Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die Beek 2019: 365 dagstukkies
Uit die Beek 2019: 365 dagstukkies
Uit die Beek 2019: 365 dagstukkies
Ebook767 pages6 hours

Uit die Beek 2019: 365 dagstukkies

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Uit die Beek, die geliefde Afrikaanse Bybeldagboek, kom vanjaar weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuses vir elke dag is grootliks op die Revised Common Lectionary (oftewel die RCL-leesrooster) gebaseer. Dit maak hierdie tydlose Bybelse dagboek opnuut geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en Bybelstudiegroepe. Kom les jou geestelike dors elke dag by die vars water van die Woord en ontdek ware rus en vreugde in God.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 3, 2018
ISBN9780796320940
Uit die Beek 2019: 365 dagstukkies
Author

Barend Vos

Dr. Barend Vos is 'n bekende Christenskrywer en predikant. Hy het al verskeie boeke uitgegee: van dagstukkies en literêre fiksie tot romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart. Hy skryf elke maand vir LiG-tydskrif sy Grootseun-storie. Hy is in 2016 bekroon met 'n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories.

Read more from Barend Vos

Related to Uit die Beek 2019

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die Beek 2019

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die Beek 2019 - Barend Vos

    Uit die

    Beek

    2019

    Barend Vos

    Lux Verbi

    Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Uit die Beek 2019 mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Voorwoord

    Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybelse dagboek. Die eerste weergawe hiervan het reeds in 1925 verskyn, in Nederlands, en sedert 1927 as Uit de Beek. Die naam is waarskynlik ontleen aan Psalm 110 se laaste vers soos dit in die Nederlandse Bybel lui: Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.

    In 1929 is dié dagboek vir die eerste keer in Afrikaans ge­publi­seer, met die titel wat dit sedertdien dra. Dit is klaar­blyklik ’n veelgebruikte en geliefde dagboek, wat uiteraard hoë verwagtinge aan die skrywer daarvan regverdig. ’n Groot dankie, dus, aan elke leser wat 2018 se Uit die Beek gekoop en gebruik het én wat dit met 2019 se uitgawe waag. Dit is weer my groot voorreg om hierdie daaglikse oordenkings aan gelowiges te bied.

    Die daaglikse Skriflesings volg, soos in 2018, grootliks dié van die bekende leesrooster, Revised Common Lectionary (RCL), en wel van die liturgiese Jaar C. En met die aanbreek van Advent 2019, dié van Jaar A. Die RCL word wêreldwyd gebruik, ook met groot vrug en vreugde deur baie gemeentes in ons land.

    My gebed is dat almal wat dié boek gebruik, sal ervaar hoe die Woord elke dag hul dors les.

    BAREND VOS

    Warrenton, 30 September 2018

    Sake vir voorbidding

    SONDAG: Die uitdra van die evangelie

    •Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    •Dat die hoorders daders sal word

    •Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    •Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    •Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    MAANDAG: Opleidingsinstellings

    •Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    •Dat elke leerder gehalteonderrig sal kry

    •Dat dissipline herstel sal word

    •Dat die jeug reg gevorm sal word

    •Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    DINSDAG: Die jeug

    •Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    •Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    •Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    •Dat kinders die regte keuses sal maak

    •Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    WOENSDAG: Owerhede

    •Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    •Dat die regering die regte besluite sal neem

    •Dat die parlement God sal verheerlik

    •Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    •Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    DONDERDAG: Sending en getuienis

    •Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    •Vir sendelinge en hul gesinne

    •Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    •Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    •Vir die nodige finansies vir die werk

    VRYDAG: Diens van barmhartigheid

    •Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    •Vir bevryding uit die armoedespiraal

    •Vir die instellings wat mense probeer help

    •Vir die nodige finansies hiervoor

    •Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    SATERDAG: Herlewing

    •Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    •Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    •Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    •Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    • Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Januarie

    Dinsdag 1 JANUARIE 2019            Lees Numeri 6:22-27

    NUWEJAARSDAG

    Seën!

    Die Here sal julle seën en julle beskerm … (v. 24).

    Gelowiges ken (en gebruik) ’n seënspreuk gewoonlik aan die einde van ’n gesprek. Die laaste woorde voor huis toe gaan, ’n (vrome!) tot siens. En meestal ook aan die einde van ’n erediens.

    Maar vandag hoor ons dit aan die begin, rég aan die begin. En wanneer jy mooi daaroor dink, besef jy: Kán daar ’n beter tyd wees as juis hierdie eerste dag van die jaar om die Here se seënbelofte aan te hoor? So ’n voorafversekering dat Hy die pad saam met jou loop?

    Wat ons boonop uit ondervinding reeds weet, is dat die Here se beloftes van ’n heel ander aard en gehalte as ons s’n is. Hierdie seën is dus nie ’n nuwejaarsvoorneme nie en dit is nie die opskrif boaan ’n wenslysie vir 2019 nie. Dit is niks minder nie as ’n be­vestiging dat die Here jou in sy hande hou. Juis ook wanneer die nuwejaarsvoornemens een vir een deur jou swak vingers geglip het en die wenslysie uiteindelik opgefrommel in ’n moedelose hoekie lê.

    Maar die allerbeste – en ook dit weet ons uit heerlike onder­vinding – is dat die Here se seëninge veel, véél meer as vae goed­voelwaarde het. Ja, sy seëninge is almal dade. Alles is die werk van sy hande. Hy seën sy kinders met die dinge wat Hy vir hulle doen en aan hulle gee.

    Ontvang dus vandag, kind van die Here, die seën van Hom met die groot en vaardige hande. En gaan leef hierdie eerste dag van die nuwe jaar wat Hy jou gee, knus en getroos in die holte van daardie grootse sagtheid.

    ____________________

    Here ons Here, ek eet uit u hand. My beker loop oor.

    Woensdag 2 JANUARIE 2019             Lees Spreuke 1:1-7

    Eers kniel …

    Kennis begin met die dien van die Here … (v. 7).

    Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer … sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. Só begin hierdie interes­sante, veelgelese en dikwels aangehaalde boek met versamelde wys­hede. En as ons dié spreukeversamelaar se uitgesproke doel ter harte neem, lees ons die ganse bundel in een sitting deur!

    Want die Here weet hoe nodig ons wysheid het, veral ook om te kan onderskei tussen die baie woorde wat hierdie jaar op ons afgevuur gaan word: die vernames se vername uitsprake en al­ge­mene praatjies-vir-die-vaak; die aartspessimiste se terneerdruk­kende voorspellings en die ewige optimiste se onrealistiese vooruit­skouings; die skeptiese mense se maklike wantroue en die siniese mense se ek-het-julle-mos-gesê. Om nie te praat van die slimjanne se irriterende beterweterigheid nie.

    Ja-nee, as Spreuke ons sal leer wie se woorde ons ernstig moet opneem, wie ons moet glo, wie ons kan ignoreer en wie ons moet jammer kry omdat hulle mislei is en daarom ook ander mislei, dán sal ons vinnig en deeglik lees. Dan sal ons onderstreep, notas maak. Ons sal uittreksels daarvan neerskryf en in ons beursie bêre en teen die yskas plak.

    Maar, blyk dit, ons moet ’n bietjie wag met die lesery. Ons moet eers ’n bril opsit, die regte bril. Want, sê hierdie spreukeversamelaar, kennis begin met die dien van die Here. Voordat ons dus begin lees, moet ons eers kniel. Voordat ons ons laat leer, moet ons eers vra: Wat wil U my wysmaak?

    Want sien, ons leer mos alte graag wat ons wíl leer. Ons laat ons oortuig as ons oortuig wil word. Ons glo tog so vas in ons eie slimmigheid.

    ____________________

    Verlos my, Here, van my onwankelbare geloof in myself. Maak my vry om U te dien.

    Donderdag 3 JANUARIE 2019            Lees Psalm 72

    In u Naam

    Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil … (v. 1).

    Hier is dit nou, en sekerlik onvermydelik aan die begin van ’n nuwe jaar: die gebed vir die koning. Die gelowige wat in hierdie dae die regeerders aan die Here opdra. Vir die owerheid bid ter wille van ’n rustige en stil lewe (vgl. 1 Tim 2:1-5).

    Maar ons doen dit nie. Ons gil liewer op hulle – bitterbek, woedend. Vloek gans te gereeld wanneer ons aan hulle dink.

    Ons gebruik al jare lank skelname wanneer ons oor hulle praat. Meestal suutjies, darem. Behalwe wanneer ons tussen mense is wat net so luidrugtig soos ons kla en net so uitgesproke oor hulle, die regeerders, te kere gaan.

    Maar vir hulle bíd? Nie sommer nie.

    Dit maak Psalm 72 ’n lastigheid. En 1 Timoteus 2:1-5 nogal ’n verleentheid. (By Romeine 13:1-7 blaai ons beslis haastig verby …)

    Maar selfs ’n vinnige lees van dié psalm wys duidelik die eerste beginsel van elke gebed uit: Dit is ’n versugting tot God, tot niemand anders nie. Kyk dan hoe wemel dit van laat hy …; leer hom …; mag hy …

    Sien, die bidder praat nie met die koning nie, maar met die Koning van die konings. Hier tree die bidder nie net vir die regeer­ders in nie, maar juis ook vir die onderdane. Vir die verdruktes, die armes, vir reg en geregtigheid.

    Vir ’n rustige en stil lewe onder die regering van iemand wat dalk nie die naam koning werd is nie. Maar vir wie daar tog gebid moet word, in die verhewe Naam van die enigste Een wat magtige dade doen (vgl. v. 18-19).

    ____________________

    Vergewe my dié teësinnige gebed, Here. Leer my, en die koning, lewe soos U dit wil hê.

    Vrydag 4 JANUARIE 2019            Lees Handelinge 7:44-53

    Wie is julle?

    Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook (v. 51).

    Stefanus se mond lei uiteindelik tot sy doodsvonnis. Hierdie jong diaken – een van die eerste verkose diensknegte in die kerk van Christus – sou sonder twyfel beter gevaar het as hy hom op sy werk sou toespits. Hy is immers aangestel om namens die kerk te help om die weduwees te versorg.

    Maar toe doen hy veel meer as dit: In die Naam van die kerk se Here loop hy die Jode trompop. En toe hy voor die Joodse Raad gesleep word, gebruik hy die geleentheid om hul valsheid te ont­bloot en hul vormgodsdiens te ontmasker. Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie (v. 53).

    Allawêreld. Dis geen wonder dat hulle toe blitsig van Stefanus ontslae geraak het nie. Doodgegooi. Hom en sy skrynende vrae onder klippe begrawe.

    Nee, dit is ook nie lekker om reeds hier aan die begin van die jaar met klipharde vrae oor godsdiens gekonfronteer te word nie. Stefanus se skerp aantygings teen die Jode vlek ook kwessies oop wat alle gelowige mense raak wat hier lees – dinge soos egtheid en opregtheid, toewyding en gehoorsaamheid.

    Dit vra ook: Watter god dien jý? Jou Here of jou self? Is die mak­like Here, Here van jou mond en die Almagtige God van jou voorvaders werklik die Vader van Jesus Christus die Regverdige? En hoe gemaklik pas ’n klip in jou hande? Kortom: Weet jy wie is hierdie julle op wie Stefanus so skel?

    ____________________

    Leer my, Here, om in hierdie jaar my motiewe voor U te ondersoek. Om my eie hart te ken.

    Saterdag 5 JANUARIE 2019            Lees Jeremia 31:7-14

    ’n Dans vir die nuwe jaar

    Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans (v. 13).

    Hier’s nou ’n ding: Kyk net hoe glinster die manne se oë! Wie van hulle sal dan nie dadelik opspring vir ’n dans saam met die jong meisies nie! (Die ou manne sal wel later die skade aan hul knieë en rug – en ego – bereken …)

    Maar dit is ’n blydskapdans dié, want God is groot en goed. Hy belowe om Israel se ballingskaptrane in ’n lofgesang te verander. Hy sal die verstrooides bymekaarmaak; Hy sal hulle oppas; Hy sal hulle laat floreer. Sy goedheid sal vir hulle oorgenoeg wees.

    Dit is die God van alle tye wat hier aan die woord is, die troue Bondsgod van weleer. Die Here wat vandag en môre dieselfde is, en tot in ewigheid.

    En, ja, die tye en die omstandighede en die spesifieke be­son­derhede mag wel verander het. Maar die God wat sy mense in sy hande hou? Nooit. Steeds is Hy die Bevryder, die Oppasser, die Gewer. Die Gelykmaker van harde paaie, die Handevatter van die blindes en kreupeles, die Verloskundige van hulle wat moeilik die lewe skenk aan al die verwagtings wat van hulle gekoester word. Sy beloftes, soos sy genade, is vir hulle genoeg.

    Én, hoor hier, Hy is toe ook die Musiekmaker, die Aanvoerder van die vrolikheid. Hy bring hulle wat krom loop orent, Hy self trek die ineengedokenes op. Hy is die galante Heer wat die eensame muurblom raaksien, aan die hand neem en saggies en teer deur die dansende menigte stuur. Hy is die Here van die dans.

    ____________________

    Here, hou my styf vas wanneer U my om die lyf het! Help my om die musiek te hoor, om die ritme te volg. Om van pure lekkerkry saam te sing.

    Sondag 6 JANUARIE 2019            Lees Jesaja 60:1-6

    Skyn!

    Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v. 1).

    Dit is nie ’n onbekende beeld vir gelowiges nie, dié van die lig wat hulle ontvang het en waarmee hulle nou hul wêreld moet verlig. Jesus gebruik dit ook in sy groot preek op die berg waar Hy aan sy volgelinge sê hulle is die lig vir die wêreld (vgl. Matt 5:14-16).

    Paulus sluit later hierby aan en sê mense wat deur God verander is, moet lewe as mense van die lig (Ef 5:8).

    Veel later sou kinders ’n Hallelujaliedjie leer wat hulle aanspoor om te skyn, selfs al is dit maar effentjies. So skraps soos jy in jou klein hoekie, en ek in myn’ .

    Aan Jerusalem word belowe dat die donker dae verby is. Dat die Here se teenwoordigheid die duisternis verdryf het en ’n nuwe dag gekom het. En, soos motte na ’n kers, word almal nou na dié lig gelok: nasies en konings, seuns en dogters, rykdom en roem.

    So gee die Here alles wat nodig is aan hierdie eens verwoeste stad. En al wat gevra word, is: Laat skyn nou die lig wat jy ontvang het! Leef uit wat die Here jou gegee het. Wéés wat jy deur sy genade geword het. En kyk dan wat gebeur …

    Jesaja 60 bruis van belofte, van troos. Gelowiges kan dit gerus oorweeg om dit meer dikwels te lees en só te leer van die Here van alle tye. Sodat hulle in tye soos dié weer bewus kan word van Hom wat lig gee, wat Lig is. Die Een wat ’n skynbaar nimmereindigende donkerte verjaag.

    Hy wat alles gegee het sodat sy kinders in die lig van sy gawes kan leef.

    ____________________

    U is my Lig. Laat my tog skyn, skyn, skyn!

    Maandag 7 JANUARIE 2019            Lees Efesiërs 4:17–5:1

    Anders

    Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het … (v. 22).

    Dit is die kern van Paulus se pleidooi aan die gemeentemense in Efese: Julle is nou anders, omdat Christus julle anders gemaak het. Gaan lewe dus nou ánders. Anders as vroeër, anders as die heidene.

    Dit is nie maklik nie. Andersheid is om vreemd te wees. Anders­heid laat jou uitstaan, dit maak jou sigbaar. Nou sien mense jou raak, en hulle hou nie noodwendig van wat hulle sien nie. Want andersheid ontlok agterdog, selfs argwaan. Dalk ook jaloesie: Wie dink hy is hý? Dink sy dat sy beter is as ons?

    Die hartseer is dat laasgenoemde beskuldigings dikwels meer as ’n greintjie waarheid bevat. Mense wat in gehoorsaamheid anders begin lewe, is soms alte bewus van hierdie andersheid. En straks eerder trots daarop as dankbaar daarvoor. Dan bekyk hulle hul medemens deur ’n nuwe bril, eensklaps vol afkeuring. Leer hulle teregwysende taal aan. Help hulle graag ander mense reg en sê: Nie dat ons hulle veroordeel nie, maar …

    En so verloën gelowiges wat opgeroep word om anders te lewe die eerste beginsel van hul andersheid: Dit is Christus wat hulle anders gemaak het. Hul andersheid is nie ’n uitvloeisel van hul eie goeie keuses nie; dit is die genadige gevolg van God se harde werk in hul lewe.

    Daarom beklemtoon Paulus hier nederige solidariteit: Ons is lede van dieselfde liggaam (v. 25); wees goedgesind en hartlik teen­oor mekaar (v. 32). Sien, mense wat nou anders is, onthou hoe hulle vroeër was. En hoe onmoontlik dit is om sélf anders te word.

    Hulle weet maar te goed wat dit hul Verlosser gekos het. En wat sy houding is teenoor diegene wat steeds vasgevang in eenders­heid lewe.

    ____________________

    Herinner my gereeld, Here, aan waar ek vandaan kom. Wat ek nou is, is net genade.

    Dinsdag 8 JANUARIE 2019            Lees Efesiërs 5:15-20

    Soek-soek

    Wees baie versigtig hoe julle lewe … soos verstandiges (v. 15).

    Ons lewe in ’n goddelose tyd, skryf Paulus amper twee duisend jaar gelede. Ook maar goed hy sien nie wat deesdae gebeur nie …

    As deel van sy uitgebreide vermaning dat diegene wat deur Christus verander is ook anders moet lewe, as mense van die lig (v. 8) moet lewe, voeg hy by: Maak die beste gebruik van elke ge­leentheid … (v. 16). Of, soos in die 1933/53-vertaling: koop die tyd uit. Carpe diem, sou die ou Romeine sê. Gryp die dag!

    Dit klink gevaarlik naby aan ’n selfweerspreking: Eers maan Paulus die Efese-gelowiges om baie versigtig te lewe (nougeset, lui die 1933/53-vertaling), maar moedig hulle daarna aan om elke geleentheid aan te gryp. Pasop … én gryp! Keer … én kom!

    Hoe verduidelik jy dit aan jouself?

    Seker maar soos dit met elke Bybelse uitspraak die geval is: soos ’n verstandige mens. Met die gawe van goeie oordeel wat die Here aan sy kinders gee. Met die vaste voorneme om die dinge te onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:10).

    Dán sal jy weet – of ten minste begin leer – om in alle om­stan­dighede die Here se wil vir jou lewe te soek. Jy leer dat dit inderdaad ’n soektog is, ’n gedurige gevra: Is ek op die regte pad, Here? Hou ek nog die koers wat U vir my in gedagte het?

    Dan begin jy agterkom waar om te vat en waar om te los. Jy leer die kosbare kuns van tydsberekening aan. Jy gryp nie meer wat voorkom nie; jy neem dit wat Hy aan jou gee gretig aan. Jy leer om ja te sê, en nee. Jy doen dinge wat by die Here se begenadigdes pas; die res leer jy af.

    ____________________

    Net by U, Here, leer ek. Maak my ’n toegewyde, blymoedige student.

    Woensdag 9 JANUARIE 2019            Lees Numeri 24:15-19

    Nuutgemaak

    … die openbaring aan ’n man wie se oë geopen is … wat die woorde van God hoor, wat sy kennis ontvang het van die Allerhoogste … (v. 15-16).

    Bileam. Dit is die man wat hier aan die woord kom. Getroue Bybel­lesers sal verskoon word as hulle maar half teësinnig na dié man luister; hy is immers die een wat sy donkie so geslaan het dat dié luidkeels geprotesteer het (vgl. Num 22:22-35).

    Maar donkieslaners is net mense … Wat om verskoning kan vra (vgl. Num 22:34) en wat opnuut deur die Here in diens geneem word (vgl. Num 22:35) en wat dan, soos die Here hulle voorsê, op ’n ander manier begin optree.

    Én anders praat as wat hulle gewoond was om te praat. Tot die ontsteltenis van diegene wat daarop staatmaak dat die óú Bileam aan die woord kom. Die ontevrede Balak skel op Bileam: Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, en jy het hulle nou al drie keer geseën. Maak dat jy wegkom … (Num 24:10-11).

    Só gaan dit maar met mense wat ’n ontmoeting (al was dit ook ’n hartseer konfrontasie) met die Here gehad het: Hulle is nie meer dieselfde mense as voorheen nie. En dikwels betaal hulle ook die prys daarvoor. Dit is nie goedkoop om die Here te gehoorsaam nie.

    Maar hulle weet dat hul oë nou geopen is, dat hulle daarom anders kyk. Dat hul woorde van God kom, en dat hulle daarom anders praat. En omdat hul kennis van Bo kom, weet hulle hoe om hier onder te lewe.

    Ja, Bileam sien nou wat hy nooit kon droom om te sien nie, en vreesloos verkondig hy dit. So gaan dit met mense met wie God aan die werk is.

    ____________________

    Ook met my hou U nooit op nie, Here. Soms maak dit my moeg – maar altyd, áltyd bly.

    Donderdag 10 JANUARIE 2019            Lees Psalm 29

    Die Here se stem

    Die stem van die Here weerklink … (v. 3).

    Die ander gode raas en blaas, maar wanneer die magtige stem van die Here weerklink, gebeur dinge. En dit gebeur gróót! Die see en die berge en die hemelruim getuig hiervan. Vir almal om te sien en te hoor en hulle te verwonder.

    Die Here se kinders ken Hom so. Hulle weet hoe Hy klink. Daar­om sal hulle mekaar op berge en in dale en oral troos en sê: Sien jy daar? Hoor julle dit? Wees bly. Want dit is die Here wat daar praat.

    Hierdie uitbundige psalm laat die gelowiges hul ore spits en oë fokus. Om beter te kan hoor hoe die Here klink, om beter te kan sien hoe Hy werk. Sodat hulle te midde van hierdie wêreld se gedruis hul Here se stem van die res kan onderskei.

    Dit is goed so. Want deur die eeue het dit dikwels, selfs vir die Here se mees oplettende kinders, geklink asof Hy begin swyg. Hulle sal soms selfs vra: Hoekom bly U dan stil? Het U bes gegee met u wêreld? Tree U terug? Wat gaan dan van ons word, u kinders wat so deur die ander stemme oorweldig word? Ons wat dikwels daardeur aangelok, selfs meegesleur word?

    Daarom is hierdie pêrel van ’n psalm ’n glinsterende herinnering aan die Stem wat bo alle stemme uitstyg. Wat verder as elke ander plaaslike geraas reik. Sodat al sy kinders, waar hulle ook al is, Hom kan hoor.

    Nee, dit is selde ’n buldering en nooit ’n geskreeu nie. Dit is wel die onmiskenbare, vaste stem van Hom wat destyds al geselsende geskep het. En van altyd af ook só sy kosbare skepping onderhou en sy geliefde skepsels troos.

    ____________________

    Ek hoor U, Here! Die klank van u stem maak my bly.

    Vrydag 11 JANUARIE 2019            Lees Prediker 2:1-11

    Niks is lekker nie …

    Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? (v. 2).

    Die ou pessimis. Hy kom al van hoofstuk 1 af met hierdie gesug: Alles kom tot niks, niks kan verander nie, alles is ’n gejaag na wind. God het ’n harde taak aan die mens gegee … (Pred 1:13)

    Nou beproef hy plesier – en dit is niks lekker nie. Hy wonder wat sal gebeur as hy begin wyn drink … Verder noem hy op: die groot ondernemings wat hy aangepak het; die tuine wat hy aangelê het; die slawe wat hy versamel het; die rykdom wat hy vergader het; die musiekmakers, die mooi meisies. Hy sê: Ek het my geen plesier ontsê nie (v. 10).

    Maar ook dít – silwer en goud, en wine, women and song – het hom op die lange duur nie bevredig nie. Trouens: In hierdie wêreld bevredig niks nie (v. 11).

    Wat wíl jy dan hê? sal ons hom vra. Ons, wat net kan begeer om bloot ’n fraksie van hierdie welvaart te beleef. Maar Bybellesers sal weet dat daar nooit ’n antwoord kom nie. Die skrywer sal in hierdie trant voortwoed, skoorvoetend toegee dat daar darem vrede en selfs vrolikheid te vinde is. Soms.

    Op dié manier, kla-kla, kopskuddend en meewarig, onoortuig­baar en by voorbaat skepties en dikwels so bitter soos gal, herinner hy ons aan onsself. Aan die manier waarop ons, witbrood onder die arm, die wêreld met ’n frons betrag, en sug. En mor. En nóg wil hê. En die hele tyd vol wrewel rondloop omdat die meetsnoere vir ons nie op ander plekke geval het nie.

    So hou hierdie ou suurpruim vir ons ’n spieël op. En die gesig wat na ons toe terugkyk, is helaas nie mooi nie.

    ____________________

    Goeie Gewer, hou my dankbaar vir alles wat U my so ruimskoots gee, so oorvloedig.

    Saterdag 12 JANUARIE 2019            Lees 1 Korintiërs 2:11-16

    Gees van genade

    Die Gees wat ons ontvang het, is … die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het (v. 12).

    Daar is nogal baie wat ons van God se genade moet weet. On­be­rekenbaar baie. Ja, ons kop is heeltemal te klein en ons gees gans te bekrompe om die volle omvang van die Goddelike genade te begryp. Daarom het ons iets anders nodig om dit te bepaal. Of, beter gesê, iemand anders. Iemand Gans Anders.

    En ons het Hom gekry. Ontvang. Uit God se hart: sy Heilige Gees.

    Dit is hierdie Gees wat ons help om, onder meer, God se genade te verstaan. En Hy het, met respek gesê, ’n groot taak om ons hier­van te leer. Daar is immers soveel wat ons eers moet afleer. Al die genadeloosheid wat ons in hierdie wêreld aantref en self uitstraal, byvoorbeeld. Al die verstokte ongevoeligheid, al die onbetrokke liefdeloosheid. Die meedoënloosheid wat ongesiens in ons hart kom nesskop het.

    Boonop moet die Gees ons van al die voorwaardes verlos wat dikwels eerste in ons kop kom wanneer ons die woord genade hoor. Daardie lysie wat deurlopend só begin: Ás ek so en so maak, dán sal God …

    Dit is hierdie foutiewe inligting wat ons gees met die jare ver­samel het wat God se Gees eers moet verdryf. Dan moet Hy ons, soos kinders, leer wat geskenk (v. 12) beteken, en aanvaar (v. 14). Hy moet ons leer hoeveel onsin (v. 14) ons in ons gees ronddra.

    Hierdie Gees leer ons nuwe waardes (vgl. v. 15), en nou kyk ons ’n tweede keer na hulle wat ons pad kruis. En verwonder ons, soos dit by begenadigdes hoort, aan Hom wat hulle oor ons pad stuur.

    ____________________

    Leer my, o Gees, van God se genoegsame genade. Wys my hoe om dit te vier.

    Sondag 13 JANUARIE 2019            Lees Jesaja 43:1-7

    Naamdraer

    … Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (v. 1).

    Is hierdie klompie teksverse nie dalk, saam met Psalm 23, die bekendste en straks die mees troosvolle gedeelte in die hele Ou Testament nie? Word dit nie in tye van groot seer, swaarkry en selfs die dood aangehaal en geglo nie?

    Sonder twyfel. Bloot by die lees hiervan sal almal saamstem: Met hierdie teks spring ek oor ’n muur, loop ek ’n bende storm.

    Jesaja se trooswoorde aan sy mense in hul angs en vernedering eggo deur die geslagte, tot vandag toe. Ook Christengelowiges eien hulle dit toe – en tereg so. Die Here se waarheid het nie grense nie, dit ken nie tyd en omstandighede nie. Dit vloei oor sy kinders se lewe en gaan lê in hul hart.

    Dit is jammer dat net vers 1 so bekend is, want saam met die volgende ses verse vorm dit ’n allertroostende eenheid. Ja, dit dui spesifieke beloftes vir ’n spesifieke groep mense aan, maar dit ver­klap ook soveel van die Here se hart vir sy kinders, ál sy kinders.

    Deurentyd is daar die klem op herstel, en deurgaans dié refrein: Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ag, en dan hierdie woorde wat geen Godskind genoeg kan hoor nie: Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet … (v. 4).

    Só is God. So was Hy van altyd af, en so sal Hy altyd wees. Hy is begaan oor sy handewerk, Hy waak jaloers oor die lewe wat Hy geskep het. Die Naam wat Hy aan sy seuns en dogters gegee het, laat Hom sonder ophou roep en soek, en verseker: Jy is Myne.

    ____________________

    Dit is my grootste trots, Here, dat ek u Naam dra. En my enigste troos dat ek aan U behoort.

    Maandag 14 JANUARIE 2019            Lees Psalm 106:1-12

    ’n Geskiedenisles

    Ons het gesondig, net soos ons voorvaders … (v. 6).

    Die hele lange Psalm 106 (48 verse lank) bied ’n oorsig van die Ou Israelvolk se geskiedenis. Al die groot en goeie dinge, al die minder groot en minder goeie tye word in herinnering geroep.

    Daar kom egter telkens iets by: Dit word ’n geskiedenisles met ’n verskil.

    ’n Vername verskil. Want die digter sien die Here in elke hoof­stuk van hierdie geskiedenis raak. Hy stip sy rol in elke episode aan. Ent-ent praat hy sommer met Hom. Sê hy dankie dat die Here nie sy voorouers behandel het soos hulle verdien het om behandel te word nie. Loof hy Hom vir sy redding uit ellendige situasies, ten spyte van die volk se halsstarrige verset. Uiteindelik, sê hy, het die volk die Here se beloftes geglo en sy lof besing (v. 12). Uiteindelik.

    Net in die daaropvolgende vers, egter, wat met ’n maar begin, hervat die siklus opnuut: die volk se skandelike gedrag teenoor die Here se liefde; die volk se ongeloof versus die Here se vergifnis. ’n Skynbaar nimmereindigende kringloop …

    Wie is dit tog wat gesê het ons leer net een les uit die geskie­denis en dit is dat ons nooit enigiets uit die geskiedenis leer nie? In Psalm 106 leer ons dit opnuut. Ook in ons eie mense se geskiedenis, én in ons persoonlike verhale. Ons storie met die Here lê mos besaai met ons verbreekte beloftes, ons krokodiltrane, ons gejammer en geasseblief, ons uitgesnikte ek-sal-dit-nooit-weer-doen-nie.

    En om die eerste hoek en draai doen ons weer wat ons wil. Sê ons wat in ons kop opkom. Dink ons soos ons nog altyd gedink het. Ontken ons dat ons aan die Here behoort.

    Ons leer nie.

    ____________________

    Here, tog! Keer my, maak my stil, moet my net nie los nie!

    Dinsdag 15 JANUARIE 2019            Lees Rigters 5:12-21

    Volkslied

    Hou moed! Wees sterk! (v. 21).

    Dit is jammer dat die meeste van ons nie die ou Bybelse Hebreeus magtig is nie. Dink net hoeveel ekstra plesier ons dan uit hierdie lied sou put! Nou moet ons tevrede wees met die verskillende vertalings daarvan. En dikwels is dit so onmusikaal, so poësieloos, dat ons bloot daardeur waad, dikwels worstel. Ag, en soms liefs verby­blaai na iets anders, iets meer opwindends. Minder name, minder on­bekende beelde.

    Dit sal jammer wees. Want selfs in sy vertaalde gedaante is hier­die rigterslied van Debora en Barak vol bemoediging, die ene troos. Bloot ’n vinnige kykie na die name in hierdie lied vertel ’n hele storie – een van dapperheid en heldemoed, maar ook van onbegryplike weifeling. Van mense wat bly wonder of hulle die regte ding doen, en sterre wat uit die hemel tot die stryd toetree.

    Ten slotte sou die vertellers sing-sing uitroep: Moenie moed ver­loor nie! Sou hulle vol oortuiging jubel: Moenie vergeet dat julle die Here se eiendom is nie!

    Mense soos ons – met ’n geskiedenis wat ook deur ’n ver­skei­den­heid halfvergete name bevolk word én deur ’n klomp oorvertelde heldedade wat deesdae al hoe onwaarskynliker klink – óns vermoed reeds dat die helfte ons nog nooit vertel is nie. Dat die waarheid iewers tussen die triomf en die twyfel verskuil lê. Dat die superhelde van weleer ook maar voete van klei gehad het, al is dit deur die jare in alle tale verswyg.

    Ons sal egter goed vaar, skeptisisme en al, om fyn te luister na die luidrugtige volksliedere wat in hierdie tyd aan ons opgedis word. Spits maar die ore, totdat jy iets van God hoor, van sy troos en sy triomf. Dit kan jy goed glo, en by daardie stukkie lied kan jy gerus inval.

    ____________________

    Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees – God regeer!

    Woensdag 16 JANUARIE 2019            Lees Numeri 27:1-11

    Vyf vroue

    Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom (v. 1).

    Dit moes sekerlik moed van hulle gevra het, dié vyf vroue uit die Manassestam. Want dit is eenvoudig nooit gedoen nie. Verbeel jou: vroue wat hulle by die leier aanmeld. Boonop eise stel. Só: Gee vir ons grond … (v. 4).

    Sien, Selofgad het nie seuns gehad nie. Nou is hy dood, en vol­gens die destydse tradisie was hierdie vroulike nakomelinge op niks geregtig nie. Wanneer Moses die grond in die beloofde land uitdeel, is dit vir die manne en die seuns. En as daar slegs dogters in die familie is, soos hier? Dan is dit nou maar jammer vir hulle …

    Dit is hierteen dat die dogters in verset kom – voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente (v. 2). Nie skroomvallig nie, nie met allerlei kniebuigings en verskonings en askies-dat-ons-lewe nie. Pront. Voor almal. Gee ons wat ons toekom, ons is nie tweedeklasmense nie.

    En Moses, sê die skrywer van die verhaal, het dié saak voor die Here gebring.

    En die Here? Hy is wat Hy is en Hy doen wat Hy doen. En Hy sê vir Moses: Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond … gee (v. 7).

    Hierdie klein insident kan natuurlik ’n hele reeks gesprekke stimuleer: oor vroue en hul regte, oor dapperheid, oor die rol van grond in ’n gemeenskap. Vanselfsprekend ook oor leierskap – staat­kundig én godsdienstig. En, natuurlik, oor God.

    Altyd oor Hom. En wanneer ons met mekaar oor Hom praat, moet ons tog nie té seker van ons saak wees nie. Sodat ons gereed is om verras te word deur sy denke, juis ook in kwessies waaroor ons nooit onbevange dink nie.

    ____________________

    U gedagtes is nie ons gedagtes nie, Here. Vorm ons en maak ons net soos U dit goeddink.

    Donderdag 17 JANUARIE 2019            Lees Jeremia 3:1-5

    Onverklaarbaar

    … jy het geweier om jou te skaam. En nou noem jy My skielik: My vader … (v. 3-4).

    Die skrywer stel die Here aan die woord, die Een wat met trane in sy stem aan sy mense sê: Jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie … (v. 3).

    Sterk woorde. ’n Hartgrondige verwyt. Hoekom doen julle dit, my volk? Hoe het dit dan gebeur dat julle jul liggaam aan die hoog­ste bieër verkoop? Kyk net wat het julle gedoen. Weet julle nie dat julle dit aan My gedoen het nie?

    En dit hou eenvoudig nie op nie! Intussen hou julle julle vroom, maak julle of daar niks verkeerd is nie. Beroep julle julle op die ou dae, op my trou in die verlede. Vra julle, kamma-verbaas: Sal U vir altyd kwaad wees …? (v. 5).

    Ek verstaan dit nie …

    Só kla die Here sy uitverkore kinders aan. Tot vandag toe is dit een van die lewe se onverklaarbaarhede: Godskinders se gebrek aan selfinsig. Wié? Ék? Só vra hulle. Wat het ék dan gedoen?

    Terwyl die waarheid oop en bloot lê, vir almal om te sien. Vir almal, ja, behalwe vir hulleself. En dalk is dít die onverklaar­baarste van alles: die doodluiterse voortsetting van die ellendige gedrag. Te midde van allerlei suikersoet uitsprake en hoogheilige ontken­nings, gaan hierdie bevoorregtes voort om te doen wat hulle wil. Op die grofste moontlike manier.

    Ja, hierdie Jeremiaverse gebruik sterk taal, en boonop uit die Here se mond. Dit laat Bybellesers dalk bloos

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1