Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Skarlaken
Skarlaken
Skarlaken
Ebook457 pages7 hours

Skarlaken

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Afgetrede polisieman Jaap Reyneke vra Sarah Fourie, 'n rekenaargenie met 'n kriminele rekord, om die raaisel rondom die dood van sy peetdogter, Janien Steyn, op te los. Janien was op die oog af geliefd, 'n suksesvolle kunstenaar met 'n slag vir besigheid, en op die punt om met haar universiteitsliefde te trou. Was dit selfdood of moord? Waarom is die toneel om haar liggaam so sorgvuldig, amper kunstig, gerangskik? En hoekom is haar rekenaar se geheue voor die tyd so sorgvuldig skoongevee?
LanguageAfrikaans
Release dateSep 7, 2015
ISBN9780798170451
Skarlaken
Author

Irma Venter

Irma Venter is ’n bekroonde joernalis in Johannesburg. Haar romans sluit in Skoenlapper (wenner van die ATKV-prys vir spanningsromans), Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee word deur Amazon Crossing.

Read more from Irma Venter

Related to Skarlaken

Related ebooks

Related articles

Reviews for Skarlaken

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Skarlaken - Irma Venter

    SKARLAKEN

    Irma Venter

    Human & Rousseau

    Vir JéAnette

    Dance, when you’re broken open.

    Dance, if you have torn the bandage off.

    Dance in the middle of the fighting.

    Dance in your blood.

    Dance when you’re perfectly free.

    Rumi, vertaal deur Coleman Barks met John Moyne

    Here at the frontier, there are falling leaves.

    Although my neighbours are all barbarians,

    And you, you are a thousand miles away,

    There are always two cups at my table.

    Tang-gesegde

    JAAP

    1

    Dit het gereën voor sy dood is. Ongehoord baie vir ’n Juliemaand, maar wie verstaan deesdae die weer. Die reën het drie dae lank aanhoudend uit swaar, donker wolke geval. Die droë, vaalbruin grond het die water eers dankbaar ingedrink, maar wou later niks weet van die druppels wat net nie wou ophou nie.

    Die water het by die skaapkrale begin opdam, en toe by die skuur waar die ou ligblou Nissan Diesel-vragmotor al jare lank met pap bande en ’n ewe pap battery staan. Daarna het dit die huis bereik, deur die sitkamer getrek, ’n dik bruin modderstreep gelos van die agterdeur tot by die voordeur, oor die stoep en af met die klippaadjie.

    Dit het ook in die oop veld versamel, in die pan, tussen die tafelkoppe en digte versamelvoëlneste vasgemessel aan telefoonpale. Of eerder, in die holte in die veld wat ’n pan gewórd het, op die vlakte met sy enkele groot boom waar niemand meer kom piekniek hou tussen kwetterende vaalbruin voëls nie. Deesdae staan die kruis gemaak van tambotiehout daar; dit word elke jaar mooi en nuut vernis.

    Dit was stil die oggend van haar dood, asof die ganse Karoo asem opgehou het dat die reën moes klaarkry. En dit was vrek koud. Mens se longe het gebrand van die yslug en voor elke mond het die asem stoom geword. Die boere wat na haar kom help soek het, het met moddervuil stewels in ’n stom wals op die stoep rondgeskuifel in ’n poging om warm te bly. Hulle het met hande in die armholtes gestaan, koppe gebuig, hoede af. Ongemaklik. Bekommerd. Kwaad.

    Haar pa het buite gaan asemskep toe hy haar gesien het. Die huis was te vol vroumense met bangmaakstories en hy het sommer net uitgeloop, koffiebeker in die hand. Toe kry hy haar, alleen op die vlakte. Die boonste laag van die pan was gevries ná die vorige nag. Dit het onder sy voete gekraak en fyn spinnerakke gemaak soos hy geloop het. Versigtig al nader aan die rooi fiets en die vrou wat op haar sy, halflyf – presies halflyf – in die modderige ys vasgevang was.

    Die fiets was nie hare nie, maar die trourok wel. Die wit materiaal was hoog teen haar bene afgeskeur, maar die lang kantmoue was steeds daar. Dit was dieselfde rok wat sy die vorige oggend by Mart Visser op die dorp gaan haal het.

    Betyds klaar vir die volgende Saterdag.

    Niemand het geweet waar die rooi lap vandaan kom nie. Die dieprooi fluweel het vir omtrent vyf meter oor die pan gesprei gelê, asof dit haar sluier was.

    Of vlerke.

    Mens se oë wys dat jy dood is. Dat jy weg is. Die kleur syfer weg. Dis asof die vensters leeggestroop en toe is, die voordeur op knip getrek en gesluit, soos wanneer jy alles oppak en trek.

    Haar pa het sy koffiebeker laat val en by haar gaan hurk, haar met sy hande begin uitgrawe. Dit was asof sy net so in die ry omgeval het – enkelhoogte hoëhak- swart leerstewel nog op die fiets se pedaal – en so bly lê het, haar gesig verdwaas oor haar gebrek aan balans. Onder die ou vliegbril uit die Eerste Wêreldoorlog was haar een oog oop.

    As jy ’n foto uit die lug sou neem, sou dit lyk asof sy nog steeds ry, hande op die fiets se stuurstang.

    Haar pa het vergeefs asem in haar longe probeer blaas, toe sy baadjie uitgetrek en oor haar gegooi. Terug huis toe gehardloop en geskree dat iemand die ambulans moet bel.

    Die paramedici het vinnig opgedaag, maar agt, nege ure te laat.

    Janien Steyn was dood.

    Janien was my peetkind.

    2

    Ek skink koffie uit die fles en blaas oudergewoonte daarop, al is dit reeds afgekoel. Dis al meer as ’n uur vandat ek die Corolla hier langs die pad getrek en in Julie se bitter koue my staan gekry het vir die lang wag.

    Ek is nooit seker waarvoor ek wag nie. Dalk vir inspirasie, ’n nuwe gedagte oor wat met Janien gebeur het.

    Is jy nog steeds hier?

    Obie kom leun langs my teen die motor, pyp in die mond. Die nat vlekke op sy skoene wys hy het van die huis af kortpad deur die veld gevat.

    Vonnie sê jy moet kom eet, sê hy toe ek nie antwoord nie.

    Obie en Vonnie Steyn van die plaas Lekkerkry. Klink dit nie asof hulle vir ewig gelukkig moes leef nie? Hulle kinders vir ewig gelukkig moes leef nie? Hier in die Groot-Karoo net duskant Carnarvon.

    Hulle twee seuns wil nie een boer nie, en Janien was hulle enigste dogter.

    Obie sug diep uit sy bors uit. Dis al amper drie jaar, en nog steeds niks. Wat sê Isak?

    Sy oë is op die horison en die bleeksingvalk wat daar sirkel. Hy kyk enige plek behalwe na die kruis met die bos vars blomme.

    Isak. Nie kaptein Slingers nie.

    Dit het lank gevat voor Obie die speurder só kon noem. Wat seker te verstane is as iemand gedink het dat jy jou eie dogter kon doodmaak. Dit neem tyd om te begin glo dat die polisie alles gedoen het wat hulle kon om die moordenaar op te spoor. Dit gebeur eers wanneer die woede moedeloosheid word, en daarna magteloosheid. ’n Akute, terminale teenwoordigheid waarmee jy probeer vrede maak. En, as jy gelukkig is, gee jy jou uiteindelik oor aan die neerdrukkende sleurgang van elke dag en dink vir twee, drie minute op ’n slag nie meer aan wat gebeur het nie.

    Ek weet dit. Jare in die polisie leer jou dit.

    Obie haal ’n boksie vuurhoutjies uit sy hempsak, sukkel om sy pyp weer aan die gang te kry. Enige nuwe gedagtes oor wat gebeur het?

    Soos altyd vra hy dit hier, in die oopte, waar Vonnie nie kan hoor nie.

    Nee, maar ek sê dit nie vir hom nie.

    Ek ken die feite uit my kop uit. Ál die feite, nie net dié wat in die koerante verskyn het, maande lank herkou is en toe vergeet is nie.

    Vonnie het my daardie oggend gebel, huilend en histeries. Ek het als in Pretoria gelos en hierheen gekom. Dat dit die ondersoekbeampte se derde moordsaak was, het as ’n skok gekom. Ek het iemand met meer ervaring gesoek. Isak Slingers was dan nou die dag nog saam met Janien op skool. Wel vier jaar ouer as sy, maar nog steeds nat agter die ore. Pure bogkind.

    Ek het probeer help, tot hy my weggejaag het. Ek sou dit ook gedoen het as ek hy was. Ek het heeltyd beter geweet en was oortuig dat ek met my jare se ondervinding die saak sou kon oplos. Ek het ingestorm en dinge opgeneuk, gedruk en gedryf waar ek nie moes nie. Op Isak en almal hier se tone getrap.

    Die feite van die saak was skraps.

    Vonnie en Obie het die aand by hulle aanstaande skoonfamilie gaan braai, soos die meeste mense in die omgewing, en eers laatnag teruggekom. Janien en haar broer Leon het by die huis gebly. Hy het sy meisie reeds vroeër die dag op die dorp gaan aflaai en kom rugby kyk. Hy het nie van Henk van Staden, Janien se verloofde, gehou nie.

    Leon sê hy het vroeg gaan slaap. Hy en Janien het TV gekyk tot hy bed toe is, en hy het haar daarna nie weer gesien nie.

    Niks is uit die huis gesteel nie, en daar was geen tekens van ’n inbraak nie. Al leidraad was ’n paar stewelspore wat op die pan gevries het. Nommertiens, dalk elfs. Volgens die diepte heel waarskynlik ’n man van redelike gewig. Die laaste ry spore, toe hy niks meer gedra het nie, verklap dit.

    Isak het gedink dis Leon. Hy dra nommertiens, nes ek en Obie. Nes Obie se buurman, en Janien se toekomstige man én skoonpa. Baie mans in die distrik dra nommertien-stewels en almal sou vol modder wees, want dit het dae aaneen gereën.

    Daar was geen teken van bloed of ’n bakleiery aan Leon, sy klere of enige plek in die huis nie. Die binnekant van sy linkerboarm was blou, maar Janien het hom altyd daar geknyp as hy haar geterg het. En hy het haar siel deeglik uitgetrek voor die troue.

    Ek draai na Obie. Ek weet nog steeds nie wat gebeur het nie. Dit maak my gek.

    Gaan jy weer in haar kamer rondkyk?

    Mag ek?

    Jy weet Vonnie wil als oppak en verbrand. Sy grawe al van verlede maand af ’n sloot daarvoor.

    Die een by Janien se boom? Ek het dit gesien toe ek gister gaan stap het.

    Janien het daardie soetdoring die eerste en laaste keer probeer klim toe sy vier was, oor sy en Vonnie baklei het. My suster moes tot laatnag sit en stukkende plekke skoonmaak. ’n Akasiadoring is ’n bogger, veral as jy teen die takke op wriemel om van jou ma af weg te kom.

    Obie knik. Dis die plek, ja. Ek dink dis ’n goeie idee, die dominee ook. Al meen ons om alles weg te gee sal ook goed wees. Vonnie kan nie meer elke dag in daai kamer vaskyk nie.

    Dan het ek nog een kans. Ek sluk die laaste bietjie koffie. En dan moet ek seker ook laat los.

    3

    Janien se kamer lyk nog dieselfde as verlede jaar en die jaar voor dit. Die een muur is swart geverf en vol foto’s. Die beddegoed is wit, nes die gordyne. Die kussings is baie en bloedrooi met swart voëls daarop wat venster se kant toe vlieg.

    Toe Janien een Vrydagnag die muur swart geverf het, het Obie dadelik vir ou dominee Kas laat kom. Sy was veertien, en Obie en Vonnie het die ergste vermoed: satansgoed. Maar Janien het gesê hulle is laf en het die volgende week foto’s begin ophang. Almal met haar selfoon geneem, en swart is die beste agtergrond, het sy gestry.

    Die foon was ’n geskenk vir haar dertiende verjaarsdag, al het Obie lank daarteen geskop. Maar Vonnie se argument dat Janien enige tyd van die koshuis af kan bel en dat sy die foon nodig het vir haar eie veiligheid as sy naweke sport doen, het gewen.

    Janien het min oproepe gemaak, eerder orals op die plaas rondgeloop en foto’s geneem. Op die dorp ook, waar almal haar en haar kieriebeentjies geken het. Carnarvon, die plek in die middel van nêrens wat danksy die SKA-radioteleskoopnetwerk êrens geword het en nou aandag trek van Europa tot Australië.

    Janien was baie opgewonde oor die SKA-projek, al is heelwat mense in die omgewing steeds skepties oor die spul teleskope wat die sterrestelsels bestudeer. Dis tegnologie-kuns, het Janien gesê.

    Haar heel eerste uitstalling was foto’s en gesprekke met mense oor wat dit beteken om miljoene jare terug in die heelal te kyk. Twee dimensies, tyd en ruimte, wat amper onverklaarbaar saamsmelt.

    Sy het begin by oom Geel Koos en tannie Queenie, Karretjiemense wat sy leer ken het toe sy nog klein was. Al wat die SKA vir hulle beteken het, was dat Geel Koos dalk eendag werk sou hê. Hy was vier-en-veertig, maar het sewentig gelyk. Twee jaar later is hy dood. Sy longe, het tannie Queenie vir Janien vertel.

    Ek gaan sit op Janien se bed, nes verlede jaar en die jaar voor dit. Haar enkelbed as kind, later as student, en nog later as gas toe sy van die stad af kom kuier het. Selfs toe sy en Henk sou trou, het sy alleen hier geslaap as hy laat gekuier het en moes oorbly, want dis hoe Vonnie en Obie dit wou hê.

    Maar mens sou blind moes wees om nie die waarheid te sien nie.

    Janien was ses-en-twintig toe sy dood is – volgens die koerante een van Suid-Afrika se belowendste jong kunstenaars. Net jammer hulle het dit nooit gesê toe sy nog gelewe het nie.

    Ek strek my regterbeen uit tot amper reguit voor my. Wat pyn die knie vandag so? Seker van die koue wat ek nie gewoond is nie.

    Alles in Janien se kamer het verander ná haar dood. Sy was slordig en haar ma het dit gehaat. Janien kon nooit iets wegpak nie, maar Vonnie het die deurmekaar kamer net so gelos. Nou maak sy elke week die kamer skoon en maak seker als is op hulle plek.

    Hierdie kamer is nie Janien nie.

    Die polisie het dit verskeie kere deursoek, eers Isak en sy span, en toe nog ’n span van Kaapstad. Obie weier om hier in te kom. Ek het hom eenkeer betrap waar hy by die deur gestaan en binnetoe gestaar het. Hy het niks gedoen nie, net bly kyk asof hy iets soek. Uiteindelik omgedraai en weggeloop.

    Vonnie is reg. Dalk is dit tyd om als op te pak en te verbrand.

    Amper alles.

    Ek het dit nog nie vir haar gesê nie, maar ek is hier vir Janien se rekenaar en haar selfone. Isak het gesê Vonnie kan als kry, hulle het wat hulle nodig het, en daar’s in elk geval niks bruikbaars op die toestelle nie. Hy het dit laat klink asof hy nog nie moed opgegee het nie, maar ek weet hy het. Jy sê dit net nooit vir slagoffers se ouers nie.

    Ek het ’n plan met die rekenaar en die fone. Dis die vaagste moontlikheid van ’n moontlikheid, maar ná drie jaar is dit beter as niks.

    Nee.

    Ek ken daardie stemtoon – Vonnie wil niks weet nie.

    Ek wil net die rekenaar en die fone vat, probeer ek weer. Ook die foon wat Janien gekry het toe sy dertien geword het. Asseblief. Niks van die ander goed nie.

    Vonnie vee haar hare uit haar oë en steek weer haar hande in die skottelgoedwater. Eet klaar. Ek wil opwas.

    Ek sit die laaste happie spek en eier in my mond. Vonnie …

    Nee. Ek wil klaarmaak.

    Asseblief.

    Sy vee haar hande aan haar voorskoot af, kom nader en vat my bord. Sy is jonger as ek, ses-en-vyftig. Ma het ons drie kinders nege jaar uit mekaar gehad. Die oudste, Douw, is twee jaar gelede dood aan ’n hartaanval. Vonnie, die jongste, was ’n verrassing.

    Sy druk haar krulle, al duifgrys vir jare, agter haar ore in. Dié gebaar is ook bekend: haar geduld is op. Maar ek wil nie laat los nie.

    Ek het verlede jaar iemand leer ken wat kan help. Wat kan soek waar die polisie nie kan bykom nie.

    Vonnie sit die bord hardhandig in die wasbak neer. Skrop dat ek kan hoor. Móét hoor.

    Ek drink koffie terwyl sy klaarmaak en die water uittap. Sy hou nie van hulp as sy opwas nie. Niemand doen dit so deeglik soos sy nie, en sy’s die enigste een wat weet waar als gebêre word.

    Ek hou haar dop terwyl sy die borde afdroog en wegpak. Janien se dood het elke ronding van haar lyf gesteel, haar vreugde helder oordag gekaap. Die bly het eers onlangs weer begin wys, so bietjie-bietjie. Klein Obie se troue in Johannesburg vroeg volgende jaar maak haar opgewonde. En Leon se vrou is agt maande swanger. Hulle wou kinders hê van die dag dat hulle getroud is, kort ná Janien se dood. Dis asof Leon sy ma se hart weer wou bly maak deur vir haar ’n nuwe asem te gee om op te fokus.

    Toe die laaste stukkie skottelgoed gebêre is, maak sy haar voorskoot los. Ek kan sien sy dink oor my versoek, al wil sy dit nie wys nie. Sy loop katvoet vir valse hoop. Die sloot wat sy met soveel sorg gegrawe het, wag. Dis ten minste definitief en seker. Materieel dáár.

    Sy frons en vryf oor haar neus. Dis ons pa se neus, nes myne. Reghoekig en effe te groot vir ’n vrou, maar aantreklik by ’n man. Of so het my skoolkys altyd gesê.

    Vonnie vou die voorskoot op, vra sonder om na my te kyk: Wie ken jy wat nou skielik kan help?

    Haar naam is Sarah. Ek wil die rekenaar Pretoria toe vat dat sy daarna kyk.

    Nee.

    Vonnie … asseblief.

    Sy bly lank stil, sê uiteindelik: Dié Sarah-vrou kom hiernatoe.

    Ek kan nie …

    Ek gee nie om nie. Dis Maandag. Jy het tot Vrydag. Niks langer nie.

    Goed. Dis reg so. Dankie.

    Ek sal vat wat ek kan kry. Ek weet nie hoe ek Sarah Fourie hiér gaan kry nie, maar ek sal ’n plan maak.

    En onthou, Jaap, ek wil niks weet nie. Tot jy vir my ’n naam kan gee, kan sê dit was hý, wil ek niks weet nie.

    SARAH

    1

    Die KTM 690 Enduro is moeg. Nes ek. Vyf maande tot by die Ngorongoro-krater, verby die Victoriavalle, Kariba en die Malawimeer. Ranna het saamgery tot verby die terugdraai, naby Bulawayo. Sy’t gesê dis veilig vir my om alleen Pretoria toe te ry, want die paaie is in ’n redelike toestand en slaapplek volop. Sy is Mosambiek toe – Alex het ’n onderhoud met die leier van Renamo gekry en sy moes gaan foto’s neem.

    Ek dink sy wou my alleen los met die dinge in my kop, maar wie weet.

    Ek gee nie om nie. Ek wou van die begin af alleen ry.

    Ná my pa se dood wou ek wegkom. Móés ek wegkom. Mense het heeltyd woorde gegooi op wat gebeur het, so asof dit als sou beter maak, of begrawe. Praat, praat, praat. Dis asof niemand kon stilbly nie.

    Die lang kilometers het my kop goed gedoen. Mens skakel af as jy met ’n motorfiets oor paaie sukkel wat kwalik ’n streep op die grond is. As jy jou rekenaar en foon los, die internet.

    Stilte bestaan nie as jy jou deur toetrek in die raserige middestad van Pretoria nie. Stilte is wanneer jy in ’n slaapsak klim en die flits afsit en die donkerte jou toevou. Wanneer geen motors verby ry en geen helder advertensieborde iets probeer verkoop nie. Niemand praat of lag nie.

    Daardie eerste klompie nagte onder muskietnette in tente of eenvoudige kamers, toe ek en Ranna nog saamgery het, het die donkerte op my bors kom sit sodat ek moes soek vir asem. Dit was asof die nag lyf gekry het, my teen die grond vasgedruk het. ’n Uur of twee later, ná die stilte, ná die wag en luister na die niks, het die nag se inwoners opgedaag. Kon ek die kug van leeus en die skel gelag van hiënas hoor.

    Daaraan het ek ook gewoond geraak, nes aan die stilte. Uiteindelik.

    Nou is die stad se geraas oorweldigend. Die verkeer, die mense op straat en die klank van hulle sms’e, emails, Whatsapps, oproepe en updates. Pieng, pieng, pieng. Nog, nog, nog. Nou, nou, nou.

    Ek het twee weke laas van my ma gehoor. Ek het my foon by die huis gelos, maar sy’t gereeld vir Ranna gebel om te hoor of ons okay is. Ek was nie lus vir praat nie.

    Nou wonder ek of sy ooit weer met my gaan praat. Dalk voel my suster en broers dieselfde.

    My pa het my altyd sy hart se kind genoem, maar net laat in die nag, as ons aan die Aston gewerk het en niemand kon hoor nie – ’n silwer Aston Martin DB5, nes die een wat James Bond in Goldfinger gery het.

    Maar ek moet vir niemand sê nie, het hy altyd gefluister wanneer ons skelm rook.

    Ek dink hy het dit vir al sy kinders gesê.

    Ons moes nie gerook het nie. Emfiseem is ’n bliksem.

    Ek het 67 dae laas gerook. Ek het in Arusha ’n Stuyvesant aangesteek toe ek en Ranna by haar vriend Hamisi gekuier het. Ek het na Kilimandjaro gestaar, Ranna se foon geleen en my pa se nommer gebel om sy voicemail te hoor. Ek het die nag in geloop en getjank, en toe sommer nog ses sigarette gerook.

    Ek drink deesdae Coke en rooibostee asof dit nikotien in het.

    Ek stuur die KTM by Akasia-woonstelle se oprit in, haal my valhelm af en vryf deur my hare. Ranna het dit in ’n plekkie net buite Musina kort gesny, want ek wou dit af hê. Dit was darem ’n goeie vier maande gelede en die hare kruip reeds weer om my ore. Dit sal my ma mal maak as ek sonder hare by haar huis opdaag.

    Háár huis. Nie hulle huis nie.

    Vordering.

    Ek trek my regterhandskoen uit en sit my duim op die skandeerder om toegang tot die gebou te kry.

    Agter my slaan ’n kardeur toe. Ek kyk om. Motorfietse word deesdae net so maklik soos motors in hierdie deel van die stad gekaap.

    Ek herken dadelik die lang, skraal man met sy benerige draadhanger-skouers. Die effense maag. Die lastige regterknie. Die bleekblou oë en die mooi glimlag, volgens Adriana.

    Onmoontlik.

    Wat soek Jaap Reyneke hiér? Hy en Ranna is vriende, maar ek ken hom skaars. Ons het verlede jaar saam na Madelein Paulse gesoek, maar dit was werk, niks meer nie.

    Naand, Sarah. Adriana het gesê julle sal hopelik hierdie week terug wees.

    Hy klink moeg. En sy gekreukelde klere lyk asof hy heelweek voor die hek geslaap het.

    Ek skakel die motorfiets af, swaai my linkerbeen oor die oranje masjien met sy spesiale lae vering. Bêre die handskoene in die valhelm en kyk op my horlosie. Dis seweuur, Woensdagaand.

    Hoekom sou my tante vir hom gesê het wanneer sy my terug verwag? En hoe weet sy dit? Het Ranna haar gesê?

    Hoe lank sit jy al hier?

    Van Maandagnag af. Wel, seker Dinsdagoggend.

    Hoekom?

    Hy kyk af na sy bruin toerygskoene, sy hande diep in sy baadjiesakke. ’n Koue wind roer sy reguit grysblonde hare.

    Ek het probeer bel, maar Adriana sê jy’t jou foon by die huis gelos ná jou … Jammer oor jou pa.

    Een punt teen hom. Vir die jammer. Nee wag, twee. Die polisieding tel ook, al is hy afgetree. Ek is immers ’n veroordeelde hacker.

    Waar’s Ranna? vra hy. Ek dog sy sou ook hier wees.

    Sy’s in Mosambiek. Sy en Alex gaan vir die volgende paar maande daar werk. Net tot kaptein AJ Williams bietjie van haar vergeet het.

    Hy skud sy kop. Ek kan nie glo die vrou wil nie laat los nie. Pas sy nog steeds hierdie paleis van jou op?

    Ek weet nie, ek was mos weg. Maar ek hoor Adriana loop nog steeds deur. Almal wat Ranna ken, loop deur.

    Hy fluit deur sy tande. Praat van toewyding. Of obsessie. Ranna het haar stalker van die gras af gemaak omdat niemand wou help nie. Hoekom vind AJ Williams dít nie uit nie?

    Ek onderdruk ’n gaap. Hierdie gepraat is sommer nonsens. Wat soek jy hier, Jaap? Ek’s moeg en vuil en ek wil gaan slaap, nie chit-chat oor Ranna nie.

    Het julle stry gekry?

    Jaap, wat soek jy hier?

    Ek het jou hulp nodig. Hy tree vinnig nader en bedink hom dan, asof hy onthou ek hou nie daarvan as vreemde mense te naby aan my staan nie.

    Watse hulp?

    Dis belangrik. Ek het R35 000, ek kan jou betaal.

    Dis baie geld vir ’n afgetrede polisieman. ’n Eerlike een – as ek Adriana kan glo.

    En as ek nie lus is nie?

    Dan slaan ek my tent hier voor jou deur op saam met kaptein Williams. Hy lag effens.

    Klink nie juis asof ek ’n keuse het nie. Ek sug hard, haak die valhelm oor my voorarm en beduie vir hom om my by die hek in te volg.

    Miskien is ek net moeg. Miskien het die maande saam met Ranna my sag gemaak. Of dalk is dit die twee keer wat ek hárd geval het. Of miskien is ek stupid.

    Ek klim op die KTM en skakel dit aan. Voel die gerusstellende dreuning onder my sitvlak. Wonder vir ’n oomblik of ek moet wegjaag, maar ry dan gedweë by die hek in, Jaap se stokou, vuil Corolla kort op my hakke.

    Stupid, besluit ek. Dis die regte antwoord. Stupid.

    2

    Sit.

    Jaap kyk eers nuuskierig rond voor hy stywebeen gaan sit.

    Die woonstel is stowwerig en benoud. Ek loop kombuis toe en sit die geiser en kragproppe aan. Maak die vensters oop vir vars lug en laat daarmee saam die Woensdagaand se geraas in.

    Ek sit my rugsak op die koffietafel neer en haal die melk en tee uit wat ek by Spar gekoop het. Dis wat ek die meeste gemis het die afgelope maande: melk. Yskoue, vars volroommelk.

    Ek konsentreer om nie na die ry rekenaars teen die muur te kyk terwyl ek yskas toe loop nie. Kyk eerder by die vensters uit, na die helder ligte van die middestad en die ander woonstelblokke hier naby die Pilditch-stadion in Pretoria-Wes. Die kafee op die hoek waarvan mens net-net die rooi Coca-Cola-teken kan uitmaak as jy in die hoek van die kombuis staan.

    Maak solank tee, sê ek vir Jaap. Ek het nie koffie nie. Ek gaan stort.

    Ek loop kamer toe, maak die deur toe en bel vir Adriana.

    Sarah. Uiteindelik. Waar’s jy?

    By die huis.

    Wie s’n?

    Myne.

    Het jy jou ma gebel?

    Nee. Sy’s kwaad vir my oor ek so lank weg was. Op ’n motorfiets en sonder my foon. Sê Ranna.

    Het jy haar al ten minste die kans gegee om die foon in jou oor neer te sit?

    Ha-ha. Hoekom sit Jaap Reyneke hier voor my woonstel en wag?

    Hy’t jou hulp nodig.

    Ek kan nie glo jy’t hom hiernatoe gestuur nie. Ek dog jy hou nie van hom nie. En maak polisiemanne jou nie senuweeagtig nie?

    Sy lag. Ek dink sy storie het meriete, maak nie saak hoe ek oor hom voel nie.

    Julle wil my besig hou. Het Ranna by jou kom skinder?

    Nee. Jy’s paranoïes. Jaap … hierdie saak is belangrik vir hom. Ek kan dit sien.

    Jy’s reg, ek is paranoïes. As jy weet wat ek weet, sal jy ook wees. Ek trek die gordyne oop, vee met ’n vinger deur die stof op die bedkassie. Ek dink nie ek weet meer waar om ’n rekenaar aan te sit nie.

    Jy’s in jou woonstel?

    Ek sê mos.

    Sê dan vir my hulle’s nie aan nie, daai ry rekenaars teen die muur? Sê vir my dis nie die eerste ding wat jy gedoen het toe jy by die woonstel ingeloop het nie.

    Dit was nie, stry ek.

    Ek onthou die presiese volgorde: ligte, geiser, kragproppe. Dit was die dérde ding.

    ’n Groot, growwe, droë handdoek wat my hele lyf toevou. Salig. En water uit ’n kraan. Warm water wat nie opraak ná ’n paar minute nie.

    Maar die mure is te naby. Te veel.

    Ek gaan sit op die bed en kyk na

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1