Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die Beek 2016
Uit die Beek 2016
Uit die Beek 2016
Ebook785 pages6 hours

Uit die Beek 2016

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Uit die Beek is die oudste Bybeldagboek in Afrikaans en het oor die jare heen 'n staatmaker in menige huis geword. Dit bied jou die geleentheid om met verloop van tyd deur die hele Bybel te werk. Daar is ook 'n teksgedeelte wat in die aand gelees kan word, sake waarvoor daagliks gebid kan word en inleidings tot die Bybelboeke wat gelees kan word. Dit is geskik vir persoonlike stiltetyd én vir huisgodsdiens. Uit die Ou Testament lees ons vanjaar uit Numeri, 1 en 2 Konings, Daniël, Hooglied, Hosea, Obadja, Miga, Amos en Klaagliedere; en uit die Nuwe Testament uit Johannes, Efesiërs, 1 en 2 Tessalonisense, Titus en Hebreërs. Sondae lees ons soos gewoonlik uit die Psalms. Met Uit die Beek 2016 sal jy ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir jou daaglikse lewe is. Mag hierdie jaar vir jou 'n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 21, 2015
ISBN9780796318527
Uit die Beek 2016
Author

Attie van Wijk

Attie van Wijk is ’n gesaghebbende en inspirasionele teoloog. Hy was prinsipaal van die Nehemia-Instituut en die Hugenote-Bybelinstituut op Wellington, asook Hoof van Bedienings van Bybel-Media en voorsitter van die Association of Christian Theological Schools. Hy en sy vrou, Wena, het vyf kinders wat in vyf verskillende lande woon, waar hulle almal aktief in diens van die Here staan.

Read more from Attie Van Wijk

Related to Uit die Beek 2016

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die Beek 2016

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk

    Uit die

    Beek

    2016

    Attie van Wijk

    Lux Verbi

    Oor die uitleg

    Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Uit die Beek 2016 mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

    Voorwoord

    Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament min of meer om die beurt bestudeer. As jy die siklus die afgelope ses jaar saam met ons gevolg het, het jy ál 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Daarom is dit belangrik om ook die aandgedeelte elke dag te lees.

    Gebruik die Gebedsgids in die boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

    Ds AJ van Wijk (sr.) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit die Uit de Beek genoem, na aanleiding van 1 Konings 17:4 in die Nederlandse Bybel: En het zal geschieden, dat gij uit de beek drinken zult … ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke dag moet verfris by die vars water van die Woord. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie uitgawe is die 90ste. Ons sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun en naamgenoot van die eerste skrywer. Sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com, as jy hom dalk wil kontak.

    In die Ou Testament lees ons vanjaar uit Numeri, 1 en 2 Konings, Daniël, Hooglied, Hosea, Obadja, Miga, Amos en Klaagliedere; en in die Nuwe Testament uit Johannes, Efesiërs, 1 en 2 Tessalonisense, Titus en Hebreërs. Sondae lees ons, soos gewoonlik, uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

    Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julleself toe te pas.

    Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is. Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

    Sake vir daaglikse voorbidding

    Sondag: Die uitdra van die evangelie

    •Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    •Dat die hoorders daders sal word

    •Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    •Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    •Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    Maandag: Opleidingsinstellings

    •Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    •Dat elke leerder gehalteonderrig sal kry

    •Dat dissipline herstel sal word

    •Dat die jeug reg gevorm sal word

    •Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    Dinsdag: Die jeug

    •Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    •Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    •Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    •Dat kinders die regte keuses sal maak

    •Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    Woensdag: Owerhede

    •Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    •Dat die regering die regte besluite sal neem

    •Dat die parlement God sal verheerlik

    •Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    •Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    Donderdag: Sending en getuienis

    •Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    •Vir jul sendelinge en hul gesinne

    •Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    •Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    •Vir die nodige finansies vir die werk

    Vrydag: Diens van barmhartigheid

    •Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    •Vir bevryding uit die armoedespiraal

    •Vir die instellings wat mense probeer help

    •Vir die nodige finansies hiervoor

    •Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    Saterdag: Herlewing

    •Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    •Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    •Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    •Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    •Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Januarie

    Welkom by Numeri

    SKRYWER:

    •Moses (33:2).

    EERSTE LESERS:

    •Oorspronklik geskryf vir die volk van Israel op pad na die beloofde land, maar ook as gids daarna.

    DATUM:

    •Omstreeks 1400 v.C. tot 1440 v.C.

    DOEL:

    •Numeri is die vierde van die vyf boeke van Moses, ook genoem die wet oftewel die Pentateug (= vyf boeke). Dit volg op die boek Levitikus en word gevolg deur Deuteronomium. Die naam kom van die sensus wat twee keer in die loop van die boek opgeneem is.

    HOOFTREKKE:

    •Die opdragte wat hulle by Sinai ontvang het.

    •Die woestynreis tot net voor die beloofde land.

    LET OP NA:

    •Die invloed van slegte gerugte (13–14).

    •Die klagtes en ondankbaarheid van die Israeliete.

    •God se oordeel oor sy mense toe hulle ongehoorsaam was.

    CHRISTUS IN NUMERI:

    •Christus word uitgebeeld deur die rots en die water (vgl. 1 Kor 10:4). Só voorsien Christus vir sy kinders.

    •Bileam se profesie sien al vooruit na die koms van die Messias (24:17).

    VRYDAG 1 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 1:1-16

    Nuwejaarsdag

    Organisasie

    Julle moet hierin bygestaan word deur persone wat hoofde is van hulle families, een uit elke stam (1:4).

    GESELSVRAAG: Waar het ons vanjaar beter organisasie nodig?

    ’n Voorspoedige Nuwejaar vir jou en jou gesin! wens ons mekaar vanoggend toe. Wat presies bedoel ons daarmee? Sukses in die werk? Eenheid in die huisgesin? ’n Sterk en gesonde huwelikslewe? Gesondheid? Rykdom? Aan die begin van ’n nuwe jaar is ons geneig tot Nuwejaarsvoornemens. (Tog vergeet ons dit bra gou!) Dit help nie om jou ideale neer te skryf sonder om te beplan hoe jy dit vanjaar gaan verwesenlik nie.

    Moses het ’n regstreekse telefoonlyn na die hemel gehad. God het met hom gepraat soos ’n vriend met sy vriend praat. Min van ons het daardie voorreg. Nietemin kan ons leer uit wat die Here hier vir Moses sê. Hoe tel jy twee miljoen mense? Of selfs net 600 000? Jy kan dit tog nie self doen nie. Daarom moet jy hulp kry. Jy soek die mees logiese persone om te vra. Moses het die familiehoofde gevra. Elkeen het geweet wie en hoeveel mense in sy groep is. So moet ons ook die regte mense in ons huis en by die werk saamsnoer om ons in ons beplanning te help.

    Vandag het ons ’n goeie geleentheid om te dink hoe ons die nuwe jaar beter kan beplan. Wat het verlede jaar verkeerd geloop? Hoe kan ons dit vanjaar beter doen?

    GEBED: Here, dankie dat ons 2016 saam met U kan aanpak. Help ons om vanjaar regtig ’n verskil te maak.

    Lees vanaand in Numeri 1:17-46 wat die sensus opgelewer het, waarvolgens Moses en die leiers beter kon beplan.

    SATERDAG 2 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 1:47-54

    Posbeskrywing

    Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore (1:50).

    GESELSVRAAG: Wat presies is elkeen van ons se werk?

    As jy nie ’n duidelike posbeskrywing het nie, is dit moeilik om bevredigende werk te lewer, verduidelik die fasiliteerder. Ons moes dus elkeen gaan neerskryf hoe ons ons werk sien en dan kon ons werkgewer kyk of dit met sy of haar idee strook. So kan ons baie misverstande voorkom.

    Die Leviete was die kosters van daardie tyd. Hulle was verantwoordelik vir die tabernakel en alles wat daarin gebruik is. Hulle moes dus sterk wees om daardie swaar toerusting kilometers ver te dra! Die tabernakel was opvoubaar en kon uitmekaargehaal word elke keer dat die volk verskuif. Die Leviete het rondom die tabernakel gewoon om altyd byderhand te wees as die wolk begin beweeg.

    Elkeen van ons het verantwoordelikhede in die huis en by die werk, asook in die kerk. Ons moet presies weet wat ons werk is, sodat ons nie soos passasiers op ’n oorlogskip voel nie. Ons almal is God se werkers. Kom ons kyk of ons ’n lysie kan maak van hoe ons ons deel kan doen om die huisgesin, werksplek en gemeente se jaar aangenaam vir almal te maak.

    GEBED: Here, wys my elke dag van hierdie jaar wat ek vir U kan doen. Help my dan om dit getrou te doen.

    Lees vanaand in Numeri 2:1-16 hoe die Israeliete georganiseer is om as families saam te bly en saam te reis.

    SONDAG 3 JANUARIE 2016

    Lees eers Psalm 77:1-10

    Slapeloos

    U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos (77:5).

    GESELSVRAAG: Wat laat ’n mens snags wakker lê?

    Iemand wat sê hy het soos ’n babatjie geslaap, bedoel seker dat hy elke twee uur wakker was en gehuil het, verduidelik ’n ervare mamma. Dit is ongelukkig die werklikheid, wat ’n mens alleen maar sal verstaan as jy self daardeur is. Ons mammas is darem helde. Pappas lê ook dikwels die hele nag wakker en bekommer hulle oor hul werk of ander bedreigings vir hul gesin, die maatskappy en hulleself.

    Asaf vertel hoe hy as gelowige ook sulke tye geken het. As hy dink aan die wonders wat die Here in die verlede gedoen het, dan wonder hy hoekom dit nie nou nog so maklik gaan nie. Waar is die Here dan? Het Hy Hom van ons onttrek? Het Hy sy krag verloor? Is Hy dalk kwaad vir ons?

    Ons kan verwag om ook vanjaar sulke tye te ervaar. Dan is dit vir ons ’n troos om te weet dat dit deel van die lewe is. Asaf het selfs hierdie psalm daaroor geskryf. Hy gee nie maklike antwoorde nie. In hierdie gebroke werklikheid is dinge nie volmaak nie. Nietemin sal die Here ons deurhelp, al lyk dit ook hoe donker in tye van depressie. Dit mag nodig wees om professionele hulp te soek. Kom ons begin by die Here, soos Asaf gedoen het. Ons kan Hom eerlik vertel presies hoe ons nou voel.

    GEBED: Here, sonder U kan ek hierdie jaar nie in die oë kyk nie. Dra ons almal deur alles wat op ons wag.

    Lees vanaand in Psalm 77:11-21 hoe die digter die Here herinner aan die goeie dae in die verlede. Kan jy dit ook doen?

    MAANDAG 4 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 2:17-34

    Met God op pad

    Die kamp van die Leviete met die tent van ontmoeting moet altyd in die middel van die ander kampe bly wanneer hulle trek (2:17).

    GESELSVRAAG: Waar kan ons vandag gaan waar God nie is nie?

    Ek het die klein pakkies wat my leraar saamgegee het, uitgehaal en die wyn in die bekertjie geskink. Weens die maan se min swaartekrag het die wyn sierlike draaie gemaak. Toe het ek die broodjie en wyn gebruik nadat ek Johannes 15:5 hardop gelees het, vertel Buzz Aldrin van die eerste Nagmaal wat op die maan gevier is. Hy was ’n ouderling in die Presbiteriaanse Kerk toe hy op 20 Julie 1969 op die maan land. Selfs op die maan was hy bewus van God se teenwoordigheid.

    Die Israeliete moes ook besef dat God oral is waar hulle moontlik sou gaan. Die reisgeselskap was dus gerangskik rondom die groep wat verantwoordelik was vir die tabernakel. Dit was die simbool dat God in sy volk se midde was, in alle omstandighede en op elke plek waarheen hulle sou beweeg.

    Vanjaar is ons ook saam met God op pad. Ons hoef dus vir niks bang te wees nie. Die Here gaan saam met ons na die nuwe skool of die nuwe dorp of die nuwe bedeling by die werk. Ons sal mekaar in hierdie jaar kan bystaan as ons God midde-in ons lewe plaas.

    GEBED: Here, dankie dat U vanjaar elke dag saam met ons sal wees. Help ons om dit te onthou.

    Lees vanaand in Numeri 3:1-10 hoe die priesters ook hul helpers gehad het om die werk te doen.

    DINSDAG 5 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 3:11-26

    Beproefde mense

    Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes (3:12).

    GESELSVRAAG: Watter families maak deesdae ’n positiewe verskil?

    Dit is darem verstommend waar die nageslag van wyle ds Andrew Murray van Graaff-Reinet hulle oral onderskei het, het ons vir mekaar gesê nadat ons ’n lesing by ’n Murray-familiesaamtrek bygewoon het. Hulle het leiersrolle vervul op die gebied van die teologie, onderwys, sending, geneeskunde, kuns en politiek, en doen dit nou nog. So kan julle seker ook dink waar julle vandaan kom en waar die Here jul familie gebruik het.

    Waarom het die Here juis die Leviete gekies om op ’n spesiale manier aan Hom te behoort? Hulle is nie die afstammelinge van die oudste kind, Ruben nie. Moontlik kry ons die antwoord in Eksodus 32:26-29 waar die kinders van Levi vir die eer van die Here geveg het terwyl die res van die volk ’n goue kalf aanbid het. Hulle het gewys agter wie hulle staan. Hulle was nie bang om ongewild te wees ter wille van die eer van die Here nie.

    Ons kan nie ons verlede verander nie, maar ons kan wel ons en ons nageslag se toekoms verander. Hulle wil graag ons voorbeeld volg. In hierdie week sal ons dalk die kans kry om standpunt in te neem. Wat sal dit wees?

    GEBED: Here, hou my getrou aan U as die versoeking kom om met die stroom saam te gaan.

    Lees vanaand in Numeri 3:27-39 hoe elke familie sy eie besondere verantwoordelikheid gehad het. Wat is julle s’n?

    WOENSDAG 6 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 3:40-51

    Plaasvervangers

    In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel (3:41).

    GESELSVRAAG: Wie kan ons na ’n onbereikte volksgroep stuur met die evangelie?

    Ons kan nie almal na al die streke in Handelinge 1:8 gaan nie, maar elke gemeente kan tog in al daardie streke ’n verskil maak deur dit vir iemand anders moontlik te maak om te gaan, verduidelik ’n sendeling op ’n vergadering. Ons kan almal na die uithoeke gaan deur gereeld vir die werk daar te bid.

    Die oudste kind van elke ouerpaar moes aan die Here gewy word. Nou reël die Here egter dat elke gesin daardie kind kan loskoop deur ’n Leviet in sy plek te ondersteun. So lees ons dat die stam van Levi geld ontvang het om hulle te help oorleef terwyl hulle die Here voltyds in die plek van die eersgeborenes dien. Hulle sou nie ’n erfdeel kry soos die ander stamme nie, want hulle moes tussen die ander woon om hulle in die Woord van die Here te onderrig.

    Elke gemeente het ook mense wat die ondersteuning van die gemeentelede nodig het om te oorleef: al die ampsdraers en die leraars, maar ook die sendelinge wat deur die gemeente ondersteun word. Ons moet hulle nie net met ons dankoffers dra nie, maar ook met ons gebede. Wanneer laas het jy vir jou leraar en sendelinge gebid? Doen dit sommer nou.

    GEBED: Here, dankie vir elkeen wat namens ons in u diens is.

    Lees vanaand in Numeri 4:1-11 hoe die Leviete die inhoud van die tabernakel vir die reis moes voorberei.

    DONDERDAG 7 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 4:12-20

    Hoë risiko

    Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie (4:18).

    GESELSVRAAG: Watter beroepe is deesdae gevaarlik?

    Wat wil jy eendag word? is steeds een van die opstelonderwerpe waarmee elke kind moet worstel. In die verlede wou seuntjies brandweermanne of ruimtevaarders word. Deesdae wil hulle blykbaar soldate word wat alles wat beweeg voor die voet doodskiet, soos in die rekenaarspeletjies. Dogtertjies se drome het verskuif van huisvrou en moederskap na model en filmster. Of dalk ’n sakevrou.

    Vir die Kehatiete was die keuse maklik. Die manne sou almal as Leviete dien, van hul dertigste tot vyftigste jaar. Dit was die familiegroep waartoe Moses en Aäron ook behoort het. Hierdie deel van die Leviete het die taak gehad om die heiligste voorwerpe in die tabernakel te versorg. Die meeste van hulle het dit egter nooit gesien nie. Die priesters het die voorwerpe sorgvuldig toegedraai voordat die ander Leviete dit kon dra. Daar is selfs mense wat al gewonder het of die ark dalk radioaktief was – hoekom was dit dan so gevaarlik?

    In baie lande is Christenwees vandag seker die hoogste risiko. Duisende word elke jaar gemartel en doodgemaak, nie omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie, maar bloot omdat hulle volgelinge van Jesus is. Is jy ook een van hulle?

    GEBED: Here, hou my tot die einde aan U getrou.

    Lees vanaand in Numeri 4:21-28 hoe die Gersongroep die seile van die tabernakel moes versorg.

    VRYDAG 8 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 4:29-33

    Nederige staatmakers

    Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting (4:33).

    GESELSVRAAG: Wie se werk word nie maklik raakgesien nie?

    As die hoofbestuurder siek is, kom niemand dit agter nie. Maar as die teedame nie op haar pos is nie, dan weet almal dit, wys iemand uit in ’n arbeidsbedieningvergadering. Baie van ons word so vanselfsprekend aanvaar dat ons werk eers raakgesien word as ons die dag nie daar is nie.

    Die Merarigroep se werk was om die raamwerk van die tabernakel te versorg en te dra. Op die oog af was dit ’n nederige werk, maar wee jou as daar een balk makeer wanneer die tabernakel weer aanmekaargesit moet word. Hulle werk was eintlik baie belangrik, want hulle het die raamwerk voorsien waarvan al die ander afhanklik was.

    Ons is nie almal op die voorgrond nie. Die meerderheid van ons is bloot deel van die massa. In elke maatskappy, kerk en gesin is die onsigbares egter juis die staatmakers op wie almal steun. Dit help ons om te verstaan waarom die nederiges so belangrik vir die Here is. Wie laaste is, is eerste in die Here se oog. Ons moet dus nie moedeloos word en ons onttrek as ons nie die nodige erkenning kry nie. Die Here sien elkeen raak en is trots op sy kinders.

    GEBED: Vader, maak my ’n staatmaker in u kerk en wêreld op wie U en elke ander mens kan vertrou.

    Lees vanaand in Numeri 4:34-49 hoe elkeen van die Leviete ’n plig gehad het wat vir die diens van die Here belangrik was.

    SATERDAG 9 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 5:1-10

    Oneerlikheid is verbode

    Wanneer iemand, man of vrou, ’n medemens benadeel en dus ontrou teenoor die Here is, is hy skuldig (5:6).

    GESELSVRAAG: Wanneer is oneerlikheid geregverdig?

    Nee, meneer, die saak is eintlik ’n bietjie anders, help Ben die uitvoerbestuurder reg. Hy gee toe die ware feite. Hy het nie besef dat sy baas besig was om die klant doelbewus te mislei nie. Die gevolg was dat Ben afgedank is. Daardie maatskappy bestaan nie meer nie. Oneerlikheid raak die Here intens en moet gestraf word.

    In vandag se Skrifgedeelte gaan dit oor eerlikheid. Dit is vir die Here belangrik dat sy volk in alles eerlik moet wees. As iemand in hierdie opsig gesondig het, moet hy vir sy oneerlikheid vergoed. As die mens wat hy bedrieg het, nie meer lewe nie, moet die vergoeding aan die priester betaal word.

    Baie sakemanne wat tot bekering kom, sal jou vertel hoe die Here hulle oortuig het om te vergoed vir die oneerlike sake wat hulle in die verlede gedoen het. In baie gevalle is dit nie meer moontlik nie. Hul oneerlikheid het dalk gemaak dat hul slagoffers alles verloor het – selfs hul lewe. Baie van ons sal ook kan vertel hoe ons self die slagoffer van gewetenlose mense geword het. Ons moet hulle vergewe, al sien hulle nog nie in dat hulle gesondig het nie. Om nie te vergewe nie maak jouself seerder as vir die skuldige.

    GEBED: Here, help my om nooit iemand anders te benadeel nie. Help my om elke dag aan U getrou te bly.

    Lees vanaand in Numeri 5:11-22 hoe in daardie tyd omgegaan is met aanklagte van ontrou sodat die waarheid kon seëvier.

    SONDAG 10 JANUARIE 2016

    Lees eers Psalm 78:1-8

    Huisgodsdiens

    ... sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel (78:6).

    GESELSVRAAG: Wanneer laas het julle saam huisgodsdiens gehou?

    Ek weet nie mooi wat dit beteken nie, bely ’n universiteitsmaat van een van ons kinders. Ons was saam met die kinders by die see en wou die aand huisgodsdiens hou. Die studentemaat het dit nie van huis uit geken nie. Ek vermoed dat min jongmense vandag nog weet van boekevat en saambid.

    Asaf het hierdie psalm gedig om ons as ouers op te skerp om gereeld met ons kinders te praat oor die groot dade van God. Só word die geloof van geslag tot geslag oorgedra. In daardie tyd was daar nog nie ’n Bybel in elke huis nie en die ouers moes maar vertel wat hulle uit hul kinderdae onthou het. Vandag het ons baie meer voorregte. En tog gebruik ons dit nie. Gee ons dan werklik so min vir ons kinders om?

    Dit is nie genoeg om net een keer ’n week in die kerk tyd vir die Here te maak nie. Ons het die Here elke dag van die week nodig. Ons kinders moet elke dag deur ons woorde en voorbeeld gelei word. Ek is so dankbaar om te hoor dat Uit die Beek baie gesinne help om elke dag saam die Woord van die Here te oordink en vir mekaar te bid. Dit is ’n kosbare nalatenskap vir ons nageslag.

    GEBED: Here, help ons om vanjaar elke dag saam huisgodsdiens te hou sodat ons vir die nuwe dag gewapen kan wees.

    Lees vanaand in Psalm 78:9-17 oor watter skade dit meebring as ons die Here se dade vergeet.

    MAANDAG 11 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 5:23-31

    Die rooi lig

    Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie en getrou was, sal haar onskuld bewys word en sal sy kinders kan kry (5:28).

    GESELSVRAAG: Hoe kan ons mekaar help om getrou te bly?

    Sewentig persent van die kinders in my klas kom uit gebroke huwelike, vertel ’n onderwyseres. Die gevolg is dat die kinders sukkel met hul klaswerk, met dissipline en met verhoudings. En die hoofoorsaak van egskeidings is ’n lewensmaat wat ontrou was in die huwelik. Dit verwoes ’n gesin en ’n nasie. Kinders moet grootword sonder goeie rolmodelle. Almal kry swaar. Selfs die kinders se geloofslewe word geknou omdat hulle nie weet wat ’n liefdevolle, teenwoordige vader is nie.

    Die rites van eeue gelede het ’n baie belangrike rol gespeel. Dit het mense gehelp om versoekings te vermy. As ek weet wat op my wag, dink ek twee keer voordat ek na daardie verleidelike stem luister. Ons lees nie van ’n enkele keer dat dit nodig was om dit toe te pas nie.

    Wat is die rooiligbuurt, Mamma? Pietie sê daar is so iets. Jy weet mos wat ’n rooi lig beteken, Fanie. Wat is dit? vra sy ma. Dit beteken gevaar, of stop. Presies. Dit beteken dat die dinge wat in daardie buurt gebeur baie gevaarlik is vir jou gesondheid, jou huwelik en jou ewigheid. Daarom moet jy betyds stop voordat jy jou hele lewe verwoes.

    GEBED: Here, bewaar ons huwelike en ons gesinne van die gevare van huweliksontrou.

    Lees vanaand in Numeri 6:1-12 wat die tekens sou wees van diegene wat hulle ten volle aan die Here wy.

    DINSDAG 12 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 6:13-21

    Afgesonder

    By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer (6:18).

    GESELSVRAAG: Wat is die waarde van ’n tyd van afsondering?

    Ek wil die volgende paar weke ’n Daniël-vas doen, sê ’n jong vriendin. Dit beteken om baie eenvoudig te eet en te drink as deel van ’n tyd van toewyding en stilword. Sy wou by die Here hoor wat die volgende stap in haar loopbaan is. Dit was vir haar ’n spesiale tyd van toewyding aan die Here.

    Ons lees meermale in die Bybel van mense soos Johannes die Doper en Paulus wat hulle ’n tyd lank afgesonder het om die wil van die Here te soek. In Moses se tyd was nasireërskap so ’n spesiale tyd van toewyding. Volgens Numeri 6 moes so iemand alkoholiese drank en alle produkte van die wynstok vermy. Hy moes ook aanraking met ’n lyk vermy, en sy hare vir die volle tyd laat groei. Vandag se Skriflesing gaan oor hoe so iemand sy hare aan die einde dié tyd by die tabernakel moes gaan afskeer.

    Hoe kan ons vandag ook so ’n tyd van toewyding hou? Baie gelowiges doen dit deur vas en gebed. Calvyn was sterk ten gunste daarvan. John Wesley het glo geweier om ’n leraar te orden as hy nie twee dae per week vas nie. Dit is nie om druk op die Here uit te oefen nie, maar om selfsugtige begeertes te oorwin. Hoe wil jy dit doen?

    GEBED: Here, help my om my vir so ’n tyd van toewyding af te sonder.

    Lees vanaand in Numeri 6:22-27 die woorde waarmee ons elke dag ons kinders kan seën.

    WOENSDAG 13 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 7:1-10

    Transport

    Hulle het as offergawes ses tentwaens en twaalf osse gebring (7:3).

    GESELSVRAAG: Watter voertuie is vir die werk van Here nodig?

    Is jy lus vir ’n nuwe viertrekvoertuig? Gaan koop dit gerus. Skenk dit dan aan jul sendeling in Mosambiek. Hulle het ’n betroubare voertuig baie nodiger as jy! skerts die spreker by ’n sendingweek. Dis meer as net ’n grappie. Ons sendelinge in die boendoes kry dikwels swaar om op uiters swak paaie met ou, onbetroubare karre, ver van enige motorhawe, hulle werk te doen.

    Die stamleiers van Israel het besef dat vervoer nodig is om die reusetent van die tabernakel van een plek na ’n ander te vervoer. Die gereedskap van die tabernakel kon die Kehatgroep miskien nog op hul skouers dra, maar nie die raamwerk en die tentseile nie. Daarvoor was waens nodig. Hulle het dus met groot opoffering hul beste waens, wat hulle nog destyds in Egipte gekry het, daarvoor gegee.

    ’n Suid-Afrikaanse sakeman in die Midde-Ooste het herhaaldelik nuwe voertuie aan sendelinge in sy omgewing geskenk terwyl hy self met ’n ou voertuig ry waarvan die lugreëlaar nie meer werk nie. Hy en sy gesin woon in sy huis se woonkamer sodat hulle die ander vertrekke kan verhuur – sodat hulle meer geld het om weg te gee.

    GEBED: Here, wys my waar ek u werk kan ondersteun. Stel my in staat om ál meer te doen.

    Lees vanaand in Numeri 7:11-83 hoe die familieleiers beurte gemaak het om die Here se werk te ondersteun.

    DONDERDAG 14 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 7:84-89

    Interkom

    So het die Here met Moses gepraat (7:89).

    GESELSVRAAG: Hoe praat die Here deesdae met ons?

    Inligtingstegnologie het die wêreld oorgeneem. Binne tien jaar nadat ’n student Facebook in ’n koshuiskamer begin het, gebruik meer as 1,25 miljard mense daardie diens, lees ek op die internet. In baie dele van die wêreld het selfone die algemene kommunikasiemiddel geword. Landlynfone is besig om te verdwyn weens die diefstal van koperkabels. Min mense gebruik nog papierbriewe. E-pos, BBM, Whatsapp, Twitter en SMS’e het dit vervang. Wie het nog tyd om boeke te lees?

    Tog was Moses se kommunikasie met God veel beter as ons s’n. Sy verhouding met die Here was so direk soos ’n interkom. Hy kon duidelik hoor en verstaan wat die Here vir hom sê. Hy het dit dadelik neergeskryf sodat die volk en hul nageslag dit eeue later nog kon hoor en verstaan. Ek en jy ook! Dit nogal in ons eie moedertaal.

    Hoewel ons so maklik met mekaar – en die Here – kan kommunikeer, verstaan ons mekaar steeds verkeerd. Ons hoor mekaar nie mooi nie. Vandaar al die opstande en betogings. Ons ly so aan inligtingsoorlading dat ons nie meer tyd het vir die belangrikste ontmoeting van almal – dié met die lewende God – nie. Miskien moet ons meer hieraan werk, soos Moses.

    GEBED: Hemelvader, dankie dat U gewillig is om met my te praat en na my te luister. Leer my hoe om dit reg te gebruik.

    Lees vanaand in Numeri 8:1-4 hoe die kandelaar aangepas is om meer lig vir die werk in die tabernakel te gee.

    VRYDAG 15 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 8:5-11

    God se getuies

    Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê (8:10).

    GESELSVRAAG: By watter geleenthede is jy al aan die Here gewy?

    Elke mens wat gedoop word, word as sendeling gedoop, het wyle dr Andrew Murray glo per geleentheid gesê. Ons word gedoop in die Naam van die Vader, wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het. Ook in die Naam van die Seun, wat ons die groot opdrag gegee het om die evangelie aan alle volke te verkondig, en in die Naam van die Heilige Gees, wat ons sy getuies in die wêreld maak wanneer Hy oor ons kom. Ons is dus almal by ons doop tot sendelinge georden.

    Die Leviete was die plaasvervangers van die res van die volk, soos ons reeds gesien het. By hierdie plegtigheid moes elke Israeliet sy hande op ’n Leviet lê as simbool dat hy die Leviet die opdrag gee om in sy plek die Here te dien. Daar is ’n sterk ooreenkoms met die voorbereiding van die sondeofferdiere. Die Leviete was dus Israel se offergawes aan God (vgl. v. 11).

    Ons kan vandag dink dat ons ook leraars en sendelinge afsonder en uitstuur om die werk van die Here namens ons te doen. Dit skuif egter nie die verantwoordelikheid van ons af om ook God se gestuurde – sy sendeling – te wees by die skool, by die werk, op die plaas en op die pad nie. Geniet jou roeping vandag. Gee jouself (vgl. Rom 12:1-2).

    GEBED: Here, ek wy myself en my gesin vandag aan u diens.

    Lees vanaand in Numeri 8:12-22 hoe die Leviete die Here namens die volk gedien het.

    SATERDAG 16 JANUARIE 2016

    Lees eers Numeri 8:23-26

    Aftrede

    As ’n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie (8:25).

    GESELSVRAAG: Wanneer is dit ’n goeie tyd om af te tree?

    Ek lees van net een persoon in die Bybel wat wou aftree. Dit was die ryk dwaas, noem iemand toe ons oor aftrede gesels. Hy was egter nie heeltemal korrek nie. Ons lees hier dat die Leviete op 50 moes aftree. Hulle moes vrygestel word van die diens sodat hulle vir hul kinders en kleinkinders kon sorg. Onthou, in hierdie tyd moes die Leviete onder meer die tempelgereedskap kilometers ver dra en die swaar werk doen van die tabernakel op- en afslaan. Dit was dus uit sorgsaamheid dat hierdie reël ingestel is. Dit het ook net vir die Leviete gegeld.

    Moses het self eers met sy eintlike werk begin toe hy 80 jaar oud was en was in diens tot 120. Hy was ’n besondere mens – dink net hoe sterk hy moes wees om op daardie gevorderde ouderdom twee groot klipplate teen die berg op en af te dra sodat die Tien Gebooie daarop gegraveer kon word. Sy 40 jaar in die buitelug as skaapwagter het hom seker daarvoor voorberei!

    ’n Christen tree nooit af nie. Hy tree net uit sy gewone werk sodat hy voltyds beskikbaar kan wees vir wat die Here deur hom wil doen, vertel ’n afgetrede boer. Hy en sy vrou werk nou voltyds in die sending in Mosambiek.

    GEBED: Here, ons wil U ons hele lewe lank ten volle dien. Help ons om dit te doen.

    Lees vanaand in Numeri 9:1-14 hoe gesorg is dat alle mense die vreugde van die Paasfees kon ervaar.

    SONDAG 17 JANUARIE 2016

    Lees eers Psalm 78:18-22

    Ongeloof

    ... omdat hulle nie op God vertrou het en op sy hulp staat gemaak het nie (78:22).

    GESELSVRAAG: Waarom gaan die meeste mense nie kerk toe nie?

    Die grootste gros kerklidmate leef net soos ateïste. Hulle gaan nie meer kerk toe nie; hulle lees nie meer die Bybel nie. Hulle maak nie tyd vir gebed nie. Hulle hou nooit huisgodsdiens nie. Hulle lewenswyse verskil niks van ongelowiges s’n nie. Stem jy saam met hierdie vriend se opmerking? As dit waar is, is dit ’n groot aanklag teen ons kerke. Maak ons dan geen verskil meer in ons land nie? Waar lê die fout?

    Die Israeliete was God se volk. Hy het hulle uit slawerny verlos. Hy was besig om hulle na die beloofde land te lei. Hy het vir hulle gesorg. Tog het hulle gedurig gekla. Hulle was ontevrede met alles wat die Here gedoen het, soos hierdie psalm ons herinner. Hul ongeloof het God kwaad gemaak, lees ons hier. Dit het negatiewe gevolge gehad (vgl. Num 11:1).

    Wat sê jou gebruik van die dag van die Here van jou geloof? Wie is die belangrikste in jou lewe? Die Here, of jy self? Is vandag vir jou ’n dag van aanbidding, gebed, Bybelstudie en diens, of van plesier en selfsugtige vermaak? Hierdie dag is ’n kosbare skat as ons dit reg gebruik. Die Here wil ons versterk en voorberei vir die week wat voorlê. Kom ons maak dit sy dag.

    GEBED: Dankie dat U aan ons elke week ’n rusdag gee om ons te verkwik, Here. Help my om hierdie dag reg te gebruik.

    Lees vanaand in Psalm 78:23-31 hoe mense steeds ontevrede bly, al voorsien die Here ook alles wat hulle nodig het.

    MAANDAG 18 JANUARIE

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1