gelukkige kind wat verantwoordelikheid kan dra en wat vertrou kan word. Daarom is dit tragies as ’n ouer die kant van ’n stout kind kies teen die onderwyser, en nie saamwerk om die kind reg te vorm nie.

    Ons het almal dissipline nodig. Moses herinner die volk daaraan dat hulle dit ook nodig het. Die swaar tye in die wildernis het hulle sterk gemaak vir die stryd wat voorlê. Dissipline is die geheim vir ’n gelukkige lewe. Dit sluit ook ’n vaste tyd vir die Here in, sodat ons elke dag geestelik kan groei.

    GEBED: Here, dankie dat U ons met dissipline seën sodat ons ook vir mekaar tot seën kan wees.

    Lees vanaand in Deuteronomium 8:10–20 watter gevaar voorspoed en rykdom vir jou kan inhou.

    Sondag 15 Januarie

    Lees Psalm 34:1–11.

    Die doel van swaarkry

    Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie (Ps 34:3, 6).

    Hoekom lewe ek tog? het Nick Voyecic hom afgevra. Die ander kinders het hom genadeloos gespot, want hy is sonder arms en bene gebore. Sy pa was ’n predikant en sy ma ’n verpleegster, en hulle het alles vermy wat die baba kon skade aandoen, en tog is hy so gebore. Maar hy het sy tekortkominge te bowe gekom, leer tik met die een toon wat hy aan sy lyf gehad het en ’n graad verwerf. Vandag reis hy oor die hele wêreld om mense te bemoedig en te inspireer. Hy het al tot 100 000 mense op ’n slag toegespreek. God gebruik hom kragtig ten spyte van sy gestremdheid.

    Dawid het ook moedelose tye geken toe hy vir Saul moes vlug, al het hy hom geen kwaad aangedoen nie. Waarom moes dit met hom gebeur? En toe hy by Abimelek skuiling soek, moes hy hom mal hou om nie dadelik doodgemaak te word nie. En tog het hy juis in so ’n tyd ’n pragtige gedissiplineerde psalm geskryf. In die Ou Vertaling sal jy sien dat dit ’n alfabetiese psalm is, waar elke vers met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Hy het geweet dat hy ander wat ook swaarkry, deur sy eie getuienis kan bemoedig.

    Miskien ervaar jy ook tans ’n moeilike tyd. Jy kan nie verstaan waarom dinge met jou gebeur nie. Hou moed. God het ’n plan, en wil jou ook vir ander tot seën maak.

    GEBED: Here, gee my ’n lied in my hart, al gaan dit nie altyd goed nie. Maak my ’n versterker van mense wat swaarkry.

    Lees vanaand in Psalm 34:12–23 van die belangrike lesse wat Dawid vir sy kinders wil leer.

    Maandag 16 Januarie

    Lees Deuteronomium 9:1–6.

    Oppas vir hoogmoed

    Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is (Deut 9:4).

    As ek dink wat vandeesweek vir my wag, wil ek liewer in die bed bly. Voel jy ook so? Sit die Enakiete daar op kantoor of by die skool vir jou en wag? Ja, daar kom tye dat ’n mens bedreig voel. Jy moet na ’n nuwe skool of universiteit gaan, of selfs net na ’n ander klas. Jy moet van werk verander. Jou eggenoot is siek. Jy moet self hospitaal toe gaan.

    Moses is besig met sy tweede groot toespraak op die grens van die beloofde land. Hy waarsku die volk dat daar reuse op hulle wag. Die tien verkenners het ook van hulle gepraat, en die gevolg was dat die volk bang geword het en hulle vertroue in God verloor het. Nou praat Moses self oor die groot uitdagings wat voorlê, maar met die doel om hulle te help om nie bang te wees nie, maar eerder op God te vertrou. Hulle kan seker wees van die oorwinning, maar dit sal nie as gevolg van hulle eie bekwaamheid wees nie. God sal vir hulle stry. Hulle moet net hulle kant ook bring. Hulle verdien nie eintlik om gehelp te word nie, soos ons vanaand sal sien.

    Die Here belowe nie dat die reuse nie daar sal wees nie. Maar Hy sal saam met ons daardie reuse tegemoet gaan. Eintlik is ons maar net die instrumente in sy hand, waarmee Hy sy eie doel wil bereik. In Israel se geval wou hy die goddelose volke straf. Miskien wil Hy vir jou en my gebruik om mense na Hom te lei. Is jy tot sy beskikking?

    GEBED: Here, ek verdien nie u hulp nie. Maar ek stel myself tot u beskikking om hierdie week in u diens gebruik te word.

    Lees vanaand in Deuteronomium 9:7–14 hoe Moses die volk herinner aan die vele kere wat hulle ongehoorsaam was.

    Dinsdag 17 Januarie

    Lees Deuteronomium 9:15–29.

    Ware voorbidding

    Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig (Deut 9:25).

    Bid asseblief vir my, is deesdae ’n algemene versoek.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1