Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ontsnap!: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid
Ontsnap!: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid
Ontsnap!: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid
Ebook549 pages6 hours

Ontsnap!: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

Onstuitbaar en vreesloos. Só was die Boerekrygers wat gedurende die Anglo-Boereoorlog uit krygsgevangekampe probeer ontsnap het. Niks sou hulle keer om weer vry te wees nie: nie 'n moontlike skietdood, 'n oseaan vol haaie, die gevaar om van 'n bewegende trein af te spring of 'n tonnel wat op hulle kon inval nie. In hierdie boek bring Albert Blake van die mees gewaagde ontsnappingspogings deur Boerekrygsgevangenes byeen. Hulle verstom met hul vindingryke planne om die Britse owerhede te uitoorlê en weg te kom uit kampe in Suid-Afrika en Indië, maar ook op die eilande van Bermuda, St. Helena en Ceylon. Hierdie opwindende, ware verhale getuig van mannemoed en die oorwinning van die menslike gees.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 9, 2015
ISBN9780624069980
Ontsnap!: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid
Author

Albert Blake

Albert Blake is die skrywer van die topverkoper Boereverraaier wat in die rolprent Verraaiers omskep is. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir Boerekryger: 'n Seun se hoogste offer. Hy matrikuleer aan Grey-kollege in Bloemfontein waarna hy militêre opleiding aan die Valskermbataljon ondergaan. Blake is 'n praktiserende prokureur in Roodepoort.

Read more from Albert Blake

Related to Ontsnap!

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Ontsnap!

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ontsnap! - Albert Blake

    Albert Blake

    ONTSNAP!

    Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid

    TAFELBERG

    VOORWOORD

    Wêreldwyd word mense nog altyd aangegryp deur die verhale van krygsgevangenes wat ten spyte van lewensgevaar in ’n tyd van oorlog groot waagmoed aan die dag lê en uit aanhouding probeer ontsnap. Hul blykbaar onbreekbare gees en onstuitbare versugting na vryheid dwing geweldige bewondering af.

    Sedert die Tweede Wêreldoorlog het ’n magdom boeke oor die onderwerp verskyn.¹ In die internasionale rolprentbedryf het krygsgevangenes se ontsnappingsverhale, veral dié wat tydens die Tweede Wêreld- en Viëtnam-oorloë afspeel, as’t ware in ’n eie genre ontwikkel. Verskeie van dié rolprente is ook vir Oscars benoem of daarmee bekroon.²

    Die ontsnapping van die jeugdige Winston Churchill uit ’n krygsgevangekamp vir Britse soldate in die Staatsmodelskool in Pretoria aan die begin van die Anglo-Boereoorlog het ook feitlik oornag vir hom roem gebring. Enkele maande later, ná sy terugkeer na Engeland, is hy selfs tot die Britse parlement verkies.³ Sy ontsnapping is geweldig in die Britse pers en daarna in die Engelse literatuur opgeblaas. Jare lank is die aanspraak dat Churchill deur die mighty Apies River in Pretoria na vryheid moes swem, in Suid-Afrika bespotlik gemaak. Die Apiesrivier is immers nie veel meer as ’n stroompie nie. Churchill, wat nie juis ’n beskeie mens was nie, het die publisiteitsgolf egter gery en politieke munt daaruit geslaan.⁴

    Churchill se ontsnapping is nie net die bekendste van die Anglo-Boereoorlog nie, maar word soms as een van die beroemdste ontsnappings in moderne oorlogstye beskryf.⁵ Tog steek dit, wat die vlak van gewaagdheid betref, in vele opsigte af by ’n menigte ander, minder bekende ontsnappings. Dit bly nietemin ’n sprekende voorbeeld van hoe mense – soms ’n hele nasie – deur ’n oorlogstydse ontsnapping meegevoer kan raak.

    Buiten enkele gevalle het die ontsnappings en pogings tot ontsnapping deur Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog nie dieselfde vlak van aandag in die Afrikanergeskiedskrywing geniet as krygsgevangenes se ontsnappings in byvoorbeeld die Britse en Amerikaanse geskiedskrywing nie.⁶ Oor die heldhaftigheid van die bittereinders, die lyding in die konsentrasiekampe, die verwoesting van die verskroeideaardebeleid en die heldedade op die slagveld het ’n onophoudelike stroom werke verskyn. Daarteenoor is daar aansienlik minder gepubliseerde werke oor persoonlike ervarings in die krygsgevangekampe en, met enkele uitsonderinge na, is dit meestal herhalings van dieselfde minder omstrede onderwerpe.

    Die eerste omvattende akademiese werk oor die breër fasette van Boerekrygsgevangenskap het eers in 1975 die lig gesien met S.P.R. Oosthuizen se doktorale proefskrif, Die beheer, behandeling en lewe van die krygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902. ’n Meer onlangse werk in dié verband is Elria Wessels se Bannelinge in die vreemde (2010).

    ’n Samevattende werk wat uitsluitlik op Boerekrygsgevangenes se ontsnappings en pogings tot ontsnapping fokus, het egter nog nooit verskyn nie. In werklikheid het die meerderheid gepubliseerde ontsnappingspogings, buiten enkele bekendes, betreklik gou ná die oorlog in vergetelheid verval. Moontlik het dit daarmee te doen dat die lot van die gevange burger in die vreemde algemeen nie as naastenby so erg soos dié van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe beskou is nie. Dalk was daar ’n element van onderliggende skaamte en skuld aan krygsgevangenskap gekoppel.

    Daar is ook ’n persepsie dat die omvang van die Boere se ontsnappingspogings beperk was. Daar word algemeen geglo die geografiese ligging van veral die oorsese krygsgevangekampe, wat duisende kilometers van Suid-Afrika was, het suksesvolle ontsnapping bykans onmoontlik gemaak. Om al hierdie redes is die onderwerp moontlik nie as ondersoekwaardig beskou nie.

    Soos ek met my navorsing vir hierdie boek gevorder het, het ek gevind die omvang van die ontsnappingspogings was veel groter as wat algemeen aanvaar word. Uiteindelik moes dit selfs beperk word deur slegs oorsigtelik te verwys na ontsnappingspogings kort ná gevangeneming en vanuit binnelandse aanhoudingsplekke. In hierdie boek lê die klem eerder op ontsnappingspogings vanuit gevestigde krygsgevangekampe aan die Suid-Afrikaanse kus en oorsee, asook vanaf skepe en treine waarop krygsgevangenes vervoer is. Daar word ook kortliks gekyk na ontsnappings vanuit die konsentrasiekampe, asook voorbeelde van enkele merkwaardige ontsnappings uit ander binnelandse aanhoudingsplekke.

    Al het ontsnappings uit die oorsese kampe nie op groot skaal plaasgevind nie, bly dit ’n verstommende prestasie weens die uiters moeilike omstandighede waaronder dit plaasgevind het. Anders as wat dikwels aanvaar word, het Boerekrygsgevangenes die bykans onmoontlike vermag en wel suksesvol van krygsgevangekampe in Bermuda, St. Helena, Ceylon, Indië en Portugal ontsnap.

    Dit sal waarskynlik nooit bekend wees presies hoeveel Boerekrygsgevangenes suksesvol uit aanhoudingskampe weggekom het nie. In die argiewe het ek soms toevallig op inligting van vergete ontsnappings afgekom, maar verdere leidrade het dan in doodloopstrate geëindig. Die oogmerk met hierdie boek is ook nie om ’n volledige opsomming van alle ontsnappingspogings te gee nie.

    Enkele persoonlike vertellings is kort ná die oorlog gepubliseer. In sy Duitse werk 23 Jahre Sturm und Somer in Südafrika, wat reeds in 1902 verskyn het, bespreek Adolf Schiel onder meer sy betrokkenheid by ontsnappingspogings uit kampe by Simonstad en op St. Helena. In 1903 het J.L. de Villiers se Hoe ik ontsnapte verskyn, wat handel oor sy merkwaardige ontsnapping in Indiese vermomming vanuit ’n krygsgevangekamp in Indië en sy daaropvolgende vlug na Europa.

    In 1932 verskyn L.A. Visagie se Terug na kommando, wat die dramatiese en klassieke ontsnapping van vyf Boere beskryf wat van ’n Britse skip in die hawe van Colombo in Ceylon (vandag Sri Lanka) gespring en na ’n Russiese skip geswem het. Die vyf se daaropvolgende tog oor Rusland en Europa terug na Suid-Afrika waar hulle weer by die Boeremagte aangesluit het, het destyds wêreldwye publisiteit geniet. In 1988 is dié ontsnapping verwerk in C.J. Barnard se Vyf swemmers, wat steeds die volledigste beskrywing van ’n ontsnappingspoging deur Boerekrygsgevangenes tydens die oorlog is.

    Gepubliseerde herinneringsboeke soos A.J. van Blerk se Op die Bermudas beland (1949), P.J. Nienaber se verwerking van H. de Graaff se dagboek as Boere op St. Helena (1950) en ’n paar ander bied inligting oor ontsnappingspogings, maar meestal sonder om in groot detail daaroor uit te wei. Die herinneringe van ’n paar oudstryders oor ontsnappingspogings is in enkele tydskrifartikels in Die Huisgenoot en Die Brandwag van die laat 1930’s en ’40’s vervat. Sedert die laat 1940’s het die joernalis Gideon Joubert herinneringe van oudstryders versamel vir sy rubriek Stop van myne in Die Volksblad, wat ook belangrike inligting oor die onderwerp bevat.

    Meer onlangs het die publikasiereeks die Christiaan de Wet-annale dagboeke en herinneringe van krygsgevangenes gepubliseer waarin daar terloopse verwysings na ontsnappingspogings is. ’n Uitsondering is Andries Smorenburg se beskrywing van sy skouspelagtige ontsnappingspoging vanaf St. Helena in ’n aandenkingshoutkas. In die 1980’s het Cornelius de Jong se Skandinawiërs in die Tweede Anglo-Boere-oorlog in drie dele verskyn met vertalings van herinneringe van Skandinawiërs wat aan Boerekant geveg het, en daarin is belangrike inligting oor vroeë ontsnappingspogings vervat. Die meerderheid Boerekrygsgevangenes wat ontsnappingspogings meegemaak het, het hul ervarings ongelukkig nie in latere jare opgeteken of gepubliseer nie.

    Belangrike primêre inligting oor die ontsnappingspogings van Boerekrygsgevangenes is in die argiewe van Pretoria en Bloemfontein se verskillende aanwinste en die Oorlogsmuseum in Bloemfontein se versameling gevind. In die argief in Pretoria was die Archives of the Staff Officer, Prisoners of War, Cape Town (SOPOW) en die Archives of the Provost Marshall at Army Headquarters, 1900-1903, (PMO) van waarde.

    Die talle dagboeke van krygsgevangenes in veral die Oorlogsmuseum het gehelp om onbekende ontsnappingspogings te identifiseer. Dit is opvallend dat dit in die meerderheid dagboeke voorkom asof die krygsgevangenes huiwerig was om in besonderhede uit te wei oor ontsnappingspogings waarvan hulle moes geweet het. Dikwels word dit heeltemal verswyg. Moontlik was hulle bekommerd dat hulle of die mense oor wie hulle skryf in die moeilikheid kon beland as hulle die onderwerp in hul dagboeke aanraak en die streng Britse sensors daarop beslag lê.

    Persoonlike dokumentasie van Boerekrygsgevangenes soos briewe is meestal ook nie van waarde nie, want die hand van die ongenaakbaar deeglike Britse sensor het daar ook verhoed dat die volle waarheid vertel word. Uit vrees vir vergelding teenoor helpers is sensitiewe inligting oor ontsnappingspogings gevolglik vermy. Selfs in publikasies wat kort ná die oorlog verskyn het, is die identiteit van burgerlike meewerkers wat ontsnappers behulpsaam was uit vrees vir vergelding verswyg.

    Sommige krygsgevangekampe soos Deadwood op St. Helena en Diyatalawa in Ceylon het ’n groot aantal dagboeke opgelewer, terwyl daar oor minder bekende kampe (veral in Indië en in ’n mindere mate Ceylon en Bermuda) skrapse inligting is. As daar ontsnappingspogings vanuit daardie kampe was, het daardie inligting waarskynlik verlore geraak. Waar oudkrygsgevangenes dekades later hul herinneringe opteken, het die outeurs se geheue hulle dikwels in die steek gelaat en moes die ware feite met moeite ontrafel word.

    Ure se vrugtelose gesoek in die argiewe na nuwe inligting kan vir die ongeduldige navorser baie frustrerend wees. Gelukkig bied moderne tegnologie en die internet wonderlike geleenthede vir die historikus om verdere inligting op te spoor. Nie net vergemaklik dit toegang tot die onontbeerlike databasisse van bewaarplekke soos die nasionale en provinsiale argiewe en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke nie, maar dit maak ook ’n magdom inligting beskikbaar soos berigte wat gedurende die oorlog in buitelandse koerante verskyn het, wat ’n mens andersins dalk nie onder oë sou kon kry nie.

    Die publisiteit wat die Boere se ontsnappingspogings destyds in koerante in alle uithoeke van die wêreld ontvang het, was ’n openbaring. Verhale wat vandag in Suid-Afrika grotendeels vergete is, het destyds wêreldwyd opslae gemaak.

    Krygsgevangenes se ontsnappingsverhale word natuurlik deur ’n sekere mate van romantiek omgeef, wat beteken dit word maklik aangedik. Dit bly uiteraard die historikus se plig om tussen verdigsel en feit te onderskei en dus skepties te bly totdat genoegsame verifikasie vir alle aansprake gekry is. Tog is die ou bekende gesegde dat die waarheid soms vreemder as fiksie is, dikwels hier van toepassing. Die wedervaringe van sommige van die burgers wat probeer ontsnap het, klink inderwaarheid na verbeeldingsvlugte uit fiksieverhale, maar dit is waar.

    Die doel is nie net om suksesvolle ontsnappings te beskryf nie, maar ook pogings wat misluk het. Sommige van die mislukte ontsnappingspogings is net so aangrypend as dié wat geslaag het. Ander weer was desperate en soms naïewe pogings, wat dikwels op die oog af aangepak is sonder enige ontsag vir die moontlike gevolge daarvan. Tog bly dit ’n toonbeeld van die mens se onblusbare strewe na vryheid.

    In die onnatuurlike omstandighede wat oorlog meebring, kom die slegste van die mens na vore, maar ook gereeld die beste. Dié kontras vorm ’n sentrale tema van hierdie werk. Enersyds is die ontsnappingspogings van die Boerekrygsgevangenes inspirerende ware verhale van durf en moed. Die verhale van Boerekrygsgevangenes se ontsnappings ontbloot andersyds ook die mens se feilbaarheid, want die mislukking van talle ontsnappingspogings was nie weens die gevangenes se onvermoë nie, maar as gevolg van verraad in eie geledere.

    Die mensdom sal waarskynlik altyd gefassineer wees deur verhale van gewone mense wat buitengewone dinge doen en van die onbreekbare gees van party. Dit het inderdaad uitsonderlike eienskappe van krygsgevangenes geverg om te probeer ontsnap, ongeag of hulle suksesvol was of nie. Dié boek stuur nie af op eensydige of onverbloemde heldeverering nie, maar ’n ewewigtige vertelling van historiese gebeure wat ons wel vandag nog kan inspireer. Dit is merkwaardige geskiedenis wat nie verlore behoort te gaan nie.

    1

    DIE EERSTE ONTSNAPPING

    Terwyl die HMS Penelope die nag van 18 Desember 1899 met gevange Boere in die baai van Simonstad geanker lê, klim die 20-jarige Kepler de Meillon deur ’n patryspoort van dié Britse oorlogskip, waarna ’n paar burgers hom help om ongemerk met ’n skeepstou na die water te sak. Op die skeepsbrug trek ’n ander krygsgevangene die Britse wag se aandag af van wat die eerste ontsnapping van ’n Boerekrygsgevangene vanaf ’n Britse skip sal wees.¹

    Toe die oorlog net meer as twee maande vroeër op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, het die leiers van sowel Groot-Brittanje as die twee Boererepublieke naïef geglo dit sou teen Kersfees reeds verby wees. Die uitgerekte en verwoestende oorlog wat sou volg, is nie voorsien nie. Gevolglik het geeneen van die partye aanvanklik behoorlik voorsiening gemaak vir die oprigting van aanhoudingskampe vir duisende krygsgevangenes nie.²

    Met die bloedige nederlaag op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte in Natal word die eerste Boerekrygsgevangenes deur die Britte geneem. Kepler de Meillon word ook gevange geneem nadat albei sy perde in die geveg doodgeskiet is.³ Saam met 186 ander krygsgevangenes word hy na Durban vervoer, van waar hulle per skip na die Britse vlootbasis by Simonstad aan die Kaapse Skiereiland geneem word. Op 2 November 1899 word dié groep krygsgevangenes na die HMS Penelope oorgeplaas.⁴ Ander Boere wat tydens die eerste fase van die oorlog gevange geneem is, is ook op Britse vloot- en transportskepe in Simonsbaai aangehou, terwyl die Britse owerhede rondgeval het om krygsgevangekampe op land by Simonstad en Groenpunt in Kaapstad op te rig. Die situasie het al hoe meer onhanteerbaar begin word.⁵

    Dit was ’n tyd van onsekerheid en ontbering, maar ook verveling vir die krygsgevangenes op die skepe. Met die terugslae wat die Britse magte in die beginfase van die oorlog op al die fronte gely het, was gerugte in omloop dat die Boerekrygsgevangenes vir Britse krygsgevangenes uitgeruil sou word.⁶ Nie al die krygsgevangenes was gediend daarmee om met die frustrerende onsekerheid, eentonigheid en swaarkry op die skepe saam te leef nie.

    Copernicus Kepler de Meillon was een van daardie uitsonderlikes wat hom deur niks en niemand sou laat inperk nie – ’n individualis met ’n sterk wil en ’n hardekwas en roekelose streek. Dit is waarskynlik ook hierdie uitsonderlike eienskappe wat op die lange duur tot sy dood sou bydra.

    Voor die oorlog het die jong De Meillon ’n suksesvolle klein melkery en konstruksieonderneming in Johannesburg bedryf. Sy ouers was vooraanstaande en welgestelde Afrikanerinwoners van die stad. Sy pa was kommandant van Johannesburg, maar het weens siekte nog voor die oorlog van die amp afstand gedoen. Te oordeel na al die geskrifte in Pretoria se argief oor geskille waarby De Meillon sr. in die 1890’s betrokke was, moes hy na alle waarskynlikheid ’n moeilike man gewees het.

    Met die naderende oorlog is Kepler de Meillon reeds voor die einde van September 1899 saam met die Johannesburgse kommando na die Natalse front, terwyl hy sy onderneming in sy pa se sorg gelaat het.

    Nadat De Meillon se makkers hom vanaf die Penelope in die water neergelaat het, slaag hy daarin om ongesiens na ’n verlate skuitjie te swem wat halfpad tussen die skip en die land aan ’n boei vasgemeer is. Daar rus hy ’n rukkie in die skuitjie, waarna hy na die land swem. Op die strand gee hy ’n laaste teken aan sy makkers op die Penelope dat hy veilig is voordat hy in die nag verdwyn.

    Die volgende oggend kom die Britse wagte met die aflees van die naamlys (roll call, of spottenderwys roukool deur die Boere genoem) agter een van die krygsgevangenes op die Penelope is weg. ’n Kat-en-muis-speletjie volg tussen De Meillon se makkers en die wagte. Om tyd te probeer wen, noem sy neef Henry de Meillon¹⁰ dat een van hulle by die dokter is. Nadat vasgestel is dit is nie die geval nie, is die skip haarfyn deurgesoek.

    Intussen het De Meillon se groepbevelvoerder, adj. Johannes Smith¹¹, sy gemaakte besorgdheid teenoor die Britse offisier uitgespreek dat De Meillon dalk oorboord geval en verdrink het omdat hy nie kon swem nie. De Meillon sou kwansuis die afgelope tyd baie neerslagtig en afsydig gewees het. Twee ander gevangenes dik nog aan en vertel hulle is die vorige nag deur ’n geskreeu wakker gemaak. Nadat hulle uit hul hangmatte geklim en ondersoek ingestel het, kon hulle niks vind nie en het hulle die lawaai afgemaak as iemand wat in sy slaap geskree het.¹²

    ’n Tyd lank sluk die Britse bevelvoerder die versinsels en hy ontbied ’n duiker vanaf die Britse kruiser HMS Doris¹³ wat van naby af ’n wakende oog oor die Penelope gehou het. In sy dagboek skryf die krygsgevangene Leendert Ruijssenaers¹⁴ die Boere het oor die relings van die Penelope geleun en die spektakel met gemaak strakke gesigte aanskou. Nietemin moes die duiker met sy boaardse duikpak van daardie tyd vir hulle ’n vreemde skouspel gewees het toe hy die dieptes ingelaat is. Nadat hy ’n paar uur om die Penelope beweeg het, kon die duiker net ’n paar ou skoene en onbelangrike artikels op die seebodem vind totdat hy sy soektog weens uitputting moes staak. Die Britse bevelvoerder het begin vermoed De Meillon het ontsnap.

    Nog dieselfde aand is ysters voor die patryspoorte van die Penelope aangebring en die wagte verdubbel. Geeneen van die gevangenes is weer toegelaat om op die dek te slaap nie – ’n vergunning wat aan sekeres verleen is om die bedompige onderste ruim te vermy. Voortaan is absolute stilte saans ná 21:00 afgedwing. In ’n poging om die Britte op ’n verdere dwaalspoor te bring, is De Meillon beskryf as ’n 40-jarige man met ’n blas gelaat en swart baard, terwyl hy in werklikheid 20 jaar oud was met ’n ligte gelaatskleur, blonde hare en grys oë. Hierdie keer laat die Britte hulle nie vang nie en ’n korrekte beskrywing van De Meillon is na die land gestuur. In die binneland is ’n grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur.¹⁵

    Luidens ’n berig in ’n buitelandse Engelstalige koerant het De Meillon in ’n huis in Observatory geskuil.¹⁶ Waarskynlik het hy die hulp van familie gehad wat in die Kaap gewoon het. ’n Medegevangene, D.J. du Toit,¹⁷ vertel in sy herinneringe De Meillon het ’n paar dae lank by sy oom weggekruip toe ’n goedgesinde Engelse buurvrou hulle kom waarsku die polisie is op sy spoor en hy moet dadelik vlug. Voorsien van genoeg geld het De Meillon hom na die naaste stasie gehaas en op ’n trein geklim wat gereed was om te vertrek. Die geluk was egter teen hom, want die trein was op pad terug na Simonstad en daar was ’n wakker speurder aan boord. De Meillon is by Wynberg in hegtenis geneem en in die Kaapstadse tronk gestop.¹⁸

    Die Britse militêre owerhede kon nie keer dat die nuus van De Meillon se ontsnapping uitlek nie. Dit was groot nuus in die internasionale Engelse pers.¹⁹ Dit het selfs in die Britse parlement opslae gemaak waar verduidelik moes word waarom niemand vir nalatigheid aanspreeklik gehou is nie.²⁰

    ’n Engelse verslaggewer wat ná De Meillon se gevangeneming ’n onderhoud met hom probeer voer het, het hom as ’n well-set up young fellow beskryf. De Meillon was egter ontwykend met sy antwoorde, hoewel hy duidelik aan die verslaggewer te kenne gegee het hy gaan weer probeer ontsnap. Op 8 Januarie 1900 is hy terug by sy medegevangenes, wat hom soos ’n held ontvang. Ook teenoor hulle onderneem hy om weer te ontsnap.²¹

    De Meillon het woord gehou en minder as twee maande later, op 6 Maart 1900, ontsnap hy saam met ’n groep gevangenes met die groot uitbraak uit die kamp by Simonstad. Hierdie keer is sy ontsnapping suksesvol. De Meillon het sy weg uit die vyandelike Kaapse Skiereiland waarskynlik met behulp van pro-Boere gevind en daarna aangesukkel totdat hy in die Karoo goedgesinde Afrikaners gevind het wat hom ’n perd gegee het om na die naaste dorp te ry. Daar is hy van geld en ’n fiets voorsien. Uiteindelik het hy ná vele ontberinge in Oos-Transvaal aangekom, waar hy by ’n kommando van genl. Chris Botha aangesluit het en ook onder genl. Coen Brits tot aan die einde van die oorlog as bittereinder diens gedoen het.²²

    De Meillon vind ná die oorlog met sy terugkeer na Johannesburg sy ouers moes na die Kaapkolonie uitwyk en sy melkery en konstruksieonderneming het tot niet gegaan. In die naoorlogjare was dit bitter moeilik om werk in die verwoeste land te kry en hy besluit om sy geluk op die delwerye by Barberton te probeer. Volgens verskillende bronne was hy sterk anti-Brits en het hy later besluit om na Duits-Wes-Afrika (die hedendaagse Namibië) uit te wyk eerder as om onder Britse oorheersing aan te bly. Daar het hy gehelp om die Herero-opstand van 1904-’07 te onderdruk. Kort voor die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 verloor De Meillon ’n hofsaak oor omstrede mynregte in Duits-Wes wat hom verbitterd teenoor die Duitsers maak. Terug in Suid-Afrika het genl. Jan Smuts hom klaarblyklik persoonlik oorreed om sy en genl. Louis Botha se beleid van samewerking met die Engelssprekendes te volg.²³

    Met die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 bied De Meillon sy dienste aan die Unieweermag en word hy as intelligensieoffisier in die Imperial Light Horse aangestel – dieselfde eenheid wat 12 jaar tevore die vyand was. De Meillon was op die voorpunt van die Unieweermag-troepe wat Duits-Wes in 1914 binnegeval het en was die leier van die eerste groepie Suid-Afrikaanse troepe wat Lüderitzbucht (later Lüderitz) vanaf die see beset het. Daarna neem De Meillon met onderskeiding aan verskeie skermutselinge deel, waartydens hy gewond word. Hy herstel van sy wonde, neem verder aan die veldtog deel en verwerf bekendheid vir sy waaghalsigheid. Maar sy uurglas loop uit as hy op 22 Februarie 1915 in ’n skermutseling met die Duitsers by Aus sneuwel.²⁴

    Dat vuurvreter-bittereinders soos De Meillon skaars 12 jaar ná die Anglo-Boereoorlog aan die Britse oorlogspoging sou deelneem, het grootliks te doen met die charisma van genls. Botha en Smuts. In die geval van die hardkoppige De Meillon het sy ommeswaai waarskynlik ook te doen gehad met sy vete met die Duitsers. So ver as in Nieu-Seeland het die koerant The Ohinemuri Gazette die verandering van ’n vurige anti-Britse De Meillon in ’n aktiewe ondersteuner van die Britse oorlogspoging met die Eerste Wêreldoorlog op ’n interessante dog tipies jingoïstiese wyse in 1915 probeer verduidelik:

    Little has been heard since the Boer War of Captain De Meillon, whose tragic death in German South-West Africa is just announced. His somewhat strange and romantic life casts an interesting light on how the mind of the fighting Boer in the individual as in the aggregate is subject to fluctuation of racial passion. De Meillon fought against the British with conspicuous tenacity. The termination of the Boer War by no means brought a softening of his ill-regard of the British. Rather than take the oath of fealty, he went into German South-West Africa. Meanwhile he had a taste of German justice and equity. A little more than a year ago he returned to the Transvaal, and learned exactly what Great Britain had done for South Africa, and how the Dutch were faring under the new regime … It resulted in his taking the oath of loyalty to South Africa and His Majesty the King, and when the conquest of German South-West Africa was decided upon there was no keener in the Union forces than De Meillon … The erstwhile Boer officer [sic] and anti-Briton subsequently became Chief of Intelligence to the Botha forces. It was at Aus where he met his death: With a handful of Hottentots he was ambuscaded, and fell riddled by German bullets.²⁵

    De Meillon is die toonbeeld van die bittereinder in die Anglo-Boereoorlog, maar sy deelname aan die Unieweermag se inval in Duits-Wes-Afrika bly ook ’n voorbeeld van die verdeeldheid wat ná die Boereoorlog onder die eens hegte groepie bittereinders ontstaan het. ’n Onwrikbare groep Afrikaners was sterk gekant teen die inval omdat dit die Britse oorlogspoging aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog gesteun het en in wese vir hulle immoreel was. Van dié groep wou ook van die geleentheid gebruik maak om die verlore republieke te herstel. Die gevolg was die Rebellie in 1914 waarin eertydse volksbroers die wapen teen mekaar opgeneem het.²⁶

    Met sy eerste ontsnappingspoging in Desember 1899 het Kepler de Meillon die voorbeeld gestel vir ander waagmoediges om te volg. Aan die begin was daar gereeld pogings om te ontkom, maar die Britse militêre owerhede het gou uit hul foute geleer en het dit algaande moeiliker vir die krygsgevangenes gemaak om te ontsnap.

    2

    DIE ONTEMBARES

    Die uitgelese groepie Boerekrygsgevangenes wat enigiets sou doen om weer vryheid te smaak, was nie net onverskrokke nie, maar in baie gevalle ook ontembaar. Party is vermoedelik gedryf deur die adrenalien en opwinding wat gevaarlike situasies bring, terwyl ander dit eenvoudig nie kon duld om so ingeperk te wees nie.

    Dit verg ’n besondere individu om met ontoereikende gereedskap, soms selfs met kaal hande, in die stikdonker en in stilte ’n tonnel te grawe wat enige tyd kan intuimel en jou versmoor. Dit verg uiterste waagmoed om deur skynbaar ondeurdringbare doringdraadversperrings na vryheid te hardloop met die wete dat jy deur Maxim-masjiengewere afgemaai kan word, óf om in die nagdonker alleen vanaf ’n gevangenisskip in onstuimige haaiwaters te spring en onder soekligte tussen bote met gewapende wagte op na vryheid te swem, óf om duisende kilometers van jou vaderland uit aanhouding te ontsnap en meer as halfpad om die aarde jou weg terug na die oorlogsterrein te moet vind …

    Dié mense het geen tekort aan waagmoed gehad nie. Sulke individue vind ’n mens in feitlik alle oorlogsituasies en alle volke, ook onder die Boerekrygers van die Anglo-Boereoorlog. Dit het uitsonderlike eienskappe geverg om die bykans onmoontlike aan te pak sonder enige versekering dat jy suksesvol sal wees of eers met jou lewe daarvan sal afkom. Tog was hul versugting na vryheid die een ding wat talle krygsgevangenes aan die gang gehou het.

    Om hul dryfvere te bepaal, sou ’n psigobiografiese persoonlikheidsondersoek van al die ontsnappers vereis, maar dit is weens ’n gebrek aan inligting nie moontlik nie. Op die oog af kom dit egter voor asof die Boerekrygsgevangenes wat tot elke prys uit aanhouding probeer ontsnap het jong, patriotiese avonturiers was. Talle is gekenmerk deur ’n soort roekelose rusteloosheid en ’n gebrek aan ontsag vir lewensgevaarlike situasies. Dikwels is hulle gevange geneem nadat hulle hewige teenstand op die slagveld gebied het. Hulle is dus nie die soort wat in die eerste plek maklik sou oorgee nie. Dit is ook opvallend dat heelwat van dié wat probeer ontsnap het aanvanklik in die vyand se hande beland het omdat hulle gewond is.

    ’n Mens kan nie veralgemeen oor watter soort mens die tipiese ontsnapper was nie, want krisistye bring eienskappe in mense na vore wat jy andersins nie noodwendig by hulle sou aantref nie. Wat wel opval, is dat dit met enkele uitsonderings na nie die beroemde gevange offisiere is wat gewaagde ontsnappingspogings aangedurf het nie. Dit is meestal ook nie juis individue wat voor die oorlog bekend was of in die gemeenskap uitgestyg het nie. Slegs ’n klein persentasie het voor die oorlog opleiding as soldate ontvang.¹ Wanneer ’n mens kyk na die soort werk wat van die ywerigste ontsnappers voor die oorlog gehad het, was dit alledaagse beroepe soos winkelassistent², bankklerk³, myner⁴, spoorwegwerker⁵, boer en selfs student⁶.

    Nietemin kom dit voor asof die meerderheid krygsgevangenes wat ontsnappingspogings gewaag het intellektueel meer gesofistikeerd as die deursnee-Boer was. Baie het beter skoolopleiding ontvang en ’n noemenswaardige aantal het universiteitsopleiding op Stellenbosch en selfs in Brittanje en Europa ondergaan, wat vir daardie tyd uitsonderlik was.

    Dit is interessant dat heelparty buitelandse vrywilligers wat aan die kant van die Boeremagte geveg het en gevange geneem is, ook probeer ontsnap het. ’n Groot deel van hulle was avonturiers, van wie party ’n element van waaghalsigheid gehad het. Dit is opmerklik dat die buitelandse vrywilligers sulke ervarings meer geredelik as hul Afrikaanse kamerade opgeteken het.

    Wat vasstaan, is dat die meerderheid krygsgevangenes wat probeer ontsnap het uit die geledere van die bona fide-Boerekrygers gekom het en tot die einde van die oorlog aan die republikeinse ideaal getrou gebly het. Die vasberade vuurvreters wat wou uitbreek, was in die meeste krygsgevangekampe deurgaans onder die lojale republikeine te vinde. Die meeste van hulle se einddoel was om weer by die Boeremagte in die veld aan te sluit om die vryheidstryd voort te sit. Dit was dikwels ook diegene wat ná ’n onsuksesvolle poging weer herhaaldelik sou probeer ontsnap.

    Baie ander wou egter gewoon van die frustrasie en ellende van inperking bevry word. Hulle sou nie noodwendig na hul kommando’s terugkeer nie.⁸ Wat minder bekend is, is dat etlike manlike aangehoudenes in die konsentrasiekampe meer om persoonlike as patriotiese redes probeer wegkom het.

    Die feitlik universele bewondering wat ontsnappingspogings van krygsgevangenes afdwing, het deels daarmee te doen dat hul aanhouding beskou word as iets waaroor hulle min of geen beheer gehad het nie. Dit is immers opponerende regerings wat besluit om oorlog te voer en die lot van individuele soldate is uiteindelik ’n uitvloeisel hiervan. Soos die latere hoofregter van Suid-Afrika Jacob de Villiers, wat ’n Boerekrygsgevangene in die Groenpunt-kamp en in Bermuda was, in sy dagboek oor die lot van die krygsgevangene geskryf het: We are only prisoners of war, not criminals.

    Ontsnappings en verraad

    Die Boerekrygsgevangenes was ’n goeie weerspieëling van die manlike Afrikanerbevolking aan die einde van die 19de eeu. Onder hulle was intellektuele en agterlikes, rykes en sukkelende bywoners, godsdienstige dwepers en ateïste, eerlikes en oneerlikes, getroues en ontroues.¹⁰ Onder ’n noemenswaardige groep het ’n naïewe godvresendheid gegeld. Aangesien hul geloof vir hulle voorgeskryf het dat hulle hul lot moes aanvaar, sou dié mense nie van konvensionele gedrag afwyk nie. Hoewel daar talle voorbeelde is van krygsgevangenes wat aan ontsnappingspogings deelgeneem het, was die meerderheid egter nie ontsnappingsmateriaal nie – nie eens die toegewyde patriotte nie.

    Die Britse propagandamasjien het die getal Boere wat gevange geneem en na die verskillende krygsgevangekampe gestuur is dikwels hoër gemaak as wat dit werklik was. Duisende van die krygsgevangenes was egter nie vegtende burgers nie en was om verskillende redes nie krygsvaardig nie. Daar was bejaardes van oor die 80 jaar en seuntjies so jonk as sewe jaar wat na die oorsese krygsgevangekampe gestuur is.¹¹ Onder hulle was ook blindes, dowes, verstandelik gestremdes en oorlogsverminktes. Dit spreek vanself dat sulke mense nie ontsnappingsmateriaal was nie.

    Baie krygsgevangenes was hendsoppers wat nie verder aan die oorlog wou deelneem nie, maar wat weens die rigiede Britse oorlogsbeleid steeds na die oorsese kampe verban is. Party is deur Britse troepe op hul plase aangekeer waar hulle ten spyte van die oorlog met hul boerdery probeer voortgaan het.

    Dit alles maak ’n bespotting van die Britse militêre owerhede se amptelike aansprake dat hulle slegs bona fide-Boerekrygers na die oorsese kampe gestuur het. Gevolglik is dit moeilik om te bepaal hoeveel van die sowat 32 000 Boere wat tydens die oorlog gevange geneem is en van wie meer as 26 000 na oorsese kampe (Portugal uitgesluit) gestuur is, werklik krygers was.¹²

    Die meeste krygsgevangenes het hulle in elk geval met hul onbenydenswaardige lot versoen en sou hoofsaaklik weens die skynbaar geringe kans op sukses nie by lewensgevaarlike ontsnappingspogings betrokke raak nie. Die gemiddelde Boerekryger was immers ’n gewone burgerlike en nie ’n professionele soldaat nie. ’n Groot aantal burgers was produkte van ’n pre-industriële samelewing en die meerderheid was by die een of ander vorm van boerdery betrokke. Hulle was dus nie ’n soort superwese soos dikwels in die verlede voorgehou is nie.

    Baie van die krygsgevangenes was boonop oorlogsmoeg en wou net ’n einde aan al die swaarkry, smart en verdriet hê.

    Die burgers van die twee Boererepublieke was nooit ’n homogene groep nie. Almal was ook nie ewe getrou aan die republikeinse ideaal nie. Die verraad wat tydens die Anglo-Boereoorlog regoor die twee republieke onder Afrikaners voorgekom het, het ook na die oorsese krygsgevangekampe oorgespoel. Dieselfde verdeeldheid wat tussen die strydende bittereinders aan die een kant en die hendsoppers en joiners aan die ander kant geheers het oor die vraag of die oorlog voortgesit moet word al dan nie, het ook ’n onversoenbare kloof tussen die republikeinsgesinde

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1