Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Koshuis
Koshuis
Koshuis
Ebook242 pages6 hours

Koshuis

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Laat jou terugvoer na die jare van inbly-naweke, studentepret, huis-toe-verlang en troospakkies beskuit onder die enkelbed. Koshuis, saamgestel deur Erns Grundling van Elders-faam, bevat heerlike lekkerlees-vertellings, komies, verspot én roerend, oor die koshuislewe – op skool én universiteit, selfs oorsee – deur ’n verskeidenheid bydraers, insluitend reisskrywer Dana Snyman, geliefde Weg!-joernalis en -aanbieder Toast Coetzer, akteur en komediant Schalk Bezuidenhout, Huisgenoot-redakteur Yvonne Beyers, oudredakteur van Die Burger Bun Booyens, bekroonde romansiers Harry Kalmer en Kerneels Breytenbach, skrywers en joernaliste soos Celesté Fritze, Theunis Strydom, Leroux Schoeman, Marnus Hattingh en Pieter van Zyl, en vele meer. Skink ’n koppie koffie, onthou weer die liedjie wat gespeel het toe jy by jou eerste huisdans gesoen is, en laat die jare terugrol!
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateFeb 24, 2019
ISBN9780795801662
Koshuis
Author

Erns Grundling

Erns Grundling is ’n TV-aanbieder (Via Weg! Agterpaaie), radio-omroeper (Bush Radio The Unhappy Hour) en veelbekroonde reisjoernalis by die uiters gewilde Weg!-tydskrif. Hy het voorheen ook by LitNet, Insig en Huisgenoot gewerk. Hy is oorspronklik van Port Elizabeth en woon in Kaapstad, wanneer hy nie iewers op die lang grondpad ry vir Weg! nie.

Read more from Erns Grundling

Related to Koshuis

Related ebooks

Related articles

Reviews for Koshuis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Koshuis - Erns Grundling

    title

    saamgestel deur

    ERNS GRUNDLING

    Queillerie

    Voorwoord

    deur Erns Grundling

    Laat ek begin met ’n bekentenis: Ek was nooit self in ’n koshuis op skool of universiteit nie.

    Op my grootworddorp, Uitenhage, was my laer- en hoërskool ’n paar minute se fietsry weg van my ouerhuis. Tydens my studentejare in Port Elizabeth en op Stellenbosch het ek privaat loseer.

    Die enkele kere wanneer ek wel in ’n koshuis oornag het, soos tydens ’n rugbytoer op hoërskool of wanneer ek by vriende aan ander universiteite gaan kuier het, tel nie as noemenswaardige koshuiservaring nie.

    Waarom sou ék dan nou juis ’n boek soos hierdie saamstel? Wel, ek geniet nog altyd ’n goeie koshuisstorie, of dit nou snaaks, hartseer of albei is.

    In dié verband wil ek graag twee mense (albei bydraers in hierdie boek) bedank wat my op verskillende maniere inspireer het.

    Meer as ’n dekade gelede het ek een aand in Pinelands in ’n agterplaas by my vriend J.P. du Toit gekuier. Hy het vir my ’n paar herinneringe uit sy koshuisdae vertel. Ek het dit só geniet dat ek reeds toe al aan ’n moontlike boek met koshuisstories begin dink het.

    In die tyd toe Bun Booyens my redakteur by die reistydskrif Weg was, het hy ons redaksiespan dikwels vermaak met boeiende staaltjies uit sy grootwordjare in ’n universiteitskoshuis.

    Toe ek die geleentheid kry om Koshuis saam te stel was my voorneme ’n lekkerleesboek vol staaltjies, herinneringe en oorvertelde stories.

    Kattekwaad, byname, romanse, studentepret, koshuissport (én sports), ontgroening (verkieslik die ligter kant), studietyd, koshuisvaders en -moeders, koshuiskos, ensovoorts, was van die moontlike temas wat ek in my uitnodiging aan bydraers ingesluit het.

    Ek het ook van meet af besluit om bydraes nie net tot universiteitskoshuise te beperk nie. Enige storie, of dit nou in skoolkoshuise of elders sou afspeel, sou vir die boek oorweeg word. Dit moes iets van die koshuislewe vasvang en verkieslik nie fiktief wees nie.

    Om uiteindelik ’n manuskrip met stories deur veertig bydraers saam te stel, was ’n interessante proses. Ek het aanvanklik ’n paar mense self genader. Party het geesdriftig ingestem, terwyl ander eerder voormalige koshuismaats wou beskerm. Sommige mense wou hulself beskerm en nie ou wonde oopkrap nie.

    Dit was gou vir my duidelik dat bitter min mense neutraal of louwarm voel oor hul koshuiservarings. En dat ek beslis nie net stories vol heimwee en nostalgie gaan ontvang nie.

    Ek het in ’n stadium die net ’n bietjie wyer gegooi en ook op sosiale media vir bydraes gevra, spesifiek van die Facebook-groep Lekkerleesboekrak, wat al byna nege duisend lede het. Uit hierdie groep, wat uit geesdriftige boekliefhebbers – beide lesers en skrywers – bestaan, het ek verskeie bydraes ontvang.

    Maar ek wou ook nie die net té wyd gooi nie. Die idee was nooit om ’n knuppeldik boek saam te stel met potensieel honderde staaltjies en herinneringe nie. Die boek gee beslis nie voor om een of ander omvattende omnibus van koshuisstories te wees nie.

    Daar is byvoorbeeld sekere epiese staaltjies, soos die een oor ’n sirkusolifant wat dekades gelede ontvoer is deur ’n Stellenbosse manskoshuis, wat ek baie graag in die boek sou wou insluit, maar nie ontvang het nie. Maar dit is ’n storie (of ’n boek) vir ’n ander dag.

    Dit was wel vir my belangrik om so ver as moontlik ’n gevarieerde en verteenwoordigende blik op die koshuiservaring te gee. Koshuis se bydraers wissel van bejaardes tot onlangs gegradueerdes, sowat ’n derde van hulle vroue. Die feit dat daar nie meer swart of bruin bydraers is nie, is veelseggend van Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis en wie kan (of kon) bekostig om koshuis toe te gaan.

    Uiteindelik het ek ’n heerlike verskeidenheid stories ontvang van koshuisherinneringe – op skool en universiteit – van oraloor die land (en selfs in Londen). Die uiteenlopende temas en vars perspektiewe het my verras.

    Veral poetse bak, kattekwaad en eksentrieke karakters kom in verskeie stories voor. Spoke maak ook meer as een verskyning. Ontgroening word uit verskeie hoeke bekyk.

    Ja, daar is heelwat stories vol humor en nostalgie, maar ook ander wat jou winduit slaan en gou laat besef dat die koshuislewe nie vir almal is nie.

    Baie dankie aan my uitgewer, Hester Carstens by Queillerie, wat van die begin af in die boek geglo het en my voortdurend op koers gehou het. Dankie aan Janita Holtzhausen vir die keurige redigering en Sophia van Taak vir die proefleeswerk.

    Laastens ’n groot dankie aan elkeen van die veertig bydraers. Sonder julle stories sou hierdie boek nog steeds net ’n gedagte gewees het.

    Ek hoop van harte dat Koshuis vir baie mense plesier én stof tot nadenke sal bied. Mag dit vir lesers wat self in die koshuis was ook herinneringe oor hul eie ervarings help opdiep.

    En mag die boek vir diegene – soos ek – wat nooit self in een was nie, ’n betekenisvolle blik bied op die vele fassinerende aspekte van die koshuislewe.

    ’n Klein kind in ’n groot koshuis

    deur Bun Booyens

    Ek was ses jaar oud toe my pa die inwonende hoof van ’n studentekoshuis op Stellenbosch geword het. Op daardie dag in Januarie 1966 het ek en my broer, twee jaar ouer as ek, by die hoof se huis op die koshuis se hoek ingehardloop en van vertrek tot vertrek gedraf. Ons kon nie glo hoe groot die plek is nie.

    Eers ’n paar dae later, nadat die studente aangekom het, het ek opgelet dat my pa se nuwe studeerkamer ’n tweede deur het. Ek het dit oopgestoot en daar voor my uitgestrek was die langste gang wat ek in my lewe gesien het. Die houtblokkiesvloer het al hoe donkerder en dunner geraak in die verte ondertoe. Ek het in die gang af begin stap en na die nommers op die deure gekyk. Een, drie, vyf …

    By kamer nege, halfpad in die gang af, is ek regs op met ’n stel groen trappe. Op die balkon op die tweede verdieping het ek my eerste paar studente gesien, ’n stuk of ses, sewe van hulle gehurk op die sementvloer rondom die grootste Scalextric-baan wat ek nog gesien het, besig om resies te jaag met daardie klein elektriese karretjies.

    Hulle het hulle nie juis aan my gesteur nie. Oral het koffiebekers gestaan en daar het ’n paar pakkies sigarette rondgelê. Eenkant het ’n transistorradio gespeel, maar dit was nie op die Afrikaanse diens nie. Dit was die eerste keer dat ek besef het dat daar meer as een stasie op ’n radio is.

    Ná ’n rukkie het ek opgestap na die derde verdieping. Aan die voorkant van die koshuis, by kamer honderd en dertien of honderd en vyftien, het musiek kliphard gespeel – ’n soort wat ek nog nie voorheen gehoor het nie en nooit weer sou vergeet nie: Just let me hear some of that rock ’n roll music / Any old way you choose it …

    Ek het by die kamer ingeloer en vir die student daar gevra wie sing so. Hy het die klank effens sagter gedraai. Die Beatles, het hy gesê en ’n geel langspeelplaat se omslag met vier gesigte daarop vir my gewys. My avontuur in die koshuis het begin. My kinderdae sou nooit weer dieselfde wees nie.

    Vir die volgende paar weke het ek die studente op ’n veilige afstand dopgehou. Die eerste persoon wat ek op die naam leer ken het, was William Hiles – ou Hiles, die koshuis se tuinier, ’n man van seker om en by sestig jaar oud wat omtrent alles geplant het wat in die beginjare om die koshuis wortel geskiet het.

    Ou Hiles was tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe skaars twintig jaar in die verlede, ’n lid van die South African Native Military Corps tydens die offensief by Tobroek in Noord-Afrika, en hy het daardie militêre paraatheid saam met hom koshuis toe gebring en met mening oorgedra aan die kombuis- en skoonmaakmense.

    As dinge oor die naweek ’n bietjie te geil gegaan het – en veral as die kombuiswerkers se opkoms by die kerk die Sondag nie na wense was nie – het ou Hiles hulle die Maandagoggend man en muis in drie geledere in die klein vierkantjie buite die kombuis laat aantree en hulle laat dril dat die sweet hulle aftap. Selfs die twee sjefs, David Davids en John Brown, met hul lang wit sjefhoedens, moes saam marsjeer.

    Soms het ou Hiles sy kombuispeloton in die koshuis se groot vierkant laat aantree en presisie-drilvertonings vir die studente gegee, met besems as gewere.

    Ek het probeer luister wanneer die studente met ou Hiles gesels. Hy het vertel van Tobroek, die woestyn, die kanonne, die Duitse lugaanvalle, die mense met bomskok. Hy en die ander bruin soldate se werk was om ná ’n veldslag die lyke met draagbare te gaan haal. Daarná moes hulle teruggaan met rottangmandjies om die hande, arms en bene wat nog rondlê op te tel.

    Die eintlike leiersfiguur in daardie vroeë jare was die koshuis se eerste hoofmatrone, mevrou Van der Nest. Ek weet nie wat haar voornaam was nie. Ek twyfel of iemand geweet het. Sy was bloot bekend as Veggeneraal Van der Nest en het ’n ysere dissipline in die kombuis, in die eetsaal en op die omringende terrein gehandhaaf.

    Die studente het ’n heilige ontsag vir haar gehad. Jy het met das en baadjie kom eet en jy het jou in die eetsaal gedra. Net een student – ek het nou sy naam vergeet – kon dit een oggend regkry om sonder ’n das en baadjie verby Veggeneraal Van der Nest tot in die eetsaal te vorder. Dié ou het verslaap en was laat vir ’n agtuurklas en het met net sy kamerjas aan (en niks onder dit nie) eetsaal toe gedraf, met die jas se pante wat rondflap … reguit in Van der Nest vas, waar sy op haar pos by die deur gestaan het. Sy vertelling ná die tyd: Toe die Veggeneraal eers my geheime wapen sien, toe laat sy my in!

    Ek kon nie wag om smiddae ná skool terug huis toe te kom nie, want daar was altyd iets aan die gang by die koshuis. Jy kom daar aan en sien hoe een van die ingenieurstudente onder luide toejuiging ’n enorme waterstofballon in die vierkant loslaat. Onder in die fietshokke was daar bedags en saans ’n paar studente aan ’t werskaf om die enigste vier of vyf karre in die koshuis aan die loop te hou. Ek onthou ’n Simca, ’n Saab, ’n Ford Anglia en dalk ’n Renault. Wanneer al vier op dreef was, kon ek skelm inklim en saamry terwyl hulle gaan dice het op die Polkadraaipad met sy gevreesde haarnaalddraai. (Veral die Anglia het daar goed gevaar.)

    Daar in die fietshokke by die motormanne het ek ook leer vloek, ofskoon ek dit nie dadelik besef het nie. Ek het gedog die f-woord is ’n effens sterker weergawe van lekker. Een aand aan tafel het ek vir my oudste broer gesê: Gee daar vir my die fokken jam, Boeta. Daar was ’n geskokte stilte. My pa was nie ’n man vir lyfstraf nie, maar dit was nogal ’n goeie pak slae wat ek daai aand gekry het.

    Ek onthou drie insidente uit die 1960’s wat die koshuis se vrolike luim verbreek het. Wilmer Muller se doodsval was die eerste werklike krisis wat my pa as koshuisvader moes hanteer. Wilmer se kamer was op die derde verdieping en hy was bekend vir die behendige wyse waarop hy middae sit-sit op die trapreling ondertoe gegly het om by die koffiekan op die grasperk in die vierkant te gaan sit en gesels. Op dié dag het hy sy balans verloor net toe hy op die reling gaan sit, agteroor gekantel en drie verdiepings ondertoe geval. Eintlik drie en half, want hy het heel onder op die fietshokke se teëlvloer geland.

    Daar het hulle Wilmer opgetel. Sy slap liggaam is haastig op een van Veggeneraal Van der Nest se kostrollies gelaai en ’n fikse student met die naam Koos Jokkel het hom op ’n drafstap hospitaal toe gestoot, skuins oorkant die pad.

    Die boodskap wat by my pa uitgekom het, was dat Wilmer nie die paal gaan haal nie. Ons het die ergste gevrees. Dit was ’n somber dag. Die volgende oggend het my pa sy donker pak klere aangetrek en is hy vroeg eetsaal toe om die mense te gaan voorberei op die slegte nuus wat noodwendig sou kom.

    Groot was sy verbasing toe hy vir Wilmer springlewendig in sy kamerjas aan die ontbyttafel sien sit. Hy het gedurende die nag sy bewussyn herwin en homself uit die hospitaal ontslaan. ’n Dokter het later vertel dat Wilmer waarskynlik oorleef het omdat hy met die agteroorvalslag sy kop teen die trapreling gestamp het en toe bewusteloos soos ’n sak patats na onder geval het. Jy kon die verligting tot in die koshuis se fondamente voel.

    ’n Tweede probleem was om die draai. Daar was destyds ’n Europese uitruilstudent in die koshuis. Kom ons noem hom net Fritz. Ek onthou hom as ’n ernstige, humorlose man. Formeel en selfs effe somber, moontlik Katoliek.

    Laat in die jaar, kort voordat Fritz met die Union Castle of een van daardie passasierskepe terug Europa toe sou vaar, het ’n paar van sy koshuismaats vir hom gesê hy kan beslis nie weggaan sonder om ten minste darem ’n bier in Tollies in die ou Coetzenburg Hotel te gaan drink nie. En dan moet hy dinge afrond deur na Wilgenhof-koshuis toe te stap en Bekfluitjie! daar te gaan skree (iets wat vergeld word, sou die Wilgenhoffers jou vang).

    Fritz is toe inderdaad Tollies toe, waar die aand ’n loop van sy eie begin neem het. Volgens oorlewering het hy later die nag vol bravade tot in Victoriastraat gestap, buite Wilgenhof gaan staan, hom in die verkeerde rigting gedraai, Bekfluitjie! na die verlate administrasiegebou gebulder en toe oor die pad gevlug … reguit in Wilgenhof se binnehof in.

    Die res van die verhaal het my pa in die dae daarna stuk-stuk gehoor en soos ’n legkaart inmekaar gesit. In Wilgenhof se binneplein het daar ’n bakkie gestaan, tot boordens toe vol met ’n serenadegroep (dalk die Kraaie, dié koshuis se befaamde sangers?). Die deur was oop, die enjin het geluier en die bestuurder – so sou ons later met ’n omdraai hoor – het net gou teruggedraf na sy kamer om sy pyp en twak te gaan haal.

    Fritz, wat nié behoorlik kon kar bestuur nie, het in blinde paniek in die bakkie gespring en weggetrek, uit by Wilgenhof se hek en op in Victoriastraat, met die serenadegroep al singende agterop, onbewus van wie agter die stuur sit.

    Die bakkie het vinnig spoed vermeerder. Daar is vertel dat die eerste sangstemme begin stil raak het toe die bakkie bo by Dagbreek verby is. By Sonop het die meeste van die sangers begin besef daar is iewers ’n groot skroef los en heel bo by Irene was dit vir almal duidelik dat die bestuurder nie van plan is om by die T-aansluiting met Cluverweg te stop nie.

    Fritz is op volle vaart oor die stopstraat. Hy het deur die Jan Marais-park se hoofhek gebars en ’n ent verder teen ’n denneboom gebots. Die slag van die ongeluk het my dié nag in my kamer wakker gemaak, sowat vyf honderd meter van die toneel af.

    Na wat verneem is, was die park met lede van die serenadegroep besaai. Fritz het ’n harde hou teen die kop gekry en sy neus is gebreek, maar hy was in staat om te voet van die toneel te vlug, terug na ons koshuis toe.

    Daar word vertel dat toe die polisie opdaag, die sangers geen inligting oor die bestuurder wou verskaf nie. Hulle het gevoel hulle moet hul man beskerm. Groot was hul verbasing toe hulle hom later die nag ongedeerd by hul koshuis aantref.

    Ek vermoed my pa het die situasie diskreet iewers aan iemand by die universiteit se bestuur gaan verduidelik en uitgewys dat dit nogal ’n diplomatieke verleentheid sou afgee as een van die Lae Lande se wakkerste studente in Suid-Afrika moet agterbly vir ’n hofsaak met ’n lang klagstaat.

    Fritz is in ’n kamer in die boonste hoek van die koshuis verpleeg. My ma het gereeld vir hom sop geneem, want hy kon nie vaste kos eet nie. Ek onthou hoe hy met toegeswelde oë daar in die skemer vertrek gelê het tot nadat die akademiese jaar afgesluit is. ’n Week of drie later het ons hom Kaapstad-hawe toe gevat, waar hy met ’n effens skewe neus terug Europa toe gevaar het.

    Die grootste gebeurtenis van 1966 op kampus was toe Bobby Kennedy, jonger broer van die vermoorde president John F. Kennedy, Stellenbosch kom besoek het en by die koshuis langs ons kom middagete eet het. (Daar is gespot dat hy heimlik by ons wou kom eet, maar skrikkerig vir Veggeneraal Van der Nest was.)

    Ek onthou die skok toe Robert Kennedy skaars ’n jaar later geskiet is. Nadat die doodsberig uitgesaai is, was daar ’n dag of twee lank ’n stilte soos ek nog nooit in die koshuis ervaar het nie. Almal het stadiger gestap. Almal het sagter gepraat by die koffiekan.

    In 1967 het die jaarlikse karnavalweek flink afgeskop. Bouwerk aan ons Doctor Zhivago-vlot het goed gevorder. Die reklameset was ook heel verdienstelik. Voor die stadsaal het ons koshuis en die vrouekoshuis Irene hulself met toeters en luidsprekers tot ’n onafhanklike republiek verklaar en toe na Irene vertrek vir verversings, waar hulle ingewag is deur Veggeneraal Van der Nest, toe pas afgetree dog steeds paraat.

    Die eintlike hoogtepunt was egter steeds aan die gang onder in Stellenbosch se hoofstraat voor die Volkskasgebou, waar ’n student, Thomas Hickman, dit op hom geneem het om ’n nuwe Matie-paalsitrekord in die naam van ons koshuis op te stel.

    Die hele struktuur, gebou van hout, seil en metaal, het vier verdiepings hoog gestaan. Thomas het die Maandag tot heel bo op sy klein platform geklouter. Die Dinsdag en Woensdag het glad verloop. Thomas het geduldig bly sit.

    Op die Donderdag 2 Maart het die Suidoos opgesteek, maar die ingenieurstudente wat die paal opgerig het, het gesê daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Thomas is veilig bo in sy klein vesting.

    Hulle was verkeerd. Die Swart Suidoos het om vieruur daardie middag die paal omgewaai, met Thomas steeds op sy pos.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1