Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die beek 2014
Uit die beek 2014
Uit die beek 2014
Ebook776 pages6 hours

Uit die beek 2014

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Vanjaar se 365 oordenkings kom uit Eksodus, Rigters, Esra, Nehemia, Prediker, Jeremia, Sagaria (Ou Testament) en Markus, 1 en 2 Korintiërs en 1 en 2 Petrus uit die Nuwe Testament. Sondae lees ons uit die Psalms.
Ds AJ van Wijk sr. het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Psalm 110:7 in die Nederlandse Bybel: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen”.
Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Hierdie jaar s’n is die 89ste uitgawe daarvan.
Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Ontdek só dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 15, 2013
ISBN9780796313492
Uit die beek 2014
Author

Attie van Wijk

Attie van Wijk is ’n gesaghebbende en inspirasionele teoloog. Hy was prinsipaal van die Nehemia-Instituut en die Hugenote-Bybelinstituut op Wellington, asook Hoof van Bedienings van Bybel-Media en voorsitter van die Association of Christian Theological Schools. Hy en sy vrou, Wena, het vyf kinders wat in vyf verskillende lande woon, waar hulle almal aktief in diens van die Here staan.

Read more from Attie Van Wijk

Related to Uit die beek 2014

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die beek 2014

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die beek 2014 - Attie van Wijk

    Uit die

    Beek

    2014

    Attie van Wijk

    Lux Verbi

    Voorwoord

    Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy al vyf jaar in die siklus saam met ons gestap het, het jy al 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Dit is daarom belangrik om ook die aand-gedeelte elke dag te lees.

    Gebruik asseblief die Gebedsgids in hierdie boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

    Ds. A.J. van Wijk sr. het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Ps 110:7 in die Nederlandse Bybel: Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen. ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons onsself elke dag moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie is die 89ste uitgawe daarvan. En ons sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

    In die Ou Testament lees ons vanjaar deur Eksodus, Rigters, Esra, Nehemia, Prediker, Jeremia en Sagaria. In die Nuwe Testament lees ons deur Markus, 1 en 2 Korintiërs en 1 en 2 Petrus. Sondae lees ons soos gewoonlik uit die Psalms. Ons sal agterkom hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

    Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julself toe te pas.

    Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is! Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

    Sake vir daaglikse voorbidding

    Sondag: Die uitdra van die evangelie

    Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    Dat die hoorders daders sal word

    Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    Maandag: Opleidingsinrigtings

    Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    Dat elke leerder kwaliteit-onderrig sal kry

    Dat dissipline herstel sal word

    Dat die jeug reg gevorm sal word

    Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    Dinsdag: Die jeug

    Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    Dat kinders die regte keuses sal maak

    Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    Woensdag: Owerhede

    Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    Dat die regering die regte besluite sal neem

    Dat die parlement God sal verheerlik

    Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    Donderdag: Sending en getuienis

    Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    Vir jul sendelinge en hul gesinne by name

    Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    Vir die nodige finansies vir die werk

    Vrydag: Diens van barmhartigheid

    Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    Vir bevryding uit die armoedespiraal

    Vir die inrigtings wat mense probeer help

    Vir die nodige finansies hiervoor

    Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    Saterdag: Herlewing

    Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Januarie

    Welkom by Eksodus!

    Skrywer:

    Dit is deel van die Tora, die boeke van Moses.

    Eerste lesers:

    Die Israeliete op pad van Egipte na die beloofde land.

    Datum:

    Tussen 1445 en 1405 v.C.

    Doel:

    Om die ontstaan van die volk Israel te verduidelik.

    Om die Paaslam as simbool van verlossing te verduidelik.

    Om die dwaasheid van afgodsdiens te beklemtoon.

    Hooftrekke:

    Die geboorte en roeping van Moses (1:1 – 4:31).

    Die tien plae (5:1 – 11:10).

    Die Paasfees en die uittog (12:1 – 15:21).

    Die reis van die Rietsee tot by Sinai (15:22 – 18:27).

    Die Tien Gebooie en die Verbond (19:1 – 24:18).

    Beskrywing van die tabernakel (25:1 – 31:18).

    Geestelike verval en herstel (32:1 – 35:3).

    Die bou en inwyding van die tabernakel (35:4 – 40:38).

    Let op na:

    Die almag van God wat sy mense wil bevry.

    God gee om vir mense in nood.

    God se heerlikheid en majesteit.

    God vergewe herhaaldelik wanneer ons afdwaal.

    God is ’n God van orde, ook in die manier wat ons Hom aanbid.

    Christus in EKSODUS:

    Die Paaslam verwys na Christus, die finale Paaslam (1 Pet 1:18-19).

    Die wet wys ons waarom Christus moes kom (Gal 3:24).

    Die Ek is van die brandende doringbos verwys na Christus.

    Christus is die lewende brood wat ons nodig het (Joh 6:35).

    Die water uit die rots verwys na Christus (1 Kor 10:4).

    Woensdag 1 Januarie 2014           Lees eers Eksodus 1:1-14

    Nuwejaarsdag

    Verrassende groei

    Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei […] – Eks 1:12

    GESELSVRAAG:

    Wat sal die getal gelowiges in ons land die vinnigste laat aangroei?

    Mag jy in 2014 veel verdrukking en vervolging ondervind! Nee, ek dink nie enigeen van ons sal vandag ons vriende en familie dít toewens nie. Ons praat eerder van ’n voorspoedige nuwe jaar. Maar wat bedoel ons daarmee? Net dat dit finansieel goed moet gaan? Of bedoel ons eintlik dat dit geestelik goed met ons moet gaan? Vreemd genoeg gaan dié twee nie dikwels saam nie. Dit is juis as dit met ons sleg gaan, dat ons geestelik begin groei. Dan leer ons die Here waarlik ken en vertrou. Dan leer ons bid en mekaar uit die Woord bemoedig.

    Die nuwe farao wat ná vier eeue niks meer van Josef geweet het nie, het ook nie meer die beloftes van die farao van daardie tyd as bindend beskou nie. Die Israeliete was vir hom ’n bedreiging; daarom het hy begin om hulle te verdruk. En die gevolg was net mooi die teenoorgestelde van wat hy wou gehad het!

    Moenie bid dat ons vervolging moet ophou nie, vra ’n Chinese kerkleier. Bid net dat ons standvastig sal bly in tye van vervolging. Die kerk in China het honderdvoudig gegroei sedert die Kommuniste begin het om die Christene te verdruk en dood te maak. Sal Christenvervolging in ons land ook goeie gevolge hê?

    GEBED:

    Here, help ons om vanjaar geestelik te groei.

    Lees vanaand in Eksodus 1:15-22 hoe die Here die doodmaak van die seuntjies verhoed het.

    Donderdag 2 Januarie 2014           Lees eers Eksodus 2:1-10

    Alles vir ’n doel

    […] Sy het hom Moses genoem, want, het sy gesê, ek het hom mos uit die water gehaal. – Eks 2:10

    GESELSVRAAG:

    Hoe wil die Here vanjaar deur my werk?

    Getafix, gee my weer van jou toormiddel daar, vra Asterix in die bekende strokie. Die toormiddel het hom oneindig sterk gemaak sodat hy sy missie met sukses kon voltooi. Miskien voel jy ook dat jy so iets nodig het, wanneer jy dink aan die uitdagings wat vanjaar vir jou wag. Maar die Bybel leer ons dat God op ander maniere met mense werk.

    Toe Hy besluit het om die gebede van die verdrukte Israeliete te verhoor, het hy ’n seuntjie aan twee eenvoudige mense uit die stam van Levi gegee. Hy het omstandighede en mense gebruik om die kind te beskerm en te sorg dat hy die beste opleiding aan die hof van die farao kon kry. Hy moes leer dat geweld geen oplossing is nie. Maar hy het boonop ’n woestyntyd nodig gehad voordat hy gereed was vir sy eintlike roeping.

    Dit is nie toevallig wie se kinders ons elkeen is nie. Dit is ook nie toevallig wat alles met ons gebeur het, en watter voorregte ons geniet nie. Dit is alles om ons te vorm vir die spesiale werk wat die Here vir ons elkeen in gedagte het. Hy wil jou en my toerus en in hierdie jaar gebruik. Ons moet dus ons oë oophou om God se geleenthede raak te sien. Hy wil ons gebruik om mense te help en die wêreld ’n beter plek te maak.

    GEBED:

    Dankie dat U ook vir my ’n spesiale werkie het, Here.

    Lees vanaand in Eksodus 2:11-25 hoe dit gebeur het dat Moses sy tweede veertig jaar in die woestyn deurgebring het.

    Vrydag 3 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 3:1-12

    Jy kan ook help

    […] Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor […] Daarom stuur Ek jou na die farao toe […] – Eks 3:7,10

    GESELSVRAAG:

    Wat behoort in ons omgewing te verander? Deur wie?

    Iemand moet iets daaraan doen, brom tant Lettie in ’n gesprek oor alles wat in ons dorp verkeerd is. Dit is korrek. Jy is ook iemand. Dit is wonderlik om te hoor watter wonderlike dinge deesdae gebeur as gewone gelowiges bewus raak dat hulle ook iemand is. God gebruik hulle om wonders te doen. God werk deur mense. Hy rus ons toe en Hy wil beheer oorneem om ons lewe te gebruik soos Hy dit beplan het.

    Moses was lankal bewus van dinge wat in Egipte verkeerd is. Hy het gesien hoe sy volksgenote mishandel word. Hy het woedend geword toe hy ’n Egiptenaar sien onreg pleeg. En toe pleeg hy self moord. Iemand wat so kort van draad is, is nog nie bruikbaar nie; daarom moes hy veertig jaar lank gaan skape oppas om geduld te leer. Toe eers kon die Here hom gebruik. God het die Israeliete se gebede verhoor, maar het eers tyd nodig gehad – tagtig jaar! – om die regte mens daarvoor voor te berei.

    Die kerk is God se liggaam op aarde. Hy wil deur ons werk. Elke gelowige het ’n plek in God se plan. Kyk ’n bietjie terug op jou lewenspad. Waarvoor het die Here jou voorberei? Waar pas jy die beste in? Is jy gereed vir jou eintlike roeping?

    GEBED:

    Hier is ek, Here, gebruik my ook vanjaar.

    Lees vanaand in Eksodus 3:13-22 waarom ons elkeen moet seker maak wat presies die Here se roeping vir ons is.

    Saterdag 4 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 4:1-17

    Wat het jy?

    Toe vra die Here vir hom: Wat het jy in jou hand? ’n Kierie, antwoord Moses. – Eks 4:2

    GESELSVRAAG:

    Wat het ons reeds wat die Here kan gebruik?

    Ek is nie so ryk/slim/mooi/begaafd/vlot/geleerd soos daardie mens nie, is die verskoning wat ons so maklik ophaal om te verduidelik waarom die Here ons nie kan gebruik nie. En dit is natuurlik bog. Moses se herders­kierie was genoeg om die Israeliete te bevry – omdat hy dit aan God gewy het. Dawid het met sy slingervel vir Goliat gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Dorkas het met haar naald en garing baie mense gehelp. Moses se klagte was dat hy gehakkel het. Jeremia was te jonk. Petrus was te voortvarend. Paulus was eers ’n Christenvervolger. Johannes was kort van draad. So kan ons aangaan. Nie een van God se helde was volmaak nie. Sy krag word in swakheid volbring.

    In vandag se Skriflesing het ons gehoor hoe Moses die een beswaar ná die ander opgehaal het om te verduidelik waarom die Here liewer iemand anders moes stuur. Dit het geen indruk gemaak nie. Gód het hom vir ’n spesiale taak voorberei, en Gód sou verseker dat hy die taak kon voltooi. Dit was nooit maklik nie, en Moses was soms ook maar moedeloos en gereed om tou op te gooi. Maar agter die skerms was God aan die werk. So is Hy ook besig om vandag nog te werk. Hy het jou vir ’n spesiale taak beplan. Is jy gewillig om dit wat jy reeds het, aan Hom te wy?

    GEBED:

    Ek gee myself met alles wat ek het aan U, Here.

    Lees vanaand in Eksodus 4:18-31 watter krisisse Moses op sy pad van gehoorsaamheid moes hanteer.

    Sondag 5 Januarie 2014          Lees eers Psalm 119:145-152

    Slaapmiddel

    Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. – Ps 119:148

    GESELSVRAAG:

    Wat doen jy wanneer jy nie kan slaap nie?

    Wanneer iemand sê hy het soos ’n baba geslaap, het hy beslis nog nie een gehad nie, sug ’n nuwe mamma. Elke ouer sal met haar kan saamstem. Daardie eerste paar maande se slapeloosheid is maar ’n groot uitdaging. Maar ’n mens vergeet dit gou. Die meeste van ons lê eerder snags wakker wanneer daar iets is wat ons ontstel of waaroor ons bekommerd is. Hoe kan ons sulke tye nuttig gebruik?

    Dawid het natuurlik as koning meer probleme en bekommernisse as die meeste mense gehad. Tog vertel hy hy het sy wakkerlê-ure nuttig gebruik deur oor die Woord van die Here na te dink. En ’n mens kan dit net doen as jy reeds begin het om die Woord te memoriseer. Baie van ons onthou nou nog die Bybeltekste wat ons destyds in die Sondagskool aangeleer het. Jesus leer ons ook dat daar in tye van versoeking net een wapen is: die Skrif. Sonder die Skrif is ons ongewapen.

    Die meeste van ons werk nie vandag nie. Ons kan dus self besluit hoe ons hierdie Sondag wil deurbring. Ons kan dit gebruik vir dinge wat nie werklik saak maak nie, of ons kan dit sinvol gebruik. Die eredienste is bedoel om ons te bewapen vir die week wat voorlê. Begin sommer vandag om ’n dagboekie aan te skaf en elke dag, of minstens elke week, neer te skryf wat die Here sê. Probeer dit memoriseer. Dit gaan jou vanjaar in die slapelose nagte help.

    GEBED:

    Dankie dat u Woord my elke dag wil deurdra.

    Lees vanaand in Psalm 119:153-160 hoe ’n mens met vrymoedigheid al jou probleme na God toe kan neem.

    Maandag 6 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 5:1-9

    Geen godsdiensvryheid

    […] Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie! – Eks 5:2

    GESELSVRAAG:

    Waarom is daar soveel Christenvervolging?

    Daar sterf elke jaar 163 000 Christene vir hul geloof. Meer as die helfte van alle Christene wat vir hul geloof doodgemaak is, het in die afgelope eeu gelewe, lees ek op die internet. Meer as 200 miljoen Christene het nie die vryheid om openlik op ’n Sondag bymekaar te kom om die Here te aanbid nie. Van die 50 lande waar daar tans die hewigste Christen-vervolging plaasvind, is meer as 80% Moslemlande. Hoekom doen mense dit?

    Vandag se Skriflesing herinner ons dat die hoofoorsaak is dat die regeringsleiers nie die Here ken nie. Selfsug het baie daarmee te doen. Hulle wou nie hul slawe verloor nie. Produksie was belangriker as mense. Toe Moses en Aäron in die Naam van die Here vir vryheid gevra het, was die gevolg net groter verdrukking. Dit het hulle baie ongewild onder hul eie mense gemaak.

    Paulus verduidelik dat daar agter dit alles eintlik ’n ander vyand sit. Ons vyande is nie in die eerste plek mense nie, maar bose geeste (Ef 6:12). Dit is ’n geestelike oorlog waarin ons betrokke is. Ons kan dus verwag om ook weerstand te kry as ons vanjaar aan die Here gehoorsaam wil lewe. Baie dae sal jy dalk ook so moedeloos soos Moses voel. Is dit werklik die moeite werd? Maar onthou: die oorwinning is in die Here se hand. Hy het alle mag in hemel en op aarde. Sy kant is uiteindelik die wenkant. Halleluja!

    GEBED:

    Help my volhard ten spyte van teenspoed, Here.

    Lees vanaand in Eksodus 5:10-21 hoe moeilik dit soms is om aan God se opdragte gehoorsaam te wees.

    Dinsdag 7 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 5:22 – 6:12

    Waar is die Here?

    Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie. – Eks 6:8

    GESELSVRAAG:

    Wanneer voel dit vir jou asof die Here te ver is?

    Dit voel vir my asof my gebede nie verder as die plafon gaan nie, kla ’n groeplid. Sit jou God dan bo-op die plafon? vra een van haar vriendinne. Skerp! Die Here belowe tog dat Hy elke dag met ons sal wees. Christene kan weet die Drie-enige God woon in hulle. En tog moet ons so dikwels erken dat dit vir ons voel asof God nie bestaan nie. Hoekom is daar dan geen uitkoms nie? Waarom neem dinge so lank? Is daar nog enige hoop vir ons?

    Dit is niks nuuts nie. Moses en sy broer het ook so gevoel. En hulle het die vrymoedigheid gehad om dit so aan die Here te sê. Die Here het hulle bemoedig en hulle verseker van sy goeie planne vir hulle, soos ons vandag gelees het. Maar toe hulle dit aan die volk oordra, wou hulle dit nie aanvaar nie. Waar is die God van wie julle praat? Kyk net hoe swaar kry ons nou as gevolg van jul inmenging. Wil julle nie maar jul bondeltjies vat en weggaan nie? Dit lyk nie asof jul God enige verskil kan maak nie.

    Ons weet nie wat vanjaar vir ons wag nie. Maar ons kan van een ding seker wees: God weet, en Hy sal elke dag saam met ons ingaan. Hy nooi ons om Hom te volg. Dit veronderstel dat Hy voor ons hierdie dag ingaan. Dis ’n avontuur om saam met Hom te gaan. Kom ons geniet dié dag saam met Hom.

    GEBED:

    Here, dra my deur die moedelose tye.

    Lees vanaand in Eksodus 6:13-26 die lys van mense wat die Here se bevryding nodig gehad het. Het jy ook ’n lysie?

    Woensdag 8 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 6:27 – 7:13

    Wie is in beheer?

    Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. – Eks 7:3

    GESELSVRAAG:

    Hoe weet ons dat die Here vandag nog in beheer is?

    As ek ’n jaar lank God kon wees, dan sou ek darem hierdie land gou regsien, sê baie mense. Soos in ’n fliek oor hierdie onderwerp, sal jy gou genoeg agterkom dat God-wees nie so maklik is nie. Elke ding wat jy doen, het onverwagte gevolge. Dit is net God wat weet wat die regte besluit is om te neem.

    Interessant genoeg, is dit presies wat God in die oorspronklike taal aan Moses sê. Ek maak jou ’n god vir farao, staan dit letterlik in vers 1. Dit beteken nie dat Moses nou maar kon doen wat hy wou nie. Hy moes steeds elke keer by die Here gaan hoor wat om te doen en te sê. Dit moes hy dan aan Aäron oordra, wat as sy tolk sou dien. Die Here het hom egter gewaarsku dat die farao nie sou luister nie. Hy sou bly weier totdat hy besef God is almagtig. God is in beheer. Dit is Hy wat die farao koppig maak. Dit gaan oor sy eer. Hy wou sy almag aan die Egiptenare ten toon stel; daarom het die een wonderwerk ná die ander gebeur – elke keer om te wys dat God magtiger as Egipte se gode is. Elkeen van die tien plae het oor een van Egipte se afgode gegaan.

    Ons wonder soms waarom God nie dadelik alles regmaak nie. Hy het sy eie tydtafel. Hy weet alles, en kan alles vooruit sien omdat Hy nie aan tyd gebonde is nie. Ons kan Hom vertrou. Hy regeer.

    GEBED:

    Dankie dat ek ’n kind van die Koning mag wees.

    Lees vanaand in Eksodus 7:14-25 hoe die Nylgod voor die Here se almag moes buig.

    Donderdag 9 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 8:1-15

    Die mislukking van sukses

    Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword […] – Eks 8:15

    GESELSVRAAG:

    Wat sal mense oortuig dat God lewe?

    Ai, ek wens God kan sy almag op so ’n manier openbaar dat alle ateïste sal besef Hy bestaan, het jy seker ook al gewens en oor gewonder. Sou dit dinge nie baie vereenvoudig nie? Sien is mos glo. Of is dit?

    Die Egiptiese godin van vrugbaarheid, Heket, is voorgestel as ’n vrou met die kop van ’n padda. Paddas is daarom as heilig beskou en mag nie doodgemaak word nie. Dit het dus vir die farao en sy mense ’n baie groot probleem geskep toe hul land op Moses se woord deur paddas oorstroom is. Lees net die humoristiese beskrywing van hierdie plaag. En die farao se towenaars het die saak net vererger! Die farao kon self kies wanneer God Moses se gebed moes verhoor. En dit het so gebeur. Wie kon dan nog twyfel dat die Here almagtig is? Maar die farao wou hom nog steeds nie bekeer nie. En dit nadat hy Moses laat roep en gevra het dat hy tot die God van Israel moet bid.

    Sonder ’n grondige hartsverandering kan mense nie verander nie. Jy moet weergebore word. Net die Heilige Gees is in staat om mense van binne af uit te verander. Ons lewe en woorde kan hulle probeer oortuig, maar uiteindelik is dit God self wat die wonder laat gebeur. Die farao was nog nie gewillig om sy selfsug prys te gee en voor die ware God te buig nie.

    GEBED:

    Here Jesus, verhoed tog dat ek my hart teen U verhard.

    Lees vanaand in Eksodus 8:16-19 hoe muggies die vinger van God geword het. Wie is dan nog te klein om gebruik te word?

    Vrydag 10 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 8:20-32

    Steekvlieë

    Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie. – Eks 8:31

    GESELSVRAAG:

    Wat sal mense van die evangelie oortuig?

    Oppas, hier is ’n steekvlieg! roep een van die kinders uit. Ek het as laer­skool­kind nog nooit vantevore van so iets gehoor nie, maar te oordeel aan die volslae paniek onder die ander kinders moes dit ’n baie gevaarlike insek wees. Dit is duidelik iets wat baie seer steek. Dit was eers nadat die onderwyser die vlieg vermorsel het dat daar weer van skoolhou sprake kon wees.

    Die Egiptiese songod, Ra, en die moedergodin, Uatjit, is albei deur insekte voorgestel. Hierdie keer het die steekvlieë slegs die Egiptenaars geteister. In die land Gosen was hulle nie. God kan sy kinders bewaar. Weer laat roep die farao vir Moses en Aäron en vra hulle om voorbidding te doen. Hulle mag maar offer, maar net in die land. Moses moes toe verduidelik dat die offers vir die Egiptenaars onaanvaarbaar sou wees, want ’n bul verteenwoordig Apis en ’n ram die afgod Ammon. Die farao het toe sy toestemming gegee, maar het van plan verander sodra God Moses se gebede verhoor het.

    Die Here praat vandag nog dikwels met ons op so baie maniere. Ons is meestal so hoogmoedig dat ons nie wil erken ons is verkeerd nie. Of ons maak beloftes aan die Here wat ons op die ou end nie hou nie, net soos die farao.

    GEBED:

    Here, verhoed dat ons hardkoppig ongehoorsaam sal bly.

    Lees vanaand in Eksodus 9:1-12 hoe die Egiptenaars moes sien hoe hul gode van genesing magteloos teen die siektes en swere was.

    Saterdag 11 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 9:13-21

    Soek betyds veiligheid

    […] Al die mense en diere wat buite is en nie onder dak gebring is nie, sal deur die hael doodgeslaan word. – Eks 9:19

    GESELSVRAAG:

    Hoe kan ons vir ongewone rampe voorberei?

    Die haelstene was soos gholfballe, vertel ’n Vrystaatse boer. Die belowende oes is totaal tot niet. Al my huis se ruite aan die stormkant is uitgeslaan en al die voertuie wat buite gestaan het, is sleg beskadig. ’n Mens is totaal magteloos teen so ’n ramp. Net die diere wat onder dak was, het ontkom.

    Hierdie keer was dit Osiris, die god van die oes, en Nut, die godin van die hemel, wat as magteloos ten toon gestel is. Moses het die Egiptenaars vooraf gewaarsku van hierdie ramp wat aan die kom was. Sommige het geluister en hul vee en werkers na veiligheid gebring. Ander het hom uitgelag en hul vee en slawe buite gelaat. Die storm het gekom presies soos Moses aangekondig het. Dié wat geluister het, was veilig. Dié wat die waarskuwing geminag het, het alles verloor.

    Wanneer iemand vandag in die straat sou loop met ’n kennisgewing wat sê die oordeel is naby, neem min mense hom ernstig op. Ons is maar net soos die ongelowige Egiptenaars van Moses se tyd. Die Bybel is duidelik daaroor dat God se oordeel aan die kom is. Ons moet daarvoor voorberei deur Jesus se offer te aanvaar. Ons moet seker maak ons en ons geliefdes is veilig. Maar vir die meeste mense is dit nie ’n prioriteit nie. Ander dinge kom eerste. Totdat dit te laat is.

    GEBED:

    Help ons om gereed te wees vir u dag, Here.

    Lees vanaand in Eksodus 9:22-35 hoe elkeen kon sien dat die God van Israel in volle beheer van die weer was.

    Sondag 12 Januarie 2014          Lees eers Psalm 119:161-168

    Geloofsekerheid

    Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie. – Ps 119:165

    GESELSVRAAG:

    Waarvan kan ons seker wees?

    Man, jy moet bykom. Jou geloof is vyftig jaar agter. Kyk na die feite. Die Bybel is vol foute en kan nie vertrou word nie, het ’n kollega in 1949 aan Billy Graham gesê. Maande lank het Billy hieroor geworstel. Hy was bewus van wat mense oor die Bybel sê. Maar hy het ook gesien dat Jesus die gesag van die Bybel volledig aanvaar het. In sy hoëpriesterlike gebed het hy gebid: Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Joh 17:17). Die profete was oortuig daarvan dat die Here deur hulle gepraat het. Uiteindelik het Billy een nag in ’n woud gaan kniel en vir die Here gesê: Here, daar is baie dinge in hierdie Woord wat ek nie verstaan nie. Maar Vader, in geloof aanvaar ek dit as u Woord. Van hierdie oomblik af gaan ek die Bybel as die Woord van God vertrou. Hy vertel dat hy dadelik van God se magtige teenwoordigheid bewus geraak het. Hierdie keuse het sy lewe verander, en miljoene mense het sedertdien deur hom tot geloof in Christus gekom.

    Ons ervaar ook elke dag ’n hewige aanslag op die Bybel. Die duiwel wil ons van geloofsekerheid beroof. Maar op miljoene plekke sal die ewige woord vandag verkondig word. Die lewe van dié wat glo word deur die Woord verander. Is jy ook een van hulle?

    GEBED:

    Dankie vir u Woord, hemelse Vader. Ek aanvaar dit met my hele hart en wil daarvolgens lewe.

    Lees vanaand in Psalm 119:169-176 hoe hierdie lang lied oor die Bybel bedoel is om vir ons sekerheid te gee.

    Maandag 13 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 10:1-17

    Die hele gesin dien die Here

    […] Die Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan […] – Eks 10:10

    GESELSVRAAG:

    Wie van ons dien die Here voluit?

    Hier in ons gemeente is daar die probleem dat die vroue geestelik groei deur hul Bybelstudiegroepe, maar die mans bly agter. Dit bedreig sommige huwelike, vertel die leraar van ’n plattelandse gemeente. Dit is so nodig dat die hele gesin die Here voluit dien. Die huwelik en die gesin is ’n eenheid in diens van die Here. As die pa nie voor vat nie, dan volg die gesin ook nie. Kinders leer deur voorbeeld, nie preke nie.

    Die farao het toe begin besef sy land sou verwoes word as hy nie ingee nie. Sy raadgewers het toe voorgestel dat net die mans moes gaan om die Here te dien en die vroue en kinders as gyselaars aangehou moes word om te verseker dat die slawe nie ontsnap nie. Toe die farao egter hoor dat die Israeliete huitjie en muitjie wou vertrek, het hy weer omgespring en geweier om hulle te laat gaan. Die gevolg was dat ’n verskriklike sprinkaanplaag alle plantegroei in Egipte vernietig het. Die Egiptiese afgode was totaal magteloos teen die God van Israel.

    In baie gemeentes het die volgorde nou omgekeer. Dit is nie die mans wat die Here dien en die vroue en kinders wat agterbly nie. Dit is die vroue en kinders wat die Here dien en die mans wat agter bly. Ons mans moet ’n slag ons prioriteite regkry en ons regte plek as priesters van die huis inneem.

    GEBED:

    Here God, help ons mans om reg te lei.

    Lees vanaand in Eksodus 10:18-20 hoe maklik Moses die probleem kon oplos, maar die farao het koppig gebly.

    Dinsdag 14 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 10:21-29

    Alles behoort aan die Here

    […] Gaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly. – Eks 10:24

    GESELSVRAAG:

    Wat moet die Here nie van jou vra nie?

    Is jy lus vir ’n nuwe 4x4? Gaan koop gerus een na jou hart, en skenk dit dan aan jul sendeling in Mosambiek. Hy het ’n betroubare voertuig baie nodiger as jy, terg ek ’n gemeente wat my gevra het om met hul geloofsofferbeloftes te help. Dit is tragies dat so baie stede vol nuwe viertrekvoertuie is, terwyl die sendelinge met wrakke moet aansukkel op plekke waar daar nie eens paaie is nie.

    Die farao was hierdie keer drie dae lank in die duister gehul. Egipte se songod, Ra, was maar weer magteloos om te help. Interessant genoeg was die Israeliete in die lig. Hier was duidelik iets bonatuurliks aan die gang. Weer het die farao vir Moses laat roep. Hulle kon nou maar gaan met hul vroue en kinders, maar hul besittings moes agterbly as pand dat hulle weer sou terugkom om as slawe te dien. Toe Moses weier om aan sy voorwaardes te voldoen, word hy met die dood gedreig. Min het die farao geweet dat sy woorde op homself sou boemerang.

    Die duiwel gebruik soms ons besittings om ons te keer om voluit vir die Here te lewe. Ons goed word so maklik ons god. As ons besittings ’n versoeking word, moet die Here dit soms wegneem omdat Hy ons liefhet. Niks moet agterbly nie. Ons, en alles wat aan ons behoort, is die Here s’n.

    GEBED:

    Ons en alles wat ons het, behoort aan U, o Here.

    Lees vanaand in Eksodus 11:1-10 hoe die Here die finale straf aankondig wat vryheid aan die Israeliete sou verseker.

    Woensdag 15 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 12:1-13

    Veilig deur die bloed

    Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan […] – Eks 12:13

    GESELSVRAAG:

    Hoe probeer ons ons huismense beveilig?

    Ons het probeer om ons huis kindveilig te maak, maar hulle het nog steeds ingekom, skerts ’n vriendin. Ja, ons maak seker dat elke venster diefwering het, dat die swembad omhein en deur ’n veiligheidsnet bedek is, dat aardlekkasieskakelaars verseker dat niemand doodgeskok kan word nie, dat die huis orals paniekknoppies het, en dat die matte nie kan gly nie. Ons filter ons water en hang brandblussers op strategiese plekke. Ons gee om vir ons gesinne. Ons motors het veiligheidsgordels, lugsakke en ABS-remme. Maar wat doen ons om ons mense vir die ewigheid te beveilig?

    Moses se voorbereiding vir die tiende plaag was noukeurig uitgespel, soos ons gelees het. Die bloed van die lammetjies sou veiligheid verseker. Die voorbereidings het hulle dae lank geneem. Hierdie Paasfees sou weer en weer herhaal word totdat die finale Paaslam geslag sou word. Die Paasfees was vir die hele volk. Almal het dit op dieselfde aand saam gevier. Almal, van klein tot groot, was deel daarvan. Die bloed aan die deurkosyn sou die teken wees dat hierdie huismense beveilig is. Die oordeel van God sou hulle oorslaan.

    So vier ons vandag nog saam die Paasfees. Elke nagmaal is opnuut ’n herinnering dat Jesus sy bloed aan die kruis gestort het sodat God se oordeel ons kan oorslaan.

    GEBED:

    Dankie, Here Jesus, dat U ons almal se Paaslam was.

    Lees vanaand in Eksodus 12:14-28 hoe die Paasfees herhaal sou word tot Christus die finale Paaslam sou wees.

    Donderdag 16 Januarie 2014          Lees eers Eksodus 12:29-40

    Die groot trek begin

    […] Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! […] En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan. – Eks 12:31-32

    GESELSVRAAG:

    In watter opsigte is ons ook op reis?

    Wagenmakersvallei is die vallei genoem waar Paarl en Wellington vandag lê. Die spoorlyn het op Wellington geëindig. Hiervandaan moes alles op ossewaens die berge oor en die binneland in. Die Groot Trek moes hier begin het.

    Die farao het toe uiteindelik besef dat die God van Israel nie iemand is met wie jy kan speel nie. Elke woord van God het waar geword. En elke keer wanneer Moses gebid het, het dinge gebeur. Die farao het in die krag van gebed begin glo; daarom het hy oulaas vir Moses gevra om ook vir hom te bid. Ons lees ook dat ’n menigte mense van ander afkoms ook saamgegaan het, net soos die Groot Trek nie net ’n paar Afrikaners was nie. Vir Moses het die groot toets toe begin. Met 600 000 weerbare mans (Eks 12:37) moes die trekgroep seker by die twee miljoen mense gewees het! Waar sou hulle water en kos kry? Die silwer en goud van die Egiptenaars sou kon help, maar waar was die winkels in die woestyn waar hulle kos kon koop? Elke tree was ’n uitdaging. Hoe vervoer jy so baie mense en goed?

    Ons is almal vandag nog net op trek. Hierdie wêreld is nie ons woning nie, herinner Totius ons. Ons is op pad na ons eintlike huis – by ons hemelse Vader. Ons moet dus nie te vas raak aan

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1